No Image Caption

Nog raad vir onderwys

BRANDON HAMMOND SKRYF:

In ’n vorige plasing (1 April 2022) het ek vier onderwysgrondbeginsels uitgelig, wat (na my mening) nie behoorlik in ag geneem word nie. Ek het onder meer metafories na hulle verwys as ’n skildery se primêre kleure.

In hierdie skrywe wil ek graag nog twee sulke elementêre beginsels aan die orde stel, wat indien toegepas, ons kan help om die huidige chaos in die onderwys aan te spreek.

LANGTERMYNBEPLANNING

In ’n onlangse televisie-onderhoud het ’n Midde-Oosterse joernalis die Navo-lande oor die kole gehaal vir hul kortsigtigheid, wat meegebring het dat hul nie Vladimir Putin se inval in Oekraïene kon voorsien nie. Volgens hom het hul vyfjarige geopolitieke uitkyk (in teenstelling met die Kremlin s’n wat klaarblyklik oor ’n honderd jaar strek) lelik in hul gesigte ontplof.

Dit wil voorkom asof ons onderwysowerhede ook nie veel verder as vyf jaar vorentoe kyk nie. Een bewys hiervan is dat ons oor die afgelope 30 jaar min of meer elke vyf jaar nuwe benaminge en skakerings gekry het vir die staatsdepartemente gemoeid met onderwys, kuns, kultuur, jeug en sport. Dié portefeuljes is oënskynlik na hartelus saamgevoeg, uitmekaar gehaal, lukraak hergroepeer, in twee gesplits en herenig.

Die vraag ontstaan of dit wys is, as ons skoolkurrikulum oor 12 jaar strek, om vir ’n periode korter as 12 jaar te beplan? Moet ons nie deurentyd die eindproduk in gedagte hou nie? Hoe raadsaam is dit om ’n huis se fondasie te lê sonder die vaagste benul omtrent hoe die voltooide gebou uiteindelik daar moet uitsien?

Stephen Covey maan wyslik: “Always begin with the end in mind.” Enige wedstrydplan moet immers die eindtelling voorop stel en derhalwe moet ons reg vanaf die afskop die telbord stip dophou.

DEPOLITISERING VAN ONDERWYS

Die wisselwerking tussen politiek en onderwys is ’n eeue-oue en sensitiewe aangeleentheid.

Ons gaan dit moeilik stuit. En dit het definitiewe implikasies vir kurrikuluminhoud – ten goede of ten kwade. Dalk is die beste wat ons kan doen, om dit op verantwoordelike en deursigtige wyse te bestuur.

Skoolhandboeke is byvoorbeeld om voor-die-hand-liggende redes kort na onafhanklikwording herskryf. En soos nuwe inligting en metodieke aan die lig kom, moet ons voortdurend ons vakinhoud aanpas te dien einde relevant te bly. Maar om historiese gebeure soos die bloedige skermutselinge tussen PLAN-vryheidsvegters en die SWAGM op 1 April 1989 summier uit ons handboeke weg te laat en daarmee voor te gee dit het nooit plaasgevind nie, is soos om ’n bladsy uit ons geskiedenis te skeur – en dit grens aan historiografiese vandalisme.

Nog ’n politieke euwel waarteen ons gedurigdeur moet waak, is kaderontplooiing. Laasgenoemde behels die onregmatige begunstiging van kandidate op grond van politieke affiliasie, ongeag hul (gebrek aan) kennis, vaardighede, professionele en akademiese kwalifikasies, ervaring en deesdae ook kriminele rekord. Sou ons velkleur en stamgebondenheid hierby betrek, laat dit ons met ’n toksiese konkoksie.

Terloops, grys mag dalk nie my gunsteling kleur wees nie, maar sou die enigste teenmiddel vir ’n lewensgevaarlike virus slegs in ’n grys botteltjie beskikbaar wees, sal dit dwaas wees om die medikasie te weier bloot op grond van my onverdraagsame houding teenoor grys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!