Nee vir geweld
BENNIE BOBEJE SKRYF:
Namibiërs is in ’n oorlog met mekaar gewikkel; ’n gedurige magstryd wat tragies op velkleur, geskiedenis en ander faktore soos geslag, oriëntasie, ouderdom en herkoms gebaseer is.
Hierdie magstryd gee aanleiding tot aggressie en geweld op byna alle fronte en vlakke van die samelewing.
Geweld, direk of passief, bedreig die samehorigheid en morele weefsel van Namibiese gemeenskappe, instellings, gesinne en individue. Hoewel Namibië internasionaal as ’n vredeliewende, stabiele land met ’n bewonderenswaardige grondwet beskou word, word ons nasie deur magsvertoon teen hulle wat as swakkes gereken word, gekenmerk.
Politieke leiers is aggressief teenoor die massas en mekaar. Lede van die polisie en weermag tree ironies gewelddadig op teen gewone landsburgers en selfs teen hul vroulike kollegas en verhoudingsmaats. Gemeenskappe is deurspek van mishandeling, boeliery en teistering in die werkplek en skool, en endemiese geweld en geslagsgeweld. Gesinsgeweld is aan die orde van die dag.
Geweld het normaal geword. Basies is niemand meer veilig in die "land van die dapperes" nie.
Is die daaglikse, brute en sinnelose geweld teen vrouens en kinders, onskuldiges, weerloses, swakkeres, ondergeskiktes en hulle wat van andere verskil dapperheid?
Die wekroep om geweld deur politieke toewyding aan te spreek, kom nou al vir blou jare aan. Namibiërs smeek vir oplossings vir die worteloorsake.
Die oorsake is legio.
Op die histories-politieke vlak was daar prehistoriese invalle, slawerny, kolonialisme, massamoorde, die dopstelsel, rassisme en die grensoorlog. Moreel-geestelik het ons onvergewensgesinde, onverdraagsame politieke leiers en hul simplistiese en opportunistiese, sekularistiese uitkyk op die lewe om teregwysing te ontglip.
Daar is die sielkunde van minder- en meerderwaardigheid; emosionele oorsake soos opgekropte woede, hartseer en die onaangespreekte vrees vir verandering, andersoortigheid en die onbekende; en sosiale oorsake soos alkoholmisbruik, agterlike kulturele praktyke en sosio-ekonomiese verval.
Dit alles geniet bittermin aandag en vererger die groeiende siklusse van geweld en mishandeling wat gemeenskappe in ’n verlammende wurggreep hou.
Die nasie se pleidooie vir ’n waarheid- en versoeningsforum, referendums oor bepaalde aangeleenthede, 'n nasionale versoeningskonferensie, navorsing, insae deur die kerk, grootskaalse sielkundige berading en rehabilitasie, en omvattende ekonomiese ingryping word slim omseil, geïgnoreer, nie ernstig opgeneem en gepriotiseer nie. Die nasie betaal ’n duur prys daarvoor.
Toenemende lewensverlies; die vernietiging van lewens, gesinne en gemeenskappe; minagting en skending van regte, vryhede en menswaardigheid; ongelukkigheid en gebrokenheid; en verlammende armoede, sosiale euwels en volslae wanhoop kom wydverspreid voor. Dit is dus geen verrassing dat die jeug hulle teen die huidige toedrag van sake verset nie. Die nasie is moeg en mat en siek en sat.
Dit is hoog tyd dat daar indringend na geweld uit ’n oorsaak-gevolg perspektief in elke Namibiese konteks gekyk word om blywende oplossings vir die reuse-, nasionale krisis te vind.
Lees 1 Korintiërs 13 oor die liefde en luister ook gerus na “Love can build a bridge” deur Wynonna Judd op YouTube.
Die liefde bedek alles, selfs geweld. Ons kan dit oorwin.
Baklei teen geweld, nie mekaar nie. Die geweldenaar, aggressor, mishandelaar, treiteraar en boelie moet sy denke vernuwe, hulp soek en andere lewe en geluk gun. Die ooggetuie moet namens die slagoffer teen al hierdie oortredings praat. Die slagoffer moet hulp soek, dit aanvaar en nie alleen ly nie. Ons is almal saam in hierdie saak.
Sê nee vir geweld in al sy vorme.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie