Zietsman se drie vertonings
CHRISNA BEUKE-MUIR SKRYF:
Sterk soos Elsabé Zietsman as aktrise is, is die inhoud van die drie vertonings wat ek van haar ervaar het.
Een van hulle sal ek nie ’n tweede keer wil sien nie, die ander twee wel. En in al drie is sy begelei deur pianis Tony Bentel, wat hom uitstekend van sy taak gekwyt het.
Met die twee eenvrouvertonings Routrip (skrywer, Johann Slabbert) en Femme is Fatale (geskryf deur Bruce J Little) het die FNB Windhoek Woordfees inhoud gegee aan haar missie-matriks om die gemeenskap te dien. Beide stukke is ’n uitbeelding van die realiteit van vrouwees in Suider-Afrika wat soms geweld(dad)ige uitdagings aan ons spesie stel.
Routrip is presies wat die naam sê: ’n trip waarop daar gerou word. Helena word uit ’n kliniek ontslaan ná ’n mislukte selfdoodpoging, en gaan daarna op ’n rit en besoek die mense wat vir haar saakmaak. Sy beplan om aan die einde van haar rit die punt aan die einde van háár lewe te plaas.
Johann Slabbert het my die storie agter Routrip gestuur. Helena se storie is gebaseer op – in Johan se woorde – die storie van “een van my heel beste vriende en een van die interessantste, snaakste, slimste, gaafste en mooiste mense wat ek al ooit ontmoet het.” Net soos Helena was hierdie persoon X in ’n stryd teen angs en depressie gewikkel, en het eendag besluit om nie meer te lewe nie. Road trips is spesiaal, sê Johann.
“Jy sien nie net plekke en mense nie. Jy leer ook dinge van jouself en van ander. As jy gelukkig is, leer jy dat die reis eintlik die bestemming is.”
FEMME IS FATALE
Femme is fatale beeld die lot uit van vele vroue in Suid-Afrika (en Namibië). En dit eindig ontstellend as die karakters (Zietsman vertolk moeiteloos die rol van meerdere vrouekarakters) – om by die etiket van koeranttaal te hou – hulle (begrafnis)-gat sien, maar sonder die eer van die -seremonie. Waar Routrip positief eindig op ’n noot van hoop wat die wanhoop oorheers, en die selfdood uit- (en hopelik) afgestel is, eindig Femme is fatale – nou ja – fataal. Sonder hoop.
Hedendaagse teater weerhou die toeskouer nie noodwendig van ’n glimlag of ’n uitbundige lag (ook met ’n traan) nie, en agterna klim jy dankbaar in jou motor en gaan huis toe (waar jy veilig is). En dan wéét jy: JY wat JY is, is bevoorreg, baie meer as baie ander mense in jou land. Maar jy laat jouself ten minste toe om die vertoning te ‘geniet’. En juis hierdie halfhartige halwe aanhalingstekens vertel die verhaal. Kuns wat die samelewing dien, is nie altyd ‘aangenaam’ om te ervaar nie. So was Femme is fatale vir my. En toe sê een van my kollegas (goedbedoeld): “Maar Chrisna, dit is die realiteit. Elke dag deur God gemaak word geweld teen vroue gepleeg.”
En ek verweer myself deur te sê dat sy my nie daaraan hoef te herinner nie. Dat ek elke dag as ek ’n kind by ’n verkeerslig sien bedel, herinner word aan dié realiteit. Vanaand word daai kind se geld wat hy of sy ingesamel het, geneem in ruil vir ’n dak bo die kop, en boonop sou hy of sy dan soms nóg ’n prys betaal en verder misbruik word vir die einste voorreg van kos en ’n dak bo die kop.
Ja. Dit gebeur.
My finale aanbod: dit was nodig dat Namibiërs die vertoning moes beleef om ons bewus te maak van geslagsgeweld teen vroue, sodat ons met alles wat in ons is daarteen kan baklei. En as ek iemand sou moes kies om die rol te vertolk, sou ek bitter ver moes soek om iemand te kry wat dit so goed soos Zietsman sou kon doen.
VIER PANADO’S EN ’N CHARDONNAY
’n Paar weke later in Stellenbosch sien ek daarna uit om Zietsman se Vier panado’s en ’n Chardonnay (ook uit Johann Slabbert se pen) te gaan sien. Ek sien uit na ’n aand van ontspanning en kliphard lag. (Kiepie leer nie! Ziets se twee swaar stukke is mos verby. En ek is bly vir my part – en vir hare. Vier panado’s en ’n Chardonnay móét eenvoudig ligter en meer genietlik wees. . .)
Kliphard hét ek ook soms gelag. Maar net so het my derms in my binneste geknoop oor die onreg wat die karakter beleef het aan die hand van ’n manlike bedrieër wat haar beroof van ’n dak bo haar kop en haar laaste eerlik verdiende spaargeld. Dit laat haar (karakter), en vir my (toeskouer) magteloos en woedend, en ek moet myself herinner: Kiepie, jy wéét mos een van die belangrikste teaterkonvensies is dat die gehoor moet aanvaar dat dit wat op die verhoog gebeur ’n ‘ander’ realiteit is.
So maklik skud jy egter die ongemak nie af nie! As jy besef dat die ‘ander’ realiteit vir jou wat hoeka nie ’n gebrek aan verbeelding het nie, jou herinner aan die ‘werklike' realiteit, kan jy nie help om dit saam met die ander teatergangers uit te skater toe ons karakter die bedrieër se naam van die verhoog af weggee nie. Teater bied immers ’n podium vir protes teen die euwels van die samelewing. En dan wil ek vir Zietsman sê: Goed vir jou! Sy sluit Vier panado’s af met die lied “Ek is nog hier” (lirieke deur Johann Slabbert):
“Ek’s deur jong mans wat skryf op my Facebook
‘Jy lyk soos ’n oom wat ons skerms ontsier.
Oud en vol plooie’
Maar ek skryf terug
‘Ag f&^%* jou, jou kleinbog,
EK IS NOG HIER!’”
FNB WINDHOEK WOORDFEES
Dankie FNB Windhoek Woordfees dat ons vir Elsabé Zietsman (en ook vir Amanda Strydom vroeër vanjaar) hier in Namibië kon belewe.
Elsabé het ons getrakteer op haar uitstekende spel waartydens sy ’n hele reeks rolle vroualleen oortuigend uitgespeel het. ’n Mens hoef haar maar net een keer op die verhoog te beleef om te weet dat hier nie teruggehou word nie. En Elsabe Zietsman kán sing. Tony Bentel op die klavier was daarby méér as ’n begeleier. Soms het hy saam geharmonieer, en ander kere saam met die kykers gereageer op die karakter se verhaal.
Routrip het my laat nadink, lewensmomente laat herken. Femme is fatale was vir my fataal. Tuis gekom het ek vier panado’s en ’n whiskey gedrink. In Stellenbosch het ek my ervaring van die Zietsman-trilogie afgesluit met, nou ja, Vier panado’s en ’n Chardonnay. As amateurtoneelspeler het ek veel geleer, te veel om op te noem.
Dankie Elzabé, Tony, Johann en dankie FNB Windhoek Woordfees.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie