Lekker pad lei noord
Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
Normaalweg gee ek nie geld aan straatmense nie. Kortom, hulle steek verniet sagte hande uit voddemoue om ’n geldjie te vra wat hulle nie verdien het nie. Soms gee ek tog – soms soos op Maandagoggend op Britstown.
Sou dit nou “colonial” klink om te sê dat ek “states” toe was? Klink dit beter om te sê dat dit lekker, baie lekker, is om terug te wees in die “Land of the brave”?
Wel, ek is.
Om terug te kom na my Namibië toe moes ons Britstown deur. En dis toe daar by die petrolpompe dat die geldsmous my pad kom teer. Trek mos daar in met die mooi Karoo agter my en Upington se middagson voor my.
En daar kom speel hy vir my op sy selfgemaakte kitaar. Dis South of the Border op die wysie van Ver in die wêreld, Kitty of Ver in die wêreld, Kitty op die wysie van South of the Border. Makiesakie. Hy druk sy kwente so fyntjies met ’n blikkie waarop Rumney’s Snuff staan. Ek kan sweer ek het Dok dié goed vir ’n ander doel sien gebruik.
Dit alles net nadat die bakkie se blêrkassie oomblikke tevore nog Trevor Nasser se musiek oor die vlaktes so wyd soos die Heer se Genade uitgeblaas het.
Nou kan Trevor maar sy goed hou. Die laaitjie met “pa se outydse musiek” kan toe bly, want ek het my lied. Dis ek daar suid van die grens en ek wat ver in die wêreld ry.
En die silwerlinge wat in sy handpalm geval het, was geen afkoopboete of verraad nie.
Dit is deel van die lekker van die grootpad uit die suide by plekke soos Putzonderwater, Kleinbegin en Grootdrink verby. Ja, deesdae spel hulle Putzonderwater met ’n “s” soos ook vir Riviersonderend. Jorg sê die naamsverandering is amptelik aangekondig met die plegtigheid nadat die kerk se toring geverf is. Wie het so klein begin op Kleinbegin? En wie het op Grootdrink in die vat geval? Prost!
Nog sports wag by Nakop en Ariamsvlei se grensposte. Vra mos op Nakop ’n polisieman wanneer laas het dit gereën. En met Christelike erns en bedrogloos soos dit ’n diender betaam, sê hy: “Oom, dit reën nie meer hier nie.”
Tussen Nakop en Ariamsvlei styg die kommer met die hitte en by die wete van die vog van die Oranje, snaakse klippe en baie groente wat Cradock se voorboere so mildelik geskenk het en die beheerpos.
Meteoriete?! So sê-vra Nakop se polisieman by die aanskoue van die rots. Dis net om seker te maak dat ek nie sy kultuur-historiese erfenis met ’n Toyota-bakkie wegry nie.
“Nee,” sê ek. “Klip, gewone ysterklip.”
En ek is daar ’n verligte kolletjie binne om my paspoort te laat stamp en afskeid te neem van ’n beswaarde buurman. Daar torring ’n doeaneman al aan my sweterige hemp. Dis die wyn.
“Betaal sal jy betaal,” sê hy.
Ek beaam en die moontlikheid van stry vat pad. Sou ek op die wyn betaal, kan die res van die onskuldige vrag dalk deur. Drank verdra nie onreg nie.
Uiteindelik kry ek die vrou daarbuite in drukke gesprek met ’n ongelowige. So ’n pampoen het hy nog nie in sy lewe gesien nie. En sy vertel en sy brei uit terwyl hy in ongeloof bly staan dat dieselfde dorre aarde waarop sy warm voete staan iewers ook so in oorvloed kan gee. Dit laat sy oë draai soos die keer toe die weerligstraal Twiggy getref en sy draadbinnegoed laat “short” het.
Op Karasburg skei net ’n teerpad twee strydende faksies oor waar ’n moeë reisiger eintlik sy brandstof moet kom tap. By die oorkantste pomp sing vroue in ’n koor. En die man wat die petrol vir my skink, vorm so ’n elke dan en wan net ’n eggo-koor.
Die lekkerste van ’n vakansie in Suid-Afrika is om terug te wees in ons eie Namibië. – 7 April 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie