Tyd dat MEFT, NWR se oë oopgaan
OU TORRABAAIER SKRYF:
Torrabaai het nou maar een maal die manier om in jou bloed te beland. Met sy unieke kamp atmosfeer en gemeenskap, asook natuurskoon vang die vakansieoord in die Skedelkuspark menige vakansieganger na selfs net een vakansie daar.
Dit is ’n unieke kamp waar mense mekaar ken, respekteer, vertrou en help waar nodig. Of dalk was dit so, en klou ek nog aan my herinneringe vas.
’n Kort geskiedenisles is dalk in orde: In 1957 het ’n groepie van vyf gesinne uit die destydse boeregemeenskappe van Welwitchia (vandag Khorixas) en Kamanjab, waaronder my grootouers, toestemming by die AG van daardie jare gekry om te gaan soek na ’n geskikte vakansieplek vir die betrokke gemeenskappe.
Hulle het soort van pad gehad tot by Wêreldsend, maar moes verder tussen sand en klip hul weg baan tot by die see. By die groot soutpan, suid van die huidige kamp het hulle ’n tweespoorpad van CDM gekry waarmee hulle tot by die see kon vorder. Dit is net daar waar Torra se kampterrein vandag nog is.
Na ’n paar jaar het natuurbewaring beheer geneem, en moes jy by Springbokwasser by oom Jacob Meyer jou permit toon om in die park in te gaan. By die kamp was ook ’n natuurbewaarder wat wet en orde moes handhaaf, asook die klein winkeltjie beman.
Ablusie het bestaan uit emmertoilette met rietskerms. Niemand het onnodig tyd daar deurgebring nie!
Later jare het NWR oorgeneem en is alles opgegradeer.
Dis waar ons nou is, by die punt waar dit bykans onbekostigbaar geraak het vir die gemeenskappe vir wie en deur wie Torra tot stand gekom het.
Die plek waarheen ons jaarliks gegaan het om ons gemoedere skoon te kry en ons siele na ’n harde jaar terug te vind, is besig om sy siel te verloor.
As jy nou by die hek (met vieslike vuil toilette) ingaan, moet jy die laaste klompie jare nie net meer soos in die verlede ’n eenmalige parkfooi betaal nie, maar per persoon en voertuig per dag. As jy vir meer as net ’n paar dae gaan kamp, raak hierdie parkfooie tesame met die NWR kampfooie ’n aansienlike bedrag.
Om alles te vererger, word die parkfooi glo in MEFT se Game Products Trust Fund (GPTF) gestort. Dit is ’n fonds om skadevergoeding te betaal aan boere wat skade ly as gevolg van diere soos olifante en leeus. Klink na ’n gawe plan, nê? Wel, nie regtig nie, want kommersiële boere mag nie eis van die fonds nie, dit terwyl die boere van veral Kamanjab wie dit ook moet betaal jaarliks miljoene Namibiese dollar se skade moet verduur as gevolg van veral olifante en leeus. Dit maak dus vir dié gemeenskappe die betaal van parkfooie ’n bitter pil.
Ry jy net ’n paar kilometer verder, sien jy hoe die belastingbetaler se geld gemors word met die bou van ’n nuwe hek en geboue wat miljoene moet kos.
Ek het reeds genoem dat NWR nuwe ablusiefasiliteite, winkel en kroeg by die kamp laat bou het. Dit het volgens gerugte N$7 miljoen gekos.
Die meeste van ons sou so ’n belegging in stand gehou het, maar nie NWR nie. Teëls val af en van die vensters hang skewebek of is uit.
Die winkel moet jy liefs vermy as jy nie bankrot huis toe wil gaan nie. Pryse is absurd hoog.
Dan die kroeg. Voorheen het kampeerders gereeld daar ’n paar doppe gaan drink, maar intussen is dit oorgeneem deur MEFT- en NWR-personeel.
As gevolg van al hierdie dinge kom kamp al hoe minder mense op Torra. Toe ek die dag kamp afgeslaan het, was daar slegs 14 besette kampplekke uit die 95.
Dis dalk tyd dat MEFT en NWR se oë oopgaan en besin oor wat hulle verkeerd doen. Alhoewel, ek glo nie hulle gee ’n flenter om nie.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie