Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Stof tot nadenke

Mandy Rittmann
JAN CALITZ SKRYF:

Dikwels lees ons in die media van hoe kontrakte wat gesluit word soms stof tot erge nadenke tot gevolg het, soveel so, dat daar nie altyd tot voordeel van die inwoners en dan in besonder ook die belastingbetalers van die land se belange voorop gestel word nie. Ook blyk dit dat daar verskuilde agendas aan die orde van die dag kan wees.

’n Magdom voorbeelde kan voorgehou word soos bv. dié jongslede betreffende die ministerie van gesondheid, die ministerie van vervoer rakende die instandhouding van paaie – veral enigste en bekende paaie na toeristebestemmings, Namtrans se houding teenoor vervoer van goedere soos brandstof, sement, ens., ens. veral die frustrasies wat tot gevolg kom rondom vragvervoer op openbare paaie. Dan die talle bouprojekte van/vir staatsinstansies waarmee begin is, maar nie afgehandel is nie! Nog kan voorgehou word, maar kom ons laat dit eers daar.

Jongslede en veral met die heersende swak wisselkoerse is die media vol van berigte rondom die energiekrisis wat wêreldwyd ter sprake is, maar skielik blyk dit daar is groot uitkoms op pad – die ontdekking van olie binne ons gebiedswaters en veral word klem ook gelê op die goeie gehalte daarvan. Almal gaan oorboord en sien in hul gedagtes hoe die land omskep gaan word in iets soos in die Midde-Ooste – baie werksgeleenthede, groot ontwikkelings soos huise, paleise, winkelsentrums, limousines, tuine, vrugteboorde, uitbouing van hawens en lughawens, ens., ens., – alles soos wat net met baie geld gedoen kan word! Daarmee saam ook die klem op die ontwikkeling van groen energie asook die ontdekking van ryk ertsbronne wat litium bevat en dan kan die groot hoeveelhede bronne vir uraan en die ontginning daarvan, moet natuurlik nie uit die oog verloor word nie. Onse Namibië wat tans na almal se mening, dié spilpunt van die suide van Afrika gaan word – almal sien net son, maan en sterre!

Skielik tree die harde werklikheid na vore en met ons geskiedenis sedert onafhanklikwording begin mens wonder. Wat het alles gebeur, wie het besluit en hoekom is die hele bevolking in die duister want as mens daaroor nadink, praat ons oor spesialisbedrywe wat deur wié en met wie se koste en met watter kontrakte tot voordeel van wié daargestel en bedryf gaan word?

Die vraag ontstaan nou noodwendig of die bevolking dan behoorlik en genoegsaam in alles geken en ingelig is? Nee, want baie onsekerhede bestaan dan nog en met watter agendas alles, het die jongste besluite dan plaasgevind of hoe is al die kontrakte wat dalk alreeds daarvoor gesluit is, opgestel?

Onthou dat alles in geheel aan die Namibiërs behoort en dan moet alle Namibiërs ook ’n sê daarin hê!

Is ons regering met sy geskiedenis veral m.b.t. kontrakte tot dusver, dan werklik opgewasse daarvoor?

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer