Op ys
GERHARDUS DU PREEZ SKRYF NAMENS SY OUMA:
Ek lê op ys. Dood. My familie moet van oraloor die wêreld kom vir my begrafnis. Dit neem ’n tydjie, so nou wag ek maar. Wat anders kan ek doen?
Die wag is nie die kwessie nie. Tyd is ’n abstrakte konsep. Dit is ’n droom wat saggies in die oggendure deurgeskemer het. Nou is dit net ’n herinnering. In hierdie herinnering van tyd, word ek verswelg deur eensaamheid.
Ek het in my laat tagtigs my jare in ’n ouetehuis deurgebring. Bedlêend gewag vir etes. Televisie gekyk. Boeke gelees. Die kamervenster langs my bed was ’n ontoeganklike poort na ’n lewe wat ek eens geken het. Die gesuis van wind was ’n wiegielied en sagte reën my troos. Voëltjies op die vensterbank het kinderlikheid in my herroep – ek kon vereenselwig met hulle kwesbaarheid en broosheid. My opgewondenheid is vinnig gedemp wanneer die voëltjies saam met maats wip, pik of vlieg. My swerm is versprei oor strate, dorpe, lande en kontinente.
My kleinkinders het soms my verjaarsdae vergeet. My kinders lei veeleisende lewens. Soms het hulle ’n uur by my spandeer en ander dae tien minute. Ek het geleer om my waardering vir hulle te wys, selfs in teleurstellende oomblikke. Dit is al wat ek nog gehad het om te bied: waardering. My waardering vir hulle was die behoud van my menswaardigheid.
In die laat neentigs, in Venisië, het ek N$60 vir ’n koppie tee betaal. Venisië is een van my gunstelingplekke wat ek al besoek het. Oor die algemeen het ek baie van Italië gehou. In Parys het ons na die Moulin Rouge gegaan. Dit is ’n gagga plek! My reise het in ornamentjies en foto-albums opgeëindig. My ervarings was my trots. Ek het dit in klere in gestik, in stories geweef en soms as lemmetjies gebruik, wanneer ek neerhalend in ander se geselskap was. Ervarings is ’n rykdom wat nie in geld gemeet kan word nie.
Ervarings leef in jou kop, maar mense leef in jou hart. My hart was baie nagte seer. Foto-albums en ornamente gesels nie terug nie.
“Sy het ’n vol lewe gelei,” sê hulle. “Vol” is ’n woord wat kul! Dit meet kwantiteit, nie kwaliteit nie. Ek wil nie ondankbaar voorkom nie, want bevoorreg was ek definitief. Ek sou in die laaste fase van my lewe net meer algehele betrokkenheid wou beleef. Betrokkenheid wat verder strek as Kersfees en jaarlikse familiebyeenkomstes. Ek sou graag die diensbaarheid wou ervaar wat ek eens op ’n tyd gebied het.
Ten spyte van die seer en verlange, wil ek nie met pyn en onvergenoegdheid die ewigheid betree nie. Ek wil vrede in my kindersiel hê, soos ek oor die waters en in die hemele reis. Ek wil vry wees van aardse boeie; my groen oë moet weer skitter! Daarom vergewe ek my geliefdes. Dankie vir dit wat julle vir my beteken het, en vir die voorreg dat ek ook vir julle liefde en ondersteuning kon bied. Ons laat die kamer, die bed en die televisie in die verlede. Soek my op in herfskleure, paddatjies, marsepein en mooi materiaal. Onthou my as ’n reisiger en ’n voorstander van jolyt. En onthou, liewe Jesus wil hê ons moet die lewe geniet.
Tot wedersiens.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie