Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Nie net ’n plaaslike vraagstuk

Mandy Rittmann
NETWERK NAMIBIë SKRYF:

Standbeelde en monumente dra ’n geslag se geskiedenis oor. Ter wille van die herinnering aan gebeure en persone word dit opgerig. Namibiërs is onlangs gekonfronteer met die spoke van die verlede, wat sommige groepe ontstig. Daar is besluit om sekere standbeelde te verwyder, omdat dit die huidige geslag herinner aan gebeure wat seermaak. Die vraag is: Is dit reg om op so ’n manier ’n streep deur die geskiedenis te probeer trek? Of kan die regte hantering van vroeëre standbeelde, asook nuwes wat opgerig word, nie tot hulp wees in die proses van nasiebou nie?

Die debat oor standbeelde en monumente is egter nie net ’n plaaslike vraagstuk nie. Leopold von Ranke, die vader van geskiedenis as wetenskap, het gesê dat geskiedenis die verlede moet weergee soos dit werklik was. Dit beteken nie dat ons hedendaagse generasie noodwendig saamstem met die dade van die verlede nie, maar ons kan nie ontken dat dit deel is van ons geskiedenis nie. Ons het oor die algemeen ’n gebrekkige kennis van die verlede, wat vrees veroorsaak vir die moontlike geraamtes wat in die kas skuil. ’n Gevolg hiervan is, dat historiese gebeure uit konteks geruk kan word, om dit vir propaganda doeleindes te misbruik.

Alana Bailey van die Afrikaanse Taalraad en AfriForum het in 2020 die volgende aanhalings uit ’n Amerikaanse debat gehaal, wat algemene kommentaar van oraloor die wêreld kan opsom:

“Debat oor standbeelde en monumente lei tot besprekings en weergee van inligting oor die historiese gebeure daaragter. As ’n metaalvoorwerp hierdie leerproses aan die gang kan kry, is dit mos al genoeg rede om dit te behou.

Ongemak is nie genoeg rede om standbeelde af te takel nie. ’n Grootse nasie probeer niks verberg nie, maar maak die verlede juis openbaar om daaroor te herbesin.

Om monumente en standbeelde stelselmatig te verwyder of te beskadig weens die onderwerp wat dit verteenwoordig, is in wese sensuur. Ons moet alle fasette van ons geskiedenis leer ken en daaruit probeer leer. Dis verkeerd om op die relikwieë van die geskiedenis te fokus, pleks van die geskiedenis self.

Die interessante ding van die geskiedenis is dat dit deurentyd verander. Die feite daarvan verander nie, maar ons insig en interpretasie daarvan wel. Standbeelde is deel van die geskiedenis en hul betekenis verander daarmee saam. Ons kan die beskikbare inligting daaroor neem en herinterpreteer om die verlede steeds meer akkuraat te weerspieël. Behou die monumente en standbeelde en gun daardie reg vir elke volgende geslag.

Niemand het die reg om ’n ander se waardes te veroordeel nie ‒ dit gebeur net in ’n diktatuur. Besoek die standbeelde wat jy wil besoek, en ek sal die standbeelde besoek wat ek wil besoek. As ek nie inmeng met jou waardering vir standbeelde wat vir jou van besondere betekenis is nie, moet jy ook nie inmeng met my waardering vir standbeelde wat vir my van besondere betekenis is en wat ek graag wil sien nie. Dít is wat ware vryheid is.”

Verskuiwing en vernietiging is nie tekenend van regstelling en begrip nie, maar wel van onverdraagsaamheid. Enige aksie om geloofwaardigheid aan hierdie soort optrede teen erfenis te gee, lei nie tot vooruitgang en vrede nie, maar skep juis die risiko van verlammende verdeeldheid en geweld.

Ons almal se voorvaders het foute gemaak, maar ook bitter swaar gekry. Niks wat ons vandag het, is goedkoop bekom nie, en juis daarom moet ons hulle huldig, nie as helde of uitvaagsels nie, maar as doodgewone feilbare mense. Aan die verlede kan ons nie veel meer doen as om objektief by die waarheid te hou nie, maar die hede kan ons wel verander en saam werk aan ’n beter toekoms.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer