No Image Caption

’n Ope brief

ANDRE BOTHA SKRYF:

As ’n wetsgehoorsame inwoner en belastingbetaler van Windhoek maak dit my bitter om toevallig op die Stad Windhoek se webblad af te kom op ’n lys van verkeersboetes wat ek moet betaal. Twee van hierdie boetes dateer uit 2015 and twee ook kort na mekaar wat blykbaar in 2018 aan my uitgemaak is. Ek besoek die verkeersdepartement se kantoor in Essenstraat en kom af op elle lange rye voor drie genommerde glasafskortings. Nommer een is duidelik gemerk “Taxi Registrations”, seker nie daar nie. Die ander een is nie gemerk nie en daar staan ’n bondel mense wat, soos ek, redelik geïrriteerd lyk met die situasie. Lammers wat na die slagpale gelei word, dink ek terwyl ek almal se oë vermy. Nommer drie is gemerk “Warrants of Arrest”. Dis seker die plek waar misdadigers soos ek moet toustaan. Onseker voeg ek myself tot diè veel korter ry, want sien mens wil mos nie openlik soos ’n misdadiger lyk en in daai ry wees nie. Stadig maar seker word die ry korter. Ek skrik toe ’n jong verkeersbeampte kort agter my verbyloop, jy hoor net boeie klingel. Jou hart wil-wil gaan staan, maar jy sit jou onskuldigste gesiggie op en kyk almal aan asof jy vir hulle wil sê: “Ek hoort nie eintlik hier nie, maar die navraagtoonbank se stieker het seker afgeval.”

Uiteindelik is ek voor maar die dame wat moet help, raak skielik vreeslik besig met haar selfoon. Sy sit ook amper aan die ander toonbank se kant en mens moet jou mond deur die vingerbetaste glasgaatjie druk om jou boodskap so vriendelik en kort as moontlik deur te kry, dan draai jy weer jou oor teen die gaatjie om te hoor wat sy te sê het. “Wat is jou ID-nommer?” nadat ek die papier vir haar oor die toonbank gestoot het, terwyl my ID-nommer vier keer onder mekaar verskyn teenoor elke genommerde klagte van openbare wangedrag. “Hulle is nog steeds aktief” en sy stuur die gewraakte uitdrukke na ’n drukker. Nadat sy ’n paar keer probeer het om die drukker aan die gang te kry en een van haar kollegas met nog papier aangehardloop kom, spoeg die drukker vier bladsye uit waarop my heil uitgewerk is. Ek vra toe sommer of my vrou ook op pad tronk toe is, gelukkig nie, so die kinders het darem vanaand kos. My beursie, ID-kaart, papiere ens. skraap ek met bewerige hande nader en skuif dit tot die naaste plek waar ek kan sien of ek my vrou of ’n prokureur eerste sal moet bel. Ek begin soos ’n onskuldige bloedjie die papiere sorteer van oudste tot jongste en soek waar kan ek iets uitmaak wat tot my redding gaan wees. Die amptenaar se laaste woorde was iets soos: “Gaan staan in die ‘ongemerkte’ ry vir die kassiere as jy wil betaal.” Ek besef sy het my ’n wenk gegee en Alcatraz sien my nie vanaand nie en my veters bly op my skoene.

Al vier die kaartjies beweer ek het op ’n dag, datum en tyd die spoedgrens oorskry, met kamera-, bondel- en raampienommer, spoed en asook hoeveel dit my gaan kos. Die gedeelte wat beduie wanneer die arrestasie bevel uitgereik is en vele ander oningevulde plekke gluur my aan. Nou staan ek hier en wonder of dit enigsins my stadiger gaan laat ry as ek agt jaar ná die tyd te wete kom van ’n oortreding? Gaan dit die vrees van ’n paar dae se hardepad laat bly of sal ek in die toekoms maandeliks moet navraag doen of hulle nie dalk geld nodig het nie. My onverskrokke gejaag op die verouderde Windhoekse strate, wat seker in my leeftyd nie rehabilitasie gaan ontvang nie, moet end kry.

Ek kan nie help om te wonder of dit met opset is dat jy niks van hulle hoor nie. My kontakbesonderhede is duidelik op hulle eie dokumentasie maar geen poging is ooit aangewend om my in die hande te kry, in boeie te slaan of ’n les te leer nie. Die beamptes in die ketting van doeltreffende wetstoepassing het ’n paar vermiste skakels, anders het sake vlot verloop. Ek is seker die betrokkenes raak erg onsteld as hulle salaris laat is en eis hulle verhogings jaar na jaar.

“Dit is jou verantwoordelikheid om uit te vind oor uitstaande boetes.” probeer ’n vriend my later troos. “Vir wat?” skree ek amper. “Ek weet nie eens ek is ’n voortvlugtige nie!” “Nee, hulle kan jou nie toesluit as jy nie per geregistreerde pos of persoonlik die kaartjie ontvang het nie,” probeer ’n prokureursvriend. Dit mag dalk so wees, maar as jy op ’n Vrydagmiddag op pad huis toe is, sluit hierdie klomp jou toe tot Maandag voor jy kan poog om jou saak in die hof te beveg. Dit is absurd om te dink ’n verkeerskaartjie onafgelewer en onbetaald, bly tot die oordeelsdag, tensy jy iets doen. Is so aantekening van uitstaande boetes deel van die miljarde wat aan die munisipaliteit geskuld word? Ek het die kaartjies betaal, want vir ryswater sien ek nie kans nie.

Wat is die doel van ’n verkeerskaartjie? Is dit om jou te ontmoedig om vinnig te ry of is dit maar net ’n magspel om hulle begroting te laat klop? Die stelsel is stukkend en mense is onbevoeg; dit maak my boos want hulle het die wet aan hulle kant.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!