‘Almal het ’n plek op aarde’

Kinders lê haar na aan die hart
Miss Plus Size 2022 gaan stigma oor geestesgesondheid aanpak.
Tanja Bause
“Ons sal nooit 100% inpas nie. Ons sal nooit 100% wees wat die samelewing wil hê ons moet wees nie, maar almal het ’n plek op aarde. As jy voel jy is minderwaardig weens jou gewig, jou lengte – wat ook al volgens die samelewing verkeerd is – skud dit af en wees net wie jy is en wees rêrig goed in dit.

“Gebruik wat die Here vir jou gegee het en maak geskiedenis,” het Mareli Snyman (28), nuut gekroonde Miss Plus Size Namibia, gesê.

Sy is in Kimberley in Suid-Afrika gebore en het haar skoolloopbaan daar begin. Nadat die familie in Secunda en Bethlehem gebly het, het hulle Windhoek toe getrek.

“Dit was die beste besluit wat my familie nog gemaak het. Ek is so trots op my land en trots dat ek Namibië by volgende jaar se Miss Plus Size World kan verteenwoordig.”

Mareli het ná sy in Windhoek gematrikuleer het, verpleegkunde in Potchefstroom gaan studeer.

VERPLEEGSTER

“Vandat ek ’n klein meisie was, wou ek nog altyd ’n verpleegster word. Mense het altyd vir my gesê ek moet mooi dink, want dit is ’n ondankbare werk. Ek het besluit om deur te druk en is vandag nog nie ’n dag spyt nie. Dit is wie ek is en dit is wat ek moet doen.”

Volgens haar was sy altyd eerste op die toneel wanneer iemand seergekry het.

“Dit was vir my die ‘coolste’ wanneer iemand seergekry het. Ek was onmiddellik daar om te sien of ek kan help. Wat gaan hulle doen en hoe gaan hulle dit doen? Wat kan ek doen? Ek wou altyd mense help.”

Mareli begin vandag by ’n nuwe werk.

“Ek gaan primêre gesondheid doen en dit is wat ek nog altyd in verpleegkunde wou doen. Ek hou baie van die verhouding wat jy en die pasiënt opbou. Veral as dit ou tannies en ooms is. Dit is vir my lekker as ek hulle dag kan maak met iets kleins soos ’n glimlag of vriendelike woorde. Die klein goed wat ’n groot verskil in iemand se lewe maak.”

MISS PLUS SIZE

Sy was nie bewus van die kompetisie nie totdat sy dit op Facebook gesien het.

“Ek was so opgewonde want ek dink dit is belangrik dat groter vroue ook erkenning kry en herken word. Dat ons – wat deur die samelewing nie as normaal gesien word nie – ook gesien word.”

Sy het eintlik net vir die pret ingeskryf en om haarself te vind. Om haar selfvertroue ’n hupstoot te gee.

“Toe ek my oë uitvee was ek een van die finaliste en ek moes myself die hele tyd herinner oor hoekom ek dit doen. Toe het die kroningsaand aangebreek en dit het so vinnig verbygegaan.

“Ek was sesde onder die topsewe en ek het dit glad nie verwag nie. My mededeelnemers was almal ongelooflike mooi vroue en ek was net bly om onder die topsewe te kan wees, want dit was darem iets.”

Die vroue moes toe vrae beantwoord en Mareli se vraag was: Wat sou jy vir iemand in Namibië voorstel wat hulle moet verander?

“Ek het onmiddellik aan geestesgesondheid gedink. Baie mense sukkel veral vandag met hul geestesgesondheid, asook groter vroue met hul identiteit en geestesgesondheid. Dit vat nogal aan ’n mens as jy as anders gesien word. As iemand wat nie inpas nie en hoewel ek sê ‘ja’ ons is anders en dit omhels, is dit steeds erg om dag na dag houe te moet vat.”

Vezembouua Ngaizeko is as tweede prinses aangewys en Michelle Mushimba as eerste prinses.

“Ek het gedink Michelle gaan wen en toe sy as tweede prinses gekroon is, het ek gedink dit is nou klaar, ek wil huis toe gaan. Ek is nou moeg en klaar.

“Toe roep hulle my naam. Ek het gedink dit is ’n grap. Toe voel ek hoe my knieë lam raak en ek het begin om vir die Here dankie te sê. Dit was ongelooflik hoeveel positiewe energie van alle kante af gekom het.”

“Daar was en is nog steeds so veel positiewe energie van mense wat nie dink jy is nie goed genoeg nie, wat nie dink jy pas nie in nie. Ek het gesien ek is raak gesien vir wie ek is en nie vir hoe ek lyk nie.”

Mareli sal volgende jaar Namibië by Miss Plus Size World verteenwoordig.

“Ek gaan my jaar gebruik om mense se siening oor geestesgesondheid en groter vroue te verander. Ek sien myself as ’n groter vrou, maar dit was nog altyd vir my soos ’n vloekwoord, maar nou is ek trots om ’n groter vrou genoem te word. Dit is wat ek is en daar is niks daarmee verkeerd nie. Ons is almal vroue, ons het almal dieselfde goed, sommige van ons het net bietjie meer van dit of daai. Ek is positief oor my toekoms.”

GEESTESGESONDHEID

Volgens Mareli was sy altyd die buitestander op skool en sy was nooit die meisie waarvan almal gehou het nie.

“Ja, ek het vriendinne gehad, maar ek het nog altyd gevoel ek pas nie regtig in nie. Ek is baie geterg veral oor my geboortemerk. Dit was nie maklik nie en ek het met my geestesgesondheid begin sukkel. Iets waarmee ek vandag nog sukkel. Miss Plus Size het op die regte tyd gebeur. Ek kan die platform nou gebruik om bewustheid te skep en die stigma te verander.”

Kinders is ook na aan haar hart en sy wil minderbevoorregte kinders en mammas leer hoe om die optimale voedingswaarde te kry uit kos wat hulle tot hul beskikking het.

“Opleiding in geestesgesondheid en voedingswaarde is my passie en dit is wat ek vir mense wil leer. Ek kry negatiewe kommentaar van mense wat sê Miss Plus Size maak vetsug normaal. Ek verstaan dit, maar ons is in Afrika en om groter gebou te wees is reeds in ons gene. Kom ons vier dit. Hoekom moet ons weggesteek word? Ek stem saam, gesondheid is belangrik en vetsug kan tot siektes lei, maar ek het nie een van die siektes soos diabetes, hoë bloeddruk of cholesterol nie. Jy kan nog steeds groter én gesond wees.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!