Versigtig nie altyd veilig
Sê maar net 30 jaar gelede
Gert Jacobie – Gister het honderde mense hul bydrae gaan maak tot die Paasnaweek-padveiligheidsveldtog wat in Namibië geloods is. Pragtige gedagte!
’n Mens kan maar net op jou knieë gaan en bid dat minstens die helfte van die ondertekenaars van die belofte, naamlik dat hulle veilig sal bestuur, dit wel sal doen.
Al werk almal saam en net een persoon sterf die naweek op Namibië se paaie, is dit ongelukkig nog een te veel. Die ironie van die saak is dat só ’n persoon dalk mag sterf omdat hy of sy versigtig bestuur het. Té versigtig!
Dieselfde geld die duisende mense wat die naweek eerder tuis gaan bly omdat hulle bang is hulle sterf op die paaie of hulle keer ná die naweek terug na ’n huis wat kaalgestroop is deur diewe wat die Pase beskou as die produktiefste tyd van die jaar. Mense bly tuis, maar raak teen Saterdag verveeld met die huis-sittery en gaan eet ’n uitgerekte ete by vriende wat ook besluit het om liefs tuis te bly. En siedaar! As hulle teen 03:00 by die huis aankom, is daar net ’n leë dop.
Om op die polisie pyl te trek wanneer dit kom by die beskerming van huis en haard, is onregverdig, want die dienders se taak is deesdae om van vroeg saans voorstaandienste te hou vir ’n moontlike dronkryer. Teen steeltyd is hulle van diens af, of al hul voertuie is by die padblokkades betrokke en hulle kan dus nie op diefstalklagte reageer nie. Buitendien moet hulle Engels praat by die klaer – opdrag van hoog op – en dit is makliker om gebroke Engels uit te pluk teenoor ’n dronkie agter ’n motor se stuur as teenoor ’n verwoede klaer wie se huis pas geplunder is. Eintlik bevind ons onsself almal in ’n “catch 22”-situasie. Wat jy aan die een kant staan te wen, sal jy beslis aan die ander kant verloor. Geen twyfel daaroor nie.
Dit gaan verder. Besluit ons almal soos een man om die langnaweek te gaan vakansie hou, word ons besteel en sterf ons op die paaie. Besluit ons om eerder tuis te bly en nêrens heen te gaan nie, selfs nie eens om Saterdagaand uit te gaan eet nie, kry die ekonomie ’n skok wat ons ook nie kan verwerk nie en dan is minister Hanekom tydens die volgende begroting onder druk om die “ekonomie ’n inspuiting te gee om hom weer aan die gang te kry”. En dit kan die land beslis nie bekostig nie.
Op die polisie kan ons ons nie verlaat nie en om van die weermag – wat almal afwesig is onder verlof – te verwag om die Paasnaweek in getalle op te ruk en diewe aan bande te lê, is ’n droom wat nooit waarheid sal word nie.
Ek ken ongelukkig nie die oplossing vir die probleem waarmee ons gekonfronteer word nie, maar moontlik het ek raad vir my mede-onderdruktes en slagoffers van ons tyd.
Gaan span die naweek vir oulaas langs die see of by een van die land se rusoorde uit en dink oor die saak.
Aanstaande week, met die langnaweek agter die rug, kan ons moontlik bymekaar kom en ’n dinkskrum hou oor wat ons volgende maand gaan doen. Want volgende maand is vrot van die langnaweke!
Intussen moet almal asseblief dié naweek veilig reis en die slagspreuk vir die naweek kan gerus lees: “Spaar ’n Namibiër se lewe – ons het meer van hulle vir volgende week se dinkskrum nodig!” – 8 April 1993
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie