‘Ek sal my kinders se stemme kan hoor’

Kristien Kruger
“Met die kogleêre inplantings sal daar ’n hele nuwe wêreld van klank vir my oopgaan! Dit sal wel tyd vat, maar ek sal musiek kan luister, ek sal voëltjies kan hoor, ek sal reën op die sinkdak kan hoor en ek sal my kinders se stemme kan hoor en onderskei.”

Só vertel die 48-jarige Johlene Meyer oor die opwindende vooruitsig om moontlik kogleêre inplantings te kry.

“Ag, ek kan ’n boek skryf oor alles wat ek nog altyd graag wou hoor wat ek dan sal kan hoor!”

Johlene en haar man woon op ’n plaas in die suide van Namibië en het twee pragtige seuntjies. Sy en haar vriendinne, asook mense en organisasies uit die gemeenskap, is besig om geld in te samel om haar te help om vir die inplantings te betaal.

Die inplantings kom ná jare se gehoorprobleme en Johlene wat geleidelik doof geraak het en nou heeltemal afhanklik is van liplees. Nadat sy meegedeel is dat haar gehoorsenuwees dood is en kogleêre inplantings nie vir haar sou help nie, moes sy met haar werklikheid vrede maak.

Dit het egter alles onlangs verander toe Johlene ’n oor-, neus- en keelspesialis in Windhoek, dr. Stephan van der Westhuizen, gaan sien het.

“Ek het na dr. van der Westhuizen gegaan vir toetse omdat ek met vertigo sukkel. Toe hy my ontmoet, wou hy weet hoekom ek gehoorapparate dra, want as my gehoorsenuwees dood was, sou ek niks kon hoor nie, nie eens met gehoorapparate nie.

“Hy het toe verduidelik dat my gehoorsenuwees nie dood is nie, maar wel die haarsenuwees. Dit beteken dat ek wel geskik is vir kogleêre inplantings!” vertel Johlene.



GELDINSAMELING

Ná hierdie verwikkelinge het lede van die gemeenskap in die Suide ingespring om geld in te samel om vir Johlene te help om vir die inplantings te betaal.

Die prosedure sal na verwagting sowat N$400 000 kos.

Annelise Maartens en Ina van Tonder is twee van Johlene se vriendinne wat hard werk om geld in te samel.

“Ons het al skenkings ontvang, soos leerhandsakke, ’n sjokoladekoek, ’n gehekelde babakombers en ’n tafeldoek, wat opgeveil is. Johlene bak self ook anysbeskuit,” vertel Annelise.

Droogtehulp Namibië sit ook ’n handjie by om mense bewus van Johlene se situasie te maak en geld kan deur hulle geskenk word met die verwysing “Johlene”.

“Johlene is ’n inspirasie vir almal om haar. Haar doofheid hou haar nie terug nie. Sy is oral betrokke en geliefd in haar gemeenskap.”

Diegene wat graag geld wil skenk, kan vir Johlene by 081 229 6332 kontak of vir Ina by 081 128 1553.



OORSAAK

Johlene vertel dat sy op die ouderdom van nege of tien malaria gekry het toe sy in Oshakati gewoon het.

“Die malariamedikasie, soos ons toe verstaan het, het my gehoorsenuwees aangetas.

“Ons het nie geweet ek was besig om doof te raak nie. ’n Familievriendin het eendag opgemerk wanneer iemand met my praat en ek met my rug na die persoon staan of nie na die persoon kyk nie, ek nie hoor wat die persoon vir my sê nie.

“Ons is toe Windhoek toe vir gehoortoetse en dit het geblyk dat ek wel gehoorprobleme het. Ek het toe gehoorapparate gekry. Ek het nie onmiddellik doof geword nie, maar geleidelik. Ek het al hoe meer afhanklik van liplees geraak,” vertel sy.

Johlene was as jong meisie nie heeltemal doof nie en het by die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl skoolgegaan waar sy gematrikuleer het.

“Destyds kon ek nog met my ouers telefonies kommunikeer met behulp van ’n gehoorversterker en die matrone se telefoon.”

Ná skool het Johlene egter nie meer telefonies met mense gekommunikeer nie en heeltemal afhanklik geraak van liplees.

“Ek dra gehoorapparate in albei ore wat my help om klanke te hoor. Ek het baie min gehoor oor en sonder die apparate kan ek niks hoor nie.

“Met die apparate hoor ek klanke, maar kan nie altyd tussen klanke onderskei nie. Musiek is net ’n geraas vir my.”

Annelise meen haar vriendin is ’n ware inspirasie en dat sy ten spyte van haar gehoorgestremdheid, baie lief is vir oefen en het al aan verskeie fietsrygeleenthede deelgeneem. Sy het ook verlede jaar die Visrivier gaan stap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer