Alleen op ‘n ysterperd deur Namibië

Dié ervaring sal hy vir niks verruil
Tanja Bause
Die sosiale media het onlangs gegons oor die jong man wat alleen op sy motorfiets deur Namibië ry en sy tent tussen Hentiesbaai en die Spitzkoppe verloor het.

Dié solo-reisiger is Gert Maré (29) van Ermelo, Mpumalanga, in Suid-Afrika. Gert het op 29 Desember 2022 vanaf Ermelo op sy motorfiets weggetrek en deur Botswana tot in Hentiesbaai gery, waar hy by vriende gaan kuier het en sy toer deur Namibië begin het.

“Ek het besluit om een aand by die Spitzkoppe te oornag en het die grondpad vanaf Hentiesbaai aangedurf. Na ‘n baie erge sinkplaatpad het ek by die Spitzkoppe aangekom en toe besef my tent is skoonveld. Ek bespreek toe vinnig ‘n staanplek by die kampplek en verduidelik dat ek moet terugjaag om my tent te gaan soek. Ek het my bagasie by hulle gelos en my soektog na die tent begin.

“Ongelukkig kon ek dit nie vind nie. Ek het toe vir my vriende in Hentiesbaai daarvan vertel. Hulle het ‘n plasing op die Hentiesbaai Gesels-Facebookblad gemaak en dadelik het ek die hele Namibië op hol gehad oor my verlore tent. Ek moes daardie nag onder die sterre slaap - een van die mees asemrowende ervarings wat ek nóg gehad het. ‘n Mens kan amper niks daarvoor inruil om vir een aand onder die sterre te slaap nie, maar in my geval het ek my tent geruil en as dit die prys is, sal ek elke keer my tent ruil. Dit was ‘n ontsagwekkende ervaring.

“My Facebookblad het gegons soos die mense gepraat het van ‘Gert, sy ysterperd en sy verlore tent’. Tot vandag toe, as ek by ‘n vulstasie of kampplek aankom, word ek gevra: ‘Is jy Gert met die ysterperd? Het jy al jou tent gekry?’ Dan moet ek eers ‘n foto saam met die mense neem. Gelukkig het ek die volgende dag deur Swakopmund en Walvisbaai gery, waar ek toe vir my ‘n nuwe tent kon aanskaf. Wat ‘n ondervinding. Ek is soms lus en draai om en doen alles weer van voor af,” het Gert vertel.

AVONTUUR

Hy het al van jongs af ‘n groot passie vir nie net motorfietse nie, maar ook vir motors.

“Ek het op elke motorfiets waarop ek my hande kon lê, gery. Ek het elke voertuig se naam en selfs die grootte van die enjin en die modelnommer geken. Ek het besluit om die toer aan te pak omdat ek nog altyd iets besonders wou doen en ek is mal oor natuurskoon, avontuur en om so vry soos ‘n voël te voel. Hierdie is ‘n ‘once in a lifetime’-ondervinding. Ek wou graag die kultuur en mense eerstehands kom beleef. Daar is niks lekkerder as om jouself te toets en emosionele en fisieke struikelblokke te oorkom nie.”

Gert is mal oor Namibië en sy mense. Hy kan egter nie sê watter plek sover vir hom die mooiste is nie omdat talle bestemmings in die land so uniek is.

“Elke plek is die mooiste op sy eie manier. By elke plek is die een mens vriendeliker as die ander en almal is altyd bereid om te help.”

Gert was alreeds in die meeste dorpe langs die Namibiese kus en het ook al sommiges in die binneland besoek.

“Ek is tans, na 4 500 kilometer, in Aus. Van hier af sal ek Lüderitz toe ry om Kolmanskop te gaan besoek. Ek hoop om die wilde perde langs die pad te kry. Ek is dan van plan om teen die Oranjerivier af te ry tot in Oranjemund en dan terug na Suid-Afrika, maar eers nadat ek die Visrivercanyon gesien het en daar gaan kamp het.”

RAAD

Gert se raad aan ander jongmense is die volgende: “Gaan uit en leef jou visie, maak nie saak hoe laf dit vir ander mense klink nie. Gaan krap diep in jou hart en vind uit wie wil jy wees - nie wat nie, maar wie - en leef dit uit. ‘n Mens kan nie iemand anders se visie uitleef nie. Moenie bang wees vir verloor nie, anders sal jy jouself nooit verder druk nie. Met alles wat ek al ooit aangepak het, was ek bereid om te verloor.

“Moenie dat die vrees vir wat kan gebeur uiteindelik niks laat gebeur nie. Jou drome gaan nie vanself waar word nie, so werk jou gat af. Waar jy uitkom in die lewe word nie soseer bepaal deur waar jy begin het nie, maar of jy wel begin het. Laastens, as jy nie tyd het om iets die eerste keer goed te doen nie, het jy seker tyd om dit oor te doen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!