Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Laat Jannie en Trompie maar klik

Irene Van Der Walt
My liefste stiefbroer het die naweek gekla dat ek nog nie oor hom geskryf het nie. So Danré, hierdie een is net vir jou.

Dit voel soos gister toe ek gevrees het vir die situasie waarin ek myself sou bevind wanneer my pa in 2020 getrou het.

Ek het vir die troue gekom en kom kuier. Ek wou graag net boekwinkels toe gaan.

Danré was my persoonlike chauffeur vir die duur van my kuiertjie en ek was skaars in die kar of ek wou by die venster uitspring.

“Ek doen nie daardie feminisme ding nie,” sê hy vir my en ek kon voel hoe my spiere styftrek met die hoop dat hy maar net weer geterg het.

Ek en my broer het sommer vinnig ’n gemaklike verhouding met ons jongste stiefboetie gevorm. Ons drie gesels vlot sarkasme en gewiggrappies van die oomblik wat ons hallo sê, tot ons weer koebaai sê.

Die geskertsery is seker maar ons manier om die stilte tussenin te verbreek, omdat ons nie veel anders vir mekaar te sê het nie. Ons waardestelsels en politieke beginsels verskil hemelsbreed.

Ten spyte daarvan kan ek – as die familie se “leftist kind” – ’n kuiertjie by Danré en die meer “right-wing”-familie opreg geniet en waardeer.

Net die wete dat ons mekaar se geselskap kan geniet sonder om te moet praat oor aborsie of inentings of Biden, is goed vir die siel. Die lewe bestaan uit meer as net politiek.

Miskien is hul teenwoordigheid sleg vir my. Dit versterk beslis my droom van ’n wêreld waar ons die mooi in mekaar kan geniet. In ’n wêreld van bykans 8 miljard mense, is ou Biden en Trompie wat albei net weet hoe om te kla, slegs twee mense.

In ’n helaal met ’n radius van 52 850 ligjare, dink ons werklik Jannie Biden en ou Don Trompie se kinderagtige speletjie maak saak? Dink ons ons maak saak? Wat bly oor nadat die swart gat in die middel van die Melkweg ons ingesluk het? Nie ons nie, dit weet ek vir seker.

As nie ek of Danré of selfs die honde gaan oorbly nie, waarvoor ontstel ons onsself en mekaar? Ek skerts eerder die naweek verby met Game of Thrones op die kassie, as wat ek heeltyd op my agterpote moet wees oor dit wat ek graag in die wêreld wil sien.

Ons mag vir mekaar omgee en mekaar geniet en nie wie ons glo ’n persoon moet wees nie. Ek en my jongste stiefbroer is ’n goeie voorbeeld as jy na een soek.

Waarom het ons in elk geval twee Amerikaanse mans die mag gegee om ons in twee te skeur? Ons is nie in Amerika nie. Ons is in Namibië en hier groet ons mekaar en deel ons kos in 20 stukkies sodat elkeen ’n stukkie kan kry, al is dit nie altyd genoeg nie.

Ons lag en skerts en vertrou mekaar, want ons kan mekaar vertrou – ons is eerlik met mekaar. Moet nie die Namibië waarvoor ons so lief is in die hande van buitelanders sit nie – nog minder buitelanders wat nie weet dat ons bestaan nie.

Ons het prag en ’n omgee wat Jannie en Trompie nooit sal ken nie. Dit is ons sin en as ons nie versigtig is nie, gaan dit uitsterf. Ons is meer as ons politieke denke en ons mag dit opsy skuif – veral wanneer dit nie eens ons land se politiek is nie.

Die barmhartige Samaritane wat jou in ’n tyd van nood langs die pad gaan help, gaan beslis nie een van dié twee wees nie. Dit sal hoogs waarskynlik ’n mede-Namibiër wees – koester hulle.

Vir solank as wat ons omgee, lag en terg, kan die twee Amerikaners maar gaan doppies blaas. Ons is wie ons is. Danré is wie hy is en ek is wie ek is. Saam is ons twee teenpole wat tussen die gekskeerdery deur saam Game of Thrones kyk. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!