Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

'n Nalatenskap is onsterflik

Iréne-Mari van der Walt
Oupas is gemaak om ensiklopedieë van wysheid te wees en my oupa was geen uitsondering nie. Sy raad en dié van sy oudste dogter, my ma, sal vir die res van my lewe ’n lig in my lewe wees.

Ná oupa Tinka se dood is daar onder niggies en nefies gepraat oor lewensdoelwitte, om net die tipe mens te wees wat oupa ons grootgemaak het om te wees.

Eendag lig oupa sy yslike en intimiderende hand, wat deur die Van der Nest-bloed in die familie aangegee is, en hy sê: “My kind, jy is net in kompetisie met jouself. Vergeet van die mense wat alewig kla en die mense wat beter of slegter as jy is, onthou net van jouself.

“Ander mense se kritiek gaan jou nêrens bring nie. Fokus op jouself en kyk jy waar jy kan verbeter en doen dit. Moenie links kyk nie en moenie regs kyk nie – kyk net voor jou. Jy weet waarheen jy op pad is.”

Oupa was van die mening dat bekwame jong mense in enige veld teëspoed sou kry. Die ouer gardes hou nie daarvan dat iemand jonger by hulle ’n plek moet inneem en dit wat hulle vir jare lank al leer moet uitdaag nie.

Ek moet sê, as ek my eweknieë en hul werksondervinding bekyk, sien ek oupa was reg. Oral word jongmense se soeke na verbetering in hul veld kortgeknip deur hul meer ervare kollegas wat skynbaar weier om hul kennis en ondervinding te deel. Dit laat jou nogal wonder hoekom hulle dit sou doen.

My beste teorie is dat hierdie groep mense graag wil bevestig dat hulle deur die loop van hul loopbane ’n impak gemaak het deur te sien hoe alles uitmekaar val wanneer hulle eendag hul hoed ophang en aan die nat agter die ore groep moet oorgee.

Hoekom enigiemand tot sulke uiterstes sou gaan om te sien dat ’n maatskappy of produk waaraan hulle die beste jare van hul lewens gewei het, moet sink – en dit vir hulle ego’s – verstaan ek nie.

As ek terugkyk oor die drie jaar onder my eerste mentor Leandrea Louw, en die twee jaar onder my tweede mentor Otis Daniels, besef ek dat die enigste manier om werklik voort te leef juis is om jou kennis te deel.

Ek hoor tot vandag toe nog die verwysings oor wyle oom Errol en wyle oom Des wat vir wie en wie dit en dat geleer het.

Toe ek My Zone skolekoerante gekoördineer het, kon ek nie genoeg tyd met die leerlinge kry om vir hulle te vertel van liefste Lea se woorde van wysheid wanneer die koerantwerk moeilik raak en Otis se aanmoedigende “Aksie, meisie, ek soek aksie!” asook elke nou en dan se “my oudkollega Lloyd Zandberg het vir my gesê...”

Vier jaar nadat ek my ma aan die dood afgestaan het, weet ek dat sy nie voortleef in die boksie met haar mooimaakgoed wat ek bo my kas hou en weinig afhaal. Ongeveer ’n jaar na Oupa dit tot by mamma gemaak het, leef hy nie net voort in die kiekies wat ons oor die dekades in plakboeke gehou het nie. Hulle leef voort in die kennis en die wysheid wat hulle agtergelos het.

Dit is vir my ’n ongelooflike eer om te verseker dat die grootste name in ons bedryf ná my sal voortleef en my grootste droom is dat my naam ook dalk eendag die inleiding tot ’n brokkie wysheid sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!