Warm ‘send off’ aan saxofoon-koning

Mandy Rittmann
ISAAC CLOETE VAN SPRINGBOK IN NAMAKWALAND SKRYF:

Te midde van koue weer is ’n bekende saxofoon-speler, onlangs met warmte gegroet.

Hy is die legendariese Jimmy Newman (83) van Concordia in Namakwaland. Die stigter van die ewe bekende langarm-orkes, Jimmy’s Grand Six.

Die saxofoon-koning se vaarweldiens (verassing) was Saterdag in die Rooms-Katolieke Kerk hier. Terwyl kerkgangers, in die volgepakte kerk, na sy oorskot gewag het, het plaaslike musikante saam met Alistaire van Wyk (op saxofoon) van Namibië gewyde en gospelmusiek gespeel.

Die musikante was persone soos Bruce Newman (The Rockets), Abey Koopman (Freedom) en Sylvester Dollie Fortuin (Sugar Daddy), wat vroeër saam met Jimmy musiek gemaak het.

Toe die band Jimmy se groot en bekendste treffer, Ricky Waltz speel, het die selfone oortyd gewerk vir video-opnames en foto’s. ’n Traan of twee was gereeld weggepik of weggesteek.

Terwyl sy donkerbruin kis die kerk ingebring is, het Alistaire-hulle met “Amazing Grace” losgetrek. Dit was later opgevolg met “How great thou art”.

Vader Gerald Ssemakula (van Uganda) het die aanwesiges aangemoedig om ook op die aarde goed te doen soos Jimmy met sy musiek gedoen het. Hy het dit vergelyk met die silwer spoor wat ’n slak agterlaat as hy beweeg.

“Ons broer sing seker ook nou saam met die engele, maar op aarde moet ons ook ’n silwer spoor agterlaat soos hy. Hy het baie mense se harte aangeraak.”

Rynault van Wyk (Alistaire se pa), en hul familiewoordvoerder, het tydens die diens ’n hartroerende huldeblyk gelewer.

“Jimmy Newman het nie net bestaan nie, hy het geleef! Jimmy Newman het nie net gespeel nie, sy melodieë het gegloei, hulle het gehang soos ’n reënboog in die lug. Hy kon ’n saxofoon bespeel met die gemak waarmee ’n voël kon vlieg.”

Eddieboy Meyer (hoofkitaarspeler) van Nababeep onthou dat hulle in September 1972 saam met Jimmy na Kaapstad gereis om hulle eerste langspeelplaat op te neem.

“Hy was die beste ‘sax’-speler wat ek nog ontmoet het. Sover as wat ek kan onthou, was ons die eerste langarm-orkes wat ’n LP gemaak het. Al die ander langarm-musiek het na ons gekom. Hy het langarm op die ‘map’ gesit en was ’n innemende mens.”

Jimmy’s Grand Six het alreeds in 1975 ’n goue plaatstatus-toekenning ontvang vir hul vrystelling van “Jimmy for you”. Hiervan was meer as 25 000 plate in Desember daardie jaar verkoop. Gedurende 1980 het drie van sy ander albums meer as 60 000 kopieë verkoop.

Hy was op 6 November 1941 te Nababeep gebore en het reeds op 17-jarige ouderdom begin om sy musikale talente landswyd die lug in te blaas.

Tydens sy musiekloopbaaan van 66 jaar het hy 17 albums laat opneem met omtrent 189 snitte. Ook het hy twee gospel-albums die lig laat sien. Hy spog met ’n goue plaat (vier LP’s) en ’n driedubbele-goueplaat.

Volgens Alistaire is sy pragtige saxofoon-spel te danke aan Jimmy wat oor die jare heen by die Van Wyks in Rehoboth gaan woon het tydens sy optredes in Namibië. Die afgelope naweek het Alistaire die Namakwalanders geroer met sy voortreflike saxofoon-spel.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!