Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Maak dit moeiliker vir die skelms

Dani Booysen
WILLEM DE WET SKRYF:

En daar raak ek bang vir bank!

Hoe in die wêreld is dit moontlik vir swendelaars sonder naam of blaam om 'n elektroniese rekening te kan open sonder om deur al die smart en pyn te gaan waardeur ek as wetsgehoorsame moet gaan om by 'n bank plastiek te kan kry? Die jakkalse maak rekeninge oop en toe soos hulle wil en hulle praat ons, valslik uit die bank se beweerde binnekamers uit, in transaksies in wat die man op straat se ligte laat afgaan en die banke dink dis wiele want hulle jaarstate beïndruk siele.

Ek skuld die bank 'n paar sent en ek sal dink hulle vat dit met oorgawe, maar nee, 'n vent met 'n aksent bel my en begin vrae vra:

Geboortedatum?

ID?

Vrou se naam?

Motor van keuse?

Telefoonnommer?

Nou hoe de ... het jy my gekry????

Straatadres?

Hoeveel Kinders?

En so gaan dit aan.

Askuus meneer, ek skuld jou bank geld en nie julle vir my nie. So ontspan asseblief en los die vrae. Vat net my geld asseblief en kry klaar.

En toe kom die slim vrae.

Rekeningnommer?

Posbus?

Oorspronklike leningsbedrag?

Huidige balans?

Maandelikse premie?

My valstande val in my koffie. Boet! Wil jy my geld hê of nie?

Hoe de hel kry die ouens wat my elke dag bel met die een of ander slim storie om my van my sente te beroof dit reg om 'n rekening te kan open en julle vra hulle definitief nie al die vrae wat ek moet antwoord nie, want hulle kan die helfte nie antwoord nie. Bankbeleid se alie. Ek het 'n lewenslange rekord met julle en julle behandel my soos 'n vreemdeling, maar elke tweede rampokker het 'n rekening en dryf handel in jul naam met geen kontrole of beheer nie. Is dit is reg?

'n Knaap skakel my die ander dag en bely medelye met die afsterf van ma. Hy ken my suster in Israel en my boet in Oshakati, Hy weet hulle bank by 'n ander bank, maar dis oukei. Hy wil my toegooi onder erfgeld, maar ek moet eers 'n klein fooitjie inbetaal in 'n nuwe rekening om die ding lewendig te kry en hy sal my deur die proses help. Ek jaag platkeps na die ATM en die vent vat my deur die proses.

Op die skerm sal meneer nou dit sien. Kies X en dan druk jy dit en dan wys die skerm vir jou dat. En dan maak jy sis en so en op die einde gee jy die pin en jy druk in 3 000 en dan enter jy. Sit die ou in die bank voor 'n skerm? Hoe anders ken hy dan my binnegoed en badkamer, want daar is nie 'n manier hoe hy alles kan sien of droom en dink sonder om die data voor hom op 'n skerm te he nie?

Kan mens nie 'n tracker of iets op die oproepe sit dat dit wys dit is 'n oproep van die bank dat mens kan sien wie jou bel en of dit legit is en of dit 'n scammer is nie? Die vark sit dalk in die bank voor die rekenaar op sy sel en besteel jou in werkstyd, waarvoor jy as die kliënt nog betaal ook.

Hoe kry 'n skelm 'n rekening waarin ek my geld moet oorbetaal en as dit gedoen is, maak hy die rekening toe, koop 'n nuwe selfoonnommer met my geld en maak die volgende rekening oop en besteel die volgende ou? Stop die onwettige goed asseblief en vra die varke dieselfde klomp vrae wat ek gevra word om 'n doodeenvoudige inbetaling aan julle te doen. Ek wat wettiglik wil handel, loop my in 'n boek vol vrae vas en ek vra myself hoe die ou wat my besteel dit so maklik kry?

Beskerm julle kliënte asseblief.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!