Briewe
Briewe

'n Virus vir Kersfees

Mandy Rittmann
PIERRE VAN DER WESTHUIZEN SKRYF:

Die seisoen het op ons afgepyl teen supersoniese spoed. Of so het dit gevoel. Ons hier by die kus sien altyd uit om die besoekers te ontvang, want dis goed vir die ekonomie en mens sien jong mense wat die hele jaar in die gim geoefen het vir spiere en figure. Maar ons weet ook dat al ons verkeerstekens in die slag gaan bly en dat ons in rye sal moet staan in winkels, banke en vir parkeerplekke.

Op die vierde Desember het alle Kersversierings gepryk in die dorp. Die strate was lankal gevee en strepe geverf. Een supermark was soos altyd eerste met hul entoesiasme en het middel Oktober (ek het altyd gewonder hoekom hulle dit weer wegpak want die volgende Oktober is net om die draai, toe besef ek Valentynsdag het ander versierings nodig) al die groen, rooi en goud uitgehaal. Maar hierdie was nie omdat die Springbokke kom speel nie, maar vir Kersfees. Ek het al geleer om brieke aan te sit teen afwagting en verwagting, lg. buiten van die negatiewe soort.

Dit was 18 Desember en my verwagting van die negatiewe soort het geblyk om 'n voorbode te gewees het. 'n Kriewel in die keel drie dae tevore het gou vererger in wat gevoel het soos 'n raspervyl wat elke membraan in 'n rou keel aan't flarde skuur. Van praat was daar geen sprake, van 'n hulpkreet nog minder.

Die volgende twee nagte het verander in hel! Die oomblik as ek gesluk het, wat ek uitgestel het so lank as moontlik, het ek ge-"cringe" van pyn. Ek het getrou vir vier dae mikrobe-doder gespuit elke twee uur en met soutwater gegorrel al om die tweede uur. Elke sluk in my slaap had my wakker en die nagte het getrek in lang ondraaglike swart linte in waarvan jy die begin nie kon kry nie en die end jou nie wou los nie. Maar wat ookal hul ongenooide verblyf in my keel kom vestig het, hul pantser was meer modern en effektief as my gewone regime.

Ek was toe apteker toe. Hy het vir my gesê boetie, jy het antibiotika nodig om jou uit hospitaal en kis te hou. Ek het toe swaar artillerie gekry via 'n veldhospitaal in 'n land wat weet van vyand roer. Ek het myself moedeloos geskrik toe ek sien hoe groot die tien bomme is. Onthou daai Matchbox karretjies waarmee ons as kinders gespeel het? Een tablet was so groot soos hul Kombi-model.

Teen die tyd het die vyand se aanvanklike peloton-grootte vestiging in my keel vermeerder na verskeie bataljonne wat die gevolg gehad het dat hul ingrawings en versperrings so hoog gegroei het dat die buitelug en my longe skaars verbind was. Neem een tablet twee keer 'n dag vir vyf dae ná ete, het die aanwysings gesê. Wat!? Ek kry skaars my eie speeksel of water in my opgeswelde keel deur die gaping (wat so wyd soos 'n Britse pond dik is) bo my tong afwaarts. Twee stukkies fyn hoender was al wat ek kon deurkry deur die slagveld as 'ete' en toe die eerste pil. Ek smeek die pilmakers serdertdien om kleiner eenhede te maak vir dié wat keelontsteking het. Maar met toegeknypte oë en hande styf aan die leuning van 'n stoel het ek die eerste bom gesluk wat met pynlike peristalse maag toe gedruk was. Ek het oos gekyk toe ek sluk, want mens weet nooit waar die hulp vandaan kom nie.

Wetende dat daai eerste pil amper my dood veroorsaak het, het ek besef dat plek vir 'n Kombi daar nie is nie. Ek het tablet nommer 2 in stukkies gebreek, maar met eerste poging met 'n teelepel water het stukkies tablet en water met 'n pynlike verstik op die toonbank geland. Met die besef dat daai Kombi's miljoene soldate bevat wat die pes moet verdryf ter wille van my oorlewing, het ek uiteindelik pil 2 in.

Blykbaar het Covid of Verdomp-it virusse of wat hulle ookal is, hulself toegerus om oornag na bakterieë oor te slaan en menige ander gemene permutasies.

Intussen moes ek steeds nou en dan sluk om te voorkom dat ek myself verdrink. Maar ek het die net gedoen as mense om my gesê het: "Hoekom is jy so blou?"

Teen die derde dag van Kombi's sluk, het ek gevoel dat die onophoudelike salvo's van die alliansie besig was om die vyand te looi en dat dit hulle beurt was om swaar te leef. Of eerder en verkieslik te dooi. Na dag vyf van Die Slag van Kersfeeskeel, kon ek koue of lou vloeistowwe gemaklik oor die slagveld sluk. Die skade van daai oorlog het nog twee weke geen warm, suur, sout of soet verdra nie. Maar ek kon slaap en net na ek kooi toe is, het ek eers in my gedagtes gesien hoe daai mikrobes met hul gemene bedoelings met behulp van medisyne ontplof, gebars, gekrimp of verdwyn het. Ek hou van ontplof die meeste.

Ek weet nou nie of die 'geskenk' deur die "wyse manne uit die Ooste" in hul wit jassies in 'n laboratorium opgetower was nie. Al wat ek wel weet is ek wil volgende Desember géén glad niks ontvang van enige aard nie. Net gesondheid. Dis al.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer