Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Lesse wat jy leer op soek na jou eie plekkie

Iréne-Mari van der Walt
Dit is nogal insiggewend dat elke tweede film en boek oor die soeke na identiteit gaan. Of dit nou Sylvia Plath se Esther Greenwood is en of dit nou niefiksie is wat jou kwansuis ’n padkaart na jouself sal gee; dit is nie moeilik om te vind nie, al is jy nie eens op soek daarna nie.

Ek het jare lank myself in ’n vriendskap gevind wat ek sedert my tienerjare opgebou het.

Dit was tog te vleiend dat iemand só intelligent en bekwaam soos my beste vriend, my goed genoeg geag het om tyd saam met my te spandeer. En hulle het vir ’n ongelooflike ses jaar juis dít gedoen, maar toe tref die seer.

Ek het altyd geweet die glans van ’n beter weergawe van jouself kon nie sonder seerkry of ongemak gaan nie en vir ses jaar lank het ek stilletjies gewag vir die ander skoen om te val. Maar hoe langer ek daarvoor gewag het, hoe stiller het my angs oor hierdie vriendskap geword.

Soms het ek myself geflous en geglo dat dit nooit sou gebeur nie, maar een Sondagmiddag het dit.

Ek dink nie dit is nodig om die gru-details in die media aan te haal nie, maar waar ek sit, is dit waarskynlik die einde van ’n vriendskap en daarmee kom een van my gunsteling eras tot ’n einde.

Natuurlik hoop ek nog in my binneste dat my ou vriend hul trots sal sluk en ’n reddingsboei na my kant toe sal gooi, maar ek kan seker nie dinge verwag wat ek self nie sal doen nie. Selfs al gebeur dit, dink ek nie ons sal ooit weer dieselfde hegte vriendskap deel nie. En so sit ek maar hier en peins oor ses jaar se lesse wat geleer is.

Ek dink die belangrikste les van almal is die een wat ek geleer het toe ek die dag my rug op ons vriendskap gedraai het.

Die vriendskap het later eensydig begin voel. Hoewel jy jouself probeer sus met praatjies oor hoe die ander siel net besig is en jy geen reg het om te verwag hul wêreld moet om jou draai nie, kan mens die afskeepgevoelens net vir só lank verdryf.

Oorspronklik het ek ’n paar moeilike stellings daardie kant toe laat val. Dink dit was uit my eie jammerkry uit, maar hoe meer jy dink oor wat gebeur het, hoe meer besef jy dat jy reg was.

Ek verdien beter as ’n halfgebakte vriendskap en mense wat net daar is wanneer dit hulle pas.

Ek verdien beter as iemand wat sê hulle het nie nou die tyd om my te ondersteun nie. Ek verdien beter en jy doen ook.

Jy dink waarskynlik aan iets of iemand wat jy in die omtrek hou uit lojaliteit of liefde, maar elke nou en dan gly die masker met sy gedramatiseerde glimlag net so effens en jy besef jy trek aan die kortste end.

Jy hoef nie met die kortste end tevrede te wees nie. Jy mag vir meer vra en jy mag wegloop en meer iewers anders gaan soek.

Om ’n les te leer was nog altyd pynlik en ongemaklik, maar jy verdien om ’n beter weergawe van jouself te wees en jy verdien mense wat die tyd het om jou te ondersteun, “for better or for worse”.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer