Praat Saam - Briewe
Praat Saam - Briewe

Onderwystragedie

PEET VENTER SNR SKRYF:

Rina Horn se kyk na die toestand van onderwys ter plaatse verdien kommentaar. As afgetrede onderwyser en danksy die koerante bly ek daagliks op hoogte van die onderwyssituasie in Namibië.

Soos sy, wil ek “dissipline” onder die loep neem. Dissipline is onlosmaaklik verbind tot die aksie van “handhaaf”.

Vanaf die geboortedag word met dissipline begin. Suigelinge word aan hul lewensbestaan bekend gestel deur beide ouers. Doeke, tietiebottels en-en-en is die vertrekpunt van hierdie nuwe buite-die-baarmoeder-leefstyl en moet onvermoeid deur beide ouers gehandhaaf word.

Nuwe dissiplines moet daagliks bykom, sodat ouers kan toesien dat die jong loot sy/haar bestaan aanvaar en ervaar in ‘n beskaafde omgewing. Koppie-skud, tantrums gooi en kosbak-slaan is ingebore sondige neigings wat vroeg gedy as ouers nie konsekwent dissipline handhaaf nie.

En nou wil ek, sonder verskoning, direk vinger wys na beide ouers, wat krimineel skuldig is aan die nie-nakoming van die Goddelike opdrag van opvoeding. Sonder ouerlike selfdissipline is die kind se grootmaak van die begin af gedoem tot mislukking. Die tsunami-effek hiervan rol deur die hele land sonder beheer of redding.

Voorskoolse dagsorg met ‘n oorvloed van kommersiële omkopertjies soos tjippies en lekkertjies sal die tsunami nie stuit nie. Ma en pa se intieme omgang met die kleintjie word gerieflik ingeboet sodra die vingertjies slim genoeg is om ‘n IT-apparaat te hanteer. Pa se liters en liters reinheitsgebot is ononderhandelbaar. Ma se Suidooster en Binnelanders op TV kan nie gemis word nie. En so word ongedissiplineerde boetie en sussie op sewejarige ouderdom met ‘n sug van verligting “aangepass” na onderwys.

Tannie van "Bowys", me. Sanet Steenkamp, ons wil ook graag met u oor die onderwys gesels, maar ons het veral ons visier op die onnies.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer