No Image Caption

Selfs die dampe ruik duurder

JURIE VILJOEN SKRYF:

As die reuk van brandstof maar 'n mens se tenk kon vol tap ....

Hierdie begrip het vir my waar geword toe ek aan ’n jeugverhaaltjie dink.

Dalk is Harry Potter vir ons jeug meer bekend as die historiese figuur, Uilspieël. Uilspieël was vroeër ’n heldefiguur en het altyd sy opponent uitoorlê deur met snaakse oplossings voor die dag te kom.

Eendag was Uilspieël rasend honger, maar het net een silwermuntstuk gehad, wat hy swaar verdien het.

Hy gaan sit in die restaurant en ruik die verleidelike geur van die kos wat uit die kombuis kom. Hy wys die kelners weg en sit en verlustig hom aan die reuk van gebraaide wors en gebakte eiers. So sit hy en ruik en voel later dat die hongerpyne begin weggaan .

Hy staan op en wil die plek verlaat, maar die bestuurder keer hom voor. Hy sê: “Meneer, jy sit nou vir meer as twee ure hier en bestel niks. Is jy nie honger nie?

Uilspieël bevestig dat hy baie honger was, maar sê hy het hom versadig geruik.

“Jou dief!” skreeu die eienaar. “Jy moet onmiddellik betaal vir die reuk van my kos!”

Uilspieël haal sy muntstuk uit, gooi dit op die vloer en vra of die bestuurder die geld hoor val het. Die bestuurder sê ja, en Uilspieël lag oorwinnend: “Meneer, ek het sopas die reuk van jou kos betaal met die klank van my geld.”

So sit ek in my motor by die vulstasie en asem die dampe van petrol en diesel in. Dit ruik voller en baie duurder as in die verlede.

Dan wonder ek wat ek hier soek. Ek soek brandstof wat môre duurder sal wees, maar oor twee weke aanvaarbaar sal wees, voordat die prys weer styg.

Ja, in wese voer elkeen van ons ’n eie klein oorloggie teen Rusland.

Maar ons betaal ons brandstof met kaarte en kontant of sit dit op rekening. Hoekom? Omdat niemand so naïef sal wees om om tevrede te wees met die klank van ons geld in ruil vir die reuk van hierdie duur brandstofdampe nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer