Ons daaglikse brood van skande
Wat ‘n jammerte!
My gedagte toe ek onlangs naby die noordelike nywerheidsgebied agter ‘n lorrie beland wat behoorlik oorloop van aartappels. Dis soortgelyk aan die vullislorries wat elke Dinsdagoggend sorg dat die asdromme in ons straat leeggemaak word.
Dié berg aartappels is op pad ashope toe, weet ek.
Dis stikdonker in die lorrie, buiten vir die lappie son wat op die knolle voor val. Ek weet dis propvol, want die vrag raak amper aan die dak van die lorrie se bak. Ek sien ‘n beweging, maar kan nie sien wat dit is nie. Dis eers toe ‘n stukkie son op hulle val, dat ek besef dis twee mans.
Hulle gryp naastigtelik na aartappels en prop so vinnig as moontlik so veel as moontlik van die groente in plastieksakke. Ons is naby Katutura en die mans is haastig. Vol hoop, want ashoopkos bring die belofte van huiskos.
Dié ontstellende prentjie spook steeds die volgende dag by my toe een van korrespondente in die Noorde ‘n berig uit die gemeenskap van Uukwiyu-Uushona in die Oshanastreek stuur.
Daar was ‘n viering van Wêreldvoedseldag en ‘n bakleiery het ontstaan toe die skare vir koeldrank begin skarrel het. Iets te ete was hulle nie beskore nie; dít was net vir baie belangrike persone by die geleentheid beskore.
Wat ‘n skande!
Die storie van die Namibiese Huis: Baie wat báíé het, ‘n klomp wat toenemend net-net genoeg het, maar ‘n magdom met niks.
Die luukse motors van dié wat het, jaag met getinte ruite verby dié wat nie het nie. Kruip agter groot donkerbrille by verkeersligte weg vir vroue wat lekkers smous sodat hul kinders saans darem nie met dolleë mae moet gaan slaap nie. Maak asof hulle nie die horde straatkinders en bedelaars – swart én wit - sien wat in Windhoek se strate ronddwaal nie.
‘n Samelewing met klipharde eelte op hul harte. Een waar dit Mammon net vir my en die duiwel vir ons almal is.
‘n Nasie waar elkeen se oorlewingstryd geen plek vir sy medemens het nie.
Die geldvrate rý die stelsel met die verskoning dat kapitalisme die voedingsaar van ‘n gesonde ekonomie is. Die middelklas kies toenemend tussen hul huislening en hul maandelikse bestaan. En die groeiende spul armoediges? Wel, hulle word met aalmoesies gepaai.
Tydens hul jongste opname het die Namibiese Statistiekagentskap op kinders so jonk soos elf afgekom wat aan die hoof van huishoudings staan. Daar’s baie meer as wat op papier vasgevang is: Kinders wat kinders moet grootmaak.
Dis maklik om te sê dis nie ons skuld nie. Dat ons Jan Taks elke maand getrou voer en dat die regering die probleem moet oplos.
Dis geensins ‘n eenvoudige kwessie nie, ek weet. Maar ‘n samelewing sonder ‘n gewete is nie die antwoord nie.
Empatie móét deel van die resep teen armoede wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie