Nuwe spore
Dit is met groot verantwoordelikheidsbesef dat ek my eerste woorde in my nuwe hoedanigheid by UNAM neerpen: vir my is dié rubriek ʼn soort debuut én ek weet elke skryfsel word deel van jou nalatenskap.
Ek is seker nog te jonk om aan nalatenskap te wil dink, maar as jy by jou nuwe kantoor instap, is die reeds vol boekrakke ʼn konkrete getuienis van die diep spore wat jou voorgangers met groot skoene getrap het. Skoene wat ék nou moet volstaan. Die titels spreek self ook van die erfenis wat in 100 jaar deur skrywers, digters en literêre teoretici in Afrikaans gebou is. Dis ʼn intellektuele taal- en kultuurskat wat getuig van ʼn simbiotiese wisselwerking tussen literêre kritici en skrywers. Dis ʼn ekostelsel waarin ek myself nou kan herposisioneer, dankbaar dat Afrikaans steeds ʼn lewende bioom is.
Lewend, maar nie ongeskonde nie. Die littekens van klimaatsverandering lê ook duidelik oor ons taallandskap gesaai. Nes die aarde word dié taalbioom ook deur politieke en kapitalistiese oorwegings bedreig. En nes Greta Thunberg wil ek uitroep: “How dare you!”
Hoe durf julle ons nageslag van hierdie kosbare erfenis beroof!
Maar ek wil ook skree: “I dare you!”
Ek daag jóú uit, leser en spreker van Afrikaans in al sy variante, help bou aan ʼn ark, ʼn biokoepel vir ons taal, koester die fauna en flora van ons literêre erfenis en plant ʼn saadjie vir die nageslag. Net dalk sal die rooiborsduif met ʼn olyftakkie terugkeer en kan ons opvolgers voor nog voller boekrakke staan.
Annika van der Linde Vakgroep Afrikaans Universiteit van Namibië [email protected]
Annika van der Linde Vakgroep Afrikaans Universiteit van Namibië [email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie