No Image Caption

Wie se taak is onderwys eintlik?

Dani Booysen
BRANDON HAMMOND SKRYF:

Baie van ons is geneig om wie of wat ons eerste aan dink die skuld vir die voortgesette krisis in Namibiese onderwys te gee.

Dikwels skiet ons uit die heup; meestal sonder om die sleutelvraag te vra wie eintlik vir die opvoeding van kinders verantwoordelik is. Ook jou eie kinders.

Toegegee, onderwys is 'n ingewikkelde en veelfasettige konstruk. Buiten vir die verskille tussen formele en informele onderrig is daar onder andere pertinente vrae oor wie wat wanneer moet doen, en vir hoe lank.

In ons land is formele basiese onderwys (wat hoofsaaklik funksionele geletterdheid en syfervaardighede moet oordra) vanaf die ouderdom van ses verpligtend vir alle kinders. Met die sinvolle herinstelling van preprimêre onderrig het die ouderdom teoreties na vyf jaar verlaag, hoewel bywoning ongelukkig nie verpligtend is nie.

Moet formele onderrig egter eers op vyf begin? Ek dink nie so nie.

In onlangse jare het die begrip "voorskoolse gereedheid" internasionaal veld gewen met voorstaanders wat vurig pleit dat kinders vroeër as die norm formele onderwys moet betree. Daar is wêreldwyd groeiende konsensus tussen kenners dat die eerste drie jaar van kinders se lewens die mees bepalende fase in die vorming van hul toekoms is.

Onder meer kan moontlike leeruitdagings baie vroeër raakgesien en geredemieer word. Dit bou 'n stewiger fondament, wat vrees vir die skool beperk, prestasie aanwakker, herhaling verminder en uiteindelik goed afgeronde individue die wêreld in stuur.

'n Geskatte 10 000 leerlinge verlaat jaarliks in Namibië die skool.

'n Meer radikale denkrigting voer selfs aan dat opvoeding al in die baarmoeder begin. Onlangse navorsing het bewyse van voorgeboorte-leer gevind en gee 'n aanduiding van wat babas reeds in utero verstaan.

Ons kan dit kwalik bekostig om nie hierdie kritieke onderwysgeleenthede te benut nie. So kan ons 'n beter onderwyspad vir ons nageslagte uitstippel en hulle 'n werklike kans op 'n blinker toekoms gun.

Ongelukkig toon onlangse opnames dat meer as 70% van Namibiese kinders tot die ouderdom van ses geen toegang tot sentrums vir vroeëkinderontwikkeling (ECD) het nie. Unicef skat minder as 40% van geregistreerde kleuterskole het in 2019 kinders vir voorskoolse onderrig ingeneem.

Buiten vir geskiedkundige oorsake het groot en voortgesette maatskaplike ongelykhede pre-formele onderrig - wat hier bepleit word - buite bereik van die meeste Namibiese huishoudings geplaas. 'n Groeiende vraagstuk oor wees- en weerlose kinders (OVC) vererger die situasie.

Die langtermyngevolge op veelvuldige fronte is ondenkbaar en noodsaak dringende strategiese en sistematiese ingrypings deur alle belanghebbendes.

Tans kry preprimêre onderwys sowat drie persent van die onderwysbegroting. Omdat ons besteding op onderwys reeds internasionale teikens verbygesteek het, is dit hoogs onwaarskynlik dat die bedrag in die nabye toekoms gaan toeneem.

Hoër vlakke van ouerbetrokkenheid is daarom noodsaaklik, en moontlik ons laaste uitweg.

Weens die berugte apatie van 'n noemenswaardige deel van die bevolking teenoor onderwys, sal die burgerlike gemeenskap dringend bewustheid van ouerlike verantwoordelikhede moet verbeter en volhou. Ons kollektiewe reaksie moet proaktief en voorkomend wees.

Buiten vir die vestiging van pligsgetrouheid sal dit moontlik nodig wees om probleem-ouers aan te vat en/of te rehabiliteer, terwyl na hul verwaarloosde kinders omgesien word.

Intussen rig ons 'n wekroep aan elke ouer om vandag sy/haar kind(ers) se toekoms te begin bepaal. Of die baba beplan is of nie - dit is jou kind.

(Die skrywer is 'n opvoedkundige en ouer van twee. Lesers kan aan hom skryf by [email protected].)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!