Om terug te ry tot in die Windhoek van ouds
Twee onlangse ervarings het my met heimweë na die Windhoek van ouds laat verlang.
Die een was toe ek die ander aand vir my man in die bed lê en voorlees het uit Doc Immelman se boek Ruacana tot Rosh Pinah, waarin hy vertel van die dag toe hy as jong man met die trein uit Kaapstad in Windhoek aangekom het.
Sy beskrywing van Kaiserstraat in die 1950’s, die geboue, mense en die kuierplekke van daardie tyd, was te veel vir my romantieke siel. Ek is daar en dan met nostalgie oorval.
Die tweede was ’n minder lekker ervaring – meer ’n pyniging van die siel. Dit was toe ek Saterdag vaneffe in die hoofstraat afry en die verval my tref. Buiten vir die spul ultramoderne wolkekrabbers wat die afgelope jare in die eens oop ruimte voor die ou Kalahari Sands verrys het, lyk die res van die sentrale sakegebied moeg en afgerem.
Van Zoo Park se eens lowergroen grasperke, tuinery en spuitfonteine het net herinneringe oorgebly.
Die eens lieflike Gathemanns Restaurant bestaan nie meer nie en Café Schneider is lankal nie meer die hartklop van die Levenson-arkade nie.
Ek was opeens terug in die sewentigerjare en het skielik weer die opgewondenheid beleef waarmee ons twee of wat keer per jaar van die plaas af Windhoek toe gekom het.
Dit was die tyd van padkafees en inryteaters, van “window shopping” saans in Kaiserstraat, van pieknieks in die einste Zoo Park of die tuine voor die Tintenpalast, van uitstappies na Daan Viljoen en mekaar dêr om van die hoë duikplank by die openbare swembad af te spring. Desjare was die swembad daar naby Maerua Mall en die skougronde.
Dae voor die tyd het Pa en Ma al begin lysies maak. “Miskien moet ons maar by Alfa vir ’n nuwe wasmasjien gaan kyk,” sou Ma huiwerig voorstel. “Nie voor dit nie gereën het nie,” sou Pa dan ferm sê en nog ’n paar sakke veevoer by sy lys voeg.
Die aand voor die tyd het ons ons mooiste rokke uitgehang en vir Pa gevra om vir ons ’n groot emmer koue reënwater uit die reënwatertenk agter die huis te tap om ons hare mee te was.
“’Seblief Pa, die reënwater laat ons hare mooi blink.”
“Goed kêrels, maar onthou, dis net vir ‘heydays and holidays’.”
Pa het ons vyf dogters altyd as “kêrels” aangespreek as hy ernstig was. En die stand van sy reënwatertenk was ’n ernstige aangeleentheid. Veral wanneer die westewind selfs in Februariemaand die wolke nog dag na dag skoonveld gewaai het.
Maar selfs in die droë jare was ’n besoek aan Windhoek ’n “heyday”.
Want hier aangekom, was dit of selfs Pa vir ’n wyle kon vergeet van die leë gronddamme en die kaalgevrete kampe.
“Die een wat die kragtorings (Van Eck) eerste sien, is koning,” het Ma altyd vrolik gesê wanneer ons die afdraai na Döbra verby is. “As julle soet is, kan ons by die roadhouse gaan melkskommels drink,” sou Pa dan byvoeg.
Wat ’n opwinding was dit nie as die kelnerin die skinkbord vol melkskommels aan die Kombi se ruit kom hak het en Ma dit een vir een versigtig aangegee het agter toe. “Drink nou mooi dat julle nie mors nie, hoor.”
’n Paar keer, kan ek onthou, het ons in die Safari Motel oorgeslaap. In die kamers was ’n skinkbord met tee, koffie, suiker en Cremora.
Synde plaaskinders het ons poeiermelk nie geken nie.
“Ek dêps die Cremora wat oorbly,” het ek my eersgeboortereg gebruik om my jonger sussies mee af te pers.
Af en toe het Pa ons gevat om by die Apollo-restaurant te gaan eet en ’n keer of wat het ons by die Alhambra gaan fliek. Maar niks was so lekker soos die keer toe ons Blackbeard’s Ghost by die “drive-in” gaan kyk het nie.
Ma het ’n kombers vir ons voor die Kombi oopgegooi en pouse het Pa vir ons draairoomyse en Cream Soda by die kiosk gaan koop.
As dit die jaar goed gereën het, kon Ma mooi lap en nuwe linne by Kock & Schmidt gaan koop. Daarna is sy met ons Model toe waar ons elkeen ’n nuwe rok kon uitsoek.
Aan dié dinge het ek gedink toe ek nou die oggend in die hoofstraat afry.
En ek het gewens ek kon ry tot binne-in die Windhoek van my kinderdae.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie