AnnemarieSchullenbach
AnnemarieSchullenbach

Leierskap vir leke

Plato se woorde eggo steeds
Annemarie Schullenbach
“‘n Lewe wat nie ondersoek word nie, is 'n lewe wat nie werd is om geleef te word nie.”

Dit was die woorde van die Griekse filosoof Plato reeds meer as 400 jaar voor Christus.

Spring 2 400 jaar vorentoe en 'n mens wonder nog steeds waarom dit wil voorkom asof soveel

bekende leiers in die moderne era sinnelose besluite maak wat nie tot voordeel van ál hul

navolgers strek nie.

Volgens Plato is nie almal bestem om leiers te wees nie, omdat leierskap uitsonderlike

vaardighede vereis - naamlik aanleg, vaardigheid, ervaring, en morele en intellektuele

integriteit. Vir Plato is dit krities dat leiers uitsonderlike waardes en kennis het, omdat ware

leiers die konsepte van ‘goed’ en ‘kwaad’ behoorlik moet kan toepas. Hy was oortuig

daarvan dat leierskap in wysheid, eerder as oortuigingsvermoë, gegrond moes wees.

Plato het vier belangrike elemente van leierskap belig:

1. Wysheid – praktiese kennis wat in belang van die samelewing gebruik word – in die

regte manier, op die regte tyd;

2. Moed – om ‘n keuse te maak om reg op te tree, ten spyte van die uitdagings;

3. Selfbeheersing – om in beheer te wees van menslike drange waar die ‘beste’ deel van

‘n mens sy ‘swakste’ deel oorheers;

4. Geregtigheid – waar elke eenheid van die groter geheel hul regmatige rol vervul.

Vir Plato om te beklemtoon dat elkeen hul lewe moet ondersoek, bewys hoe belangrik dit is

dat leiers krities kan besin oor hul eie gedrag en optrede; en kan verstaan hoe hul eie

motiverings en vooroordele hul besluitneming beïnvloed.

Vandag, twee milleniums later, sou Plato se mond waarskynlik oopgehang het as hy

hedendaagse leiers moes waarneem. Hy sou moontlik net sy kop in ongeloof geskud het dat

leiers – met al die hedendaagse kennis en tegnologie – nog steeds teatraal daarin misluk om

produktiewe omgewings te skep. Ons kan vandag steeds Plato se leierskapsmodel in die

moderne besigheidskonteks toepas:

1. Die Timokratiese leier is gefokus op mededinging en reputasie, en word deur eer en

oorwinning gedryf. Dié tipe leiers neig meer tot winsbejag as ‘wyse’ besluite wat

aanleiding tot korrupsie en misbruik kan gee. James Robert Liang is ‘n voorbeeld van

‘n timokratiese leier vir sy rol in die Volkswagen-uitlaatgasseskandaal van 2016.

2. ‘n Oligargiese leier is geldgedrewe - in diens van die rykes, maar ten koste van die

armes. Hulle is dalk uitstekende besigheidsmanne, maar hul onetiese gedrag kom

later aan die lig. Die Suid-Afrikaanse voormalige hoof van Steinhoff, Markus Jooste,

is ‘n voorbeeld.

3. Demokratiese leiers volgens Plato is vryheidgedrewe en gefokus op gelyke regte vir

almal, maar is dikwels onstabiel en sonder selfbeheersing. Politieke leiers wat

rewolusionêre uitsprake maak ten gunste van persoonlike en finansiële vryheid, maar

geen respek vir wet en orde toon nie, kan hier uitgelig word.

4. Die Tiran-leier is magsbehep en lei deur vrees in te boesem, terwyl hulle

buitensporige luukse lewens lei. Só leier sal dié wat hulle aan bewind kan hou,

uitermate vlei; terwyl hulle die uitdagings van die mense wat onder hulle werk,

ignoreer. BP se voormalige hoof, John Browne, word as voorbeeld beskou.

5. Die Filosoof-koning is iemand wat opgelei en gekwalifiseer is om leiding te neem.

Volgens Plato is hulle die leiers wat etiese optrede, wysheid en die waarheid bó

persoonlike gewin kies. Warren Buffet is só ideale leier.

Plato se raad aan sakeondernemings en beleggers vandag? Verstaan wát leiers motiveer; en

bemagtig leiers wat waarheid en wysheid najaag. (Gebaseer op ‘n artikel deur C. Bauman van Regis Universiteit [2019])

*Annemarie Schullenbach is 'n navorsings-, besigheids en bemarkingskonsultant met 'n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private- en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer