Windhoek gaan bibber
Sê maar net 30 jaar gelede
Die winter is op hande en daar word nou reeds druk bespiegel oor hoe koud dit gaan wees.
Van die ouer weerprofete beweer dit gaan kouer wees as ander jare, aangesien dit ’n droë jaar was.
Ander sê weens die droogte gaan dit juis ’n warmer jaar as gewoonlik wees, want die son het nog nie die laaste druppel vog uit die Namibiese kors gesuig nie.
Ek het oor die saak nagedink en besluit om my voorspelling oor hoe koud dit gaan wees te grond op navorsing wat ek persoonlik en in my verloftyd oor die gedragspatrone van die natuur en sekere staatsinstellings gedoen het.
Ek het reeds aangebied om my navorsing met die oog op ’n ere-doktorsgraad aan ’n Oos-Europese of ’n obskure Amerikaanse universiteit beskikbaar te stel, aangesien my navorsing oor doktorsgrade getoon het dat daar beslis sulke instellings is wat spesialiseer in die toekenning van doktorsgrade, veral aan die manne van die “struggle”.
Die magdom doktore en professore in Namibië bewys dat my navorsing in dié verband nie verkeerd was nie en ek reken dat my voorspelling oor die wintertemperature ook nie ver uit die kol sal wees nie.
Ek het eers na die miere gekyk en gesien hulle brei nog nie truie nie, want hulle is steeds besig om op en af te hardloop op soek na broodkrummels, sprinkane en allerhande ander lekkernye. Ek het selfs een mier gesien wat sweet en kaalbolyf tussen die ander miere rondloop en elke nou en dan sy spiere bult. Ek kon darem sien sy roete het oor ’n bierbottel se prop geloop wat voor die nes gelê het.
Net om dubbel seker te maak, het ek die mossies dopgehou en gesien nie een het vere aan sy bene nie.
Gewoonlik het hulle hierdie tyd van die jaar reeds hul “jeans” aan en slaap hulle snags daar waar die son deur die dag die sink warm gebak het.
Hierdie kortbroek-mossies slaap nog in die bougainvillea asof dit in die middel van die somer is.
In hierdie stadium van my navorsing was ek feitlik doodseker dat dit ’n taamlike warm winter sal wees.
My toon in die swembad het bevestig dat ek miskien nog ’n paar draaie kan gooi sonder om my hart aan enige gevaar of skokke bloot te stel.
Soos ’n goeie wetenskaplike het ek besluit om ook die mens se gedragspatroon bietjie te ondersoek om dubbel seker te maak dat dié deel van die natuur ook by my barometer ingesluit is.
Die boemelaars slaap in die stadium bo-op twee van die Donderdag-uitgawes van Die Republikein waarin Kollig ook vervat is en onder ’n Dinsdag-uitgawe, ’n dunnetjie, van Die Republikein.
Tot sover het alles geklop.
My navorsing is egter deur Namibië se vroue omver gewerp. Hulle loop, in teenstelling met die diere van die veld en die boemelaars van die park, reeds met rolle en rolle vormlose kledingstukke deur die strate van Windhoek.
Windhoek se sweetpak-brigade het reeds hul “crime pelene-suits” aan – daardie kledingstukke wat ’n verskoning is vir te lui om behoorlik aan te trek. Die pakkie sigarette en die beursie met ’n buskaartjie, die man se kredietkaart en twee muntstukke is saam met ’n pakkie sigarette so vasgeklem dat die wit op die kneukels uitslaan.
Om nie heeltemal uit die mode te wees nie, is daar krullers in die hare en twee koffievlekke op die sweetpak-baadjie.
Toe weet ek dit gaan koud wees.
Of mier, mossie en boemelaar nou aandui dat dit ’n warm winter gaan wees, is nie nou ter sake nie.
Die sweetpak-brigade het hul kop uitgesteek en Windhoek gaan bibber.
So al asof Windhoek se vroue duim vashou dat dit moet sneeu sodat hulle nog sokkies by hul pantoffels en ’n jas by die sweetpak kan dra wanneer hulle ”winskopies” van winkel tot winkel jag – so in die styl van R300 se petrol om ses sent op twaalf dosyn eiers te spaar. Ag, nou ja! - 14 Mei 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie