Kolie van Coller FOTO ARGIEF
Kolie van Coller FOTO ARGIEF

‘Ons wil teruggee’

Veterane mentor jonger generasie
Die doel is om hul kollektiewe rykdom van kennis en ervaring deur middel van mentorskapprogramme, slypskole en netwerkgeleenthede te deel.
Henriette Lamprecht
’n Inisiatief wat sommige van die mees ervare stemme en tegniese kundigheid in die uitsaaibedryf bymekaar bring, is daarop gemik om die jonger generasie, media en aspirant-joernaliste te mentor en te lei om die nalatenskap van beroepslui in die uitsaaiwese te bewaar.

Die Gemeenskap vir Uitsaaiveterane (SBV) het ook ten doel om jong talent op hul reis deur die immer veranderende medialandskap te ondersteun.

Die SBV bestaan uit ’n groep uitsaaiveterane elk met dekades se ondervinding in radio, televisie en digitale mediaplatforms.

Die doel is om hul kollektiewe rykdom van kennis en ervaring deur middel van mentorskapprogramme, slypskole en netwerkgeleenthede te deel om sodoende die standaarde in die bedryf verder te bevorder.

Deel van die mentorskap sluit een-tot-een-riglyne aan aspirant- en jong uitsaaiers in om professionele ontwikkeling en leierskapsvaardighede beide agter die mikrofoon en ook buite die ateljee te bevorder.

Volgens die sameroeper Kolie van Coller is die doel om die spreekwoord “’n bietjie kennis is ’n gevaarlike ding” te takel.

“Jou stem is nie net jou persoonlikheid nie, maar jou gawe om te gee en te ontvang. Jy is net so goed soos jou laaste woorde op die lug.

“Elke dag, elke uur, selfs elke minuut, vereis ’n kreatiewe, insiggewende benadering sonder maniertjies wat luisteraars irriteer.

“In kort is uitsaai elke dag ’n nuwe ervaring, ’n nuwe benadering en ’n nuwe skep van woorde, beelde en gedagtes,” verduidelik Van Coller.

Die SBV gaan ook gereeld slypskole aanbied oor die jongste neigings in die bedryf, tegniese vaardighede, etiese joernalistiek en storievertelling.

Platforms sal ook geskep word om aspirant- en jong uitsaaiers die geleentheid te bied om met veterane, kundiges in die bedryf, media-instellings sowel as ander sleutelrolspelers te netwerk.

In ’n wêreld waar die media voortdurend verander, sê Van Coller wil die SBV die gaping tussen tradisionele uitsaaibeginsels en moderne joernalistiek oorbrug.

Veterane sal gevolglik stories van aanpasbaarheid, verkragtigheid en uitmuntendheid deel, terwyl hulle jong mense help om steeds kernwaardes soos kredietwaardigheid, integriteit en verantwoordelike joernalistiek te ondersteun.

“Ons erken die uitdagings wat jong en opkomende uitsaaiers vandag in die gesig staar – om uit te staan in ’n toenemend mededingende veld tot die hantering en gebruik van tegnologiese vooruitgang.

“Deur die SBV wil ons teruggee aan die bedryf wat ons soveel gegee het en help om die toekomstige leiers van die bedryf te vorm,” het hy gesê.

Volgens Van Coller bly sekere kernbeginsels tydloos en is die SBV as veterane opgewonde om dit aan die jonger geslag oor te dra.

Hy het vals nuus beskryf as een van die grootste uitdagings en struikelblokke saam met ’n gebrek aan kennis en passie, met die groot vraag wat dikwels gevra word “is dit die waarheid?”

Aansoeke vir die SBV se mentorskapprogram is op hul Facebookblad beskikbaar. Vir meer inligting kan Van Coller by 081 127 3000 gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!