’n Gesoute en avontuurlustige sjef

Otis Daniels
Sjef Jona Levi spog trots met die feit dat hy al vir al die Namibiese staatshoofde gekook het.

Levi is die eienaar van die Seaview Restaurant by die Lüderitz-waterfront en hy vertel dat hy die stigterspresident Sam Nujoma in 1997 ontmoet het terwyl hy nog ’n student was.

“Ek het ’n tandestokkie geneem wat hy gebruik het en ek het dit nou nog,” vertel hy.

Levi, wat op Walvisbaai gebore is, het gasheer vir oudpresident Hifikepunye Pohamba en wyle president Hage Geingob gespeel terwyl hy die Parlement-restaurant in Windhoek bestuur het.

Hy het ook ’n gereg vir die huidige president, Nangolo Mbumba, met die amptelike opening van die Maritieme Museum op Lüderitz voorberei.

“Ek het twee gunstelinggeregte. Albei bevat springbokvleis as bestanddeel. Ek is ’n kranige jagter en skiet soms my eie vleis. Ek hou daarvan om vars springboklewer op aartappelwafels met ’n bietjie balsamiese asyn en baie uie voor te berei.

“Dit is ’n resep met ’n Duitse invloed. Vir my gaan dit alles daaroor om ’n lekker eet-ervaring te bied,” sê hy.

Levi is ook die trotse eienaar van ’n uitgebreide wynversameling met van die beste wyne wat jy in die land sal kry. Seaview Restaurant se wynkelder is ook versier met foto’s van sy reise as sjef oor die afgelope 30 jaar.

“Ek het my persoonlike kenmerk by die ontwerp gevoeg en ’n wynverkoopspan geraadpleeg om my wynlys saam te stel.

“Ek kies en pak al van die eerste dag af my wynkelder. Ek drink nie wyn nie, maar is as jong sjef deur my mentor, wyle sjef Jürgen Raith (eienaar van Hotel Heinitzburg) geleer om met goeie wyn te kook en om ’n sous met goeie wyn te maak.”



LOOPBAAN

Levi het in 1997 direk ná skool by die Namib Sun Hotels aangesluit met ’n internskapprogram.

Daarna het hy sy professionele loopbaan by Midgard Guest Farm begin.

“Destyds was daar geen beroepsopleiding nie en jy kon nie beurse vir sjefs kry nie.

“Midgard onder Namib Sun Hotels wat deur die O&L-groep besit word, het in die vroeë 90’s meer as agt hotelle en lodges besit, insluitend die Bahnhof Hotel in Otjiwarongo en Otjiwa Lodge wat almal deel was van O&L. Hulle het vroeër interns op ’n tweejaarprogram ingeneem met die geleentheid om in Suid-Afrika te werk.”

Levi het vir ’n tweejaar-internskapprogram ingeskryf en het ’n sjefopleidingsprogram in Suid-Afrika voltooi. Sedertdien het hy voortdurend sy kookkennis en -vaardighede opgeskerp terwyl hy in die buiteland gewerk en gereis het.

“Die restaurantbedryf is nie nuut vir my nie, dit is in my bloed. Ek is geseënd, omdat ek kon kies waar ek gaan werk. Ek het nie noodwendig vir ’n pos aansoek gedoen nie, maar sou ’n geleentheid identifiseer en daar gaan werk aangesien ek wou leer.”

Volgens Levi het soveel mense en familie hom in sy loopbaan en reise ondersteun.

“Ek voel dus dat dit ook my verantwoordelikheid is om ander sjefs soveel as moontlik by te staan. Ek het vir mnr. Werner List en mev. List, die eienaars van O&L, gewerk. Ek het in ’n stadium in die WoermannBrock-bakkery in Swakop gewerk.”

Levi het ook vir Kurt Steinhausen, die eienaar van die Oropoko Lodge, gewerk.

“Ek het aan die deur van wyle sjef Jürgen Raith geklop omdat ek besef het, as ek ’n sjef wil word en ’n sakeman wil wees, moet ek gaan werk vir iemand na wie ek kan opkyk. Hy het my die hupstoot gegee wat ek in hierdie bedryf nodig gehad het.”

Daarna was hy vir ses maande vlugtig terug by Midgard as sjefkonsultant.



SY EIE PLEK

Levi sê die idee vir sy eie restaurant is gebore ná baie navorsing en terwyl hy oor die wêreld heen gereis en gewerk het.

Hy was in Duitsland, die Verenigde State van Amerika, Maleisië en die Verenigde Arabiese Emirate.

“Daar is ’n verskil tussen die bestuur van ’n kombuis en die bestuur van jou eie besigheid. Internasionale blootstelling is een van die beste leermeesters.

“Elke keer as ek gehoor het dat ’n ministerie plaaslike produkte wil bemark, het ek aangebied om ’n kookdemonstrasie te doen in ruil vir vliegkaartjies na die geleentheid.”

Tydens sy reise het hy talle sjefs ontmoet en ontdek dat selfs groot hotelle hul restaurante binne die hotelle kan uitkontrakteer en dat sommige restaurante deur sjefs bestuur en besit word.

Levi meen dat ’n diensrekord die sleutel tot sukses is.

“’n Goeie diensrekord gebou op gehalte-kliëntediens, is noodsaaklike bestanddele vir sukses. Kyk na jou gaste na die beste van jou vermoë.”

Hy glo ook daar is nie kortpaaie in die kombuis nie.

“Jy kan nie opmors en vinnige ’n ander plan maak nie. Dit werk nie so nie. Jy sal dit van voor af moet doen. Jy moet daardie ekstra ure insit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!