Aminah, ’n ‘gebore vegter’

Kristien Kruger
Kristien Kruger en Iréne-Mari van der Walt – “In die stil gedruis van die neonatale intensiewesorgeenheid (Nicu), te midde van die piepende monitors en sagte fluisteringe van verpleegsters, het ’n klein vegtertjie genaamd Aminah om haar lewe geveg. “Gebore op net 26 weke en net 640 gram, het sy veels te gou die wêreld binnegekom, maar met ’n veggees soos geen ander.”

Só lui die plasing van die Lady Pohamba Privaat Hospitaal oor klein Aminah wat onlangs ná 105 dae in die Nicu, uiteindelik huis toe kon gaan.

“Vir 105 dae was Aminah se reis een van veerkragtigheid. Haar ouers het onwrikbaar gestaan en deur die glas van haar broeikas het hulle woorde van bemoediging gefluister en hul klein dogtertjie die krag gegee om aan te gaan.

“Haar groot broer, te jonk om die erns van haar stryd te verstaan, sou WhatsApp-video’s vir sy babasussie maak en wag vir die dag dat hy haar uiteindelik kon vashou.”

Dr. Simon Emvula, was die verloskundige vir Aminah se ma. Hy sê sy moes vroeg geboorte skenk weens ernstige komplikasies wat vroeg in die swangerskap ontwikkel het.

“Ons het regtig gedruk om haar tot by 26 weke te kry,” vertel hy.

Hy meen gevalle soos dié van Aminah is ’n getuienis van die krag en veerkragtigheid van hierdie “klein vegters”.

“As verloskundige sorg ons vir twee lewens; dié van ’n ma en hul ongebore baba en ons streef daarna dat beide die ma en baba gesond huis toe gaan. Om so ’n vroeggebore baba soos Aminah te sien wat gesond in haar ma se arms huis toe gaan, is hartverblydend en kosbaar.”



FAMILIE

Lady Pohamba se Nicu het Aminah se eerste tuiste geword en die span toegewyde verpleegsters het familie geword.

“Hulle het Aminah se mylpale met vreugde gevier, haar ouers deur die terugslae getroos en nooit opgehou glo in die dogtertjie wat geweier het om moed op te gee nie.

“Dit was hul vaardigheid, hul deernis en hul toewyding wat die onmoontlike in ’n werklikheid verander het. Hulle het verstaan dat die versorging van ’n vroeggebore baba nie net oor medisyne gaan nie, maar ook om hoop te koester.”

Aminah kon uiteindelik verlede Woensdag huis toe gaan ná weke se onsekerheid en gebede.

“Dit was ’n bietjie oorweldigend – ek het nie geweet hoe ek na haar sou omsien sonder die verpleegsters nie, maar hulle het my aanhou bemoedig,” vertel Aminah se ma oor die dag toe haar dogtertjie ’n week gelede ontslaan is.

Sy sê dit gaan goed met Aminah en dat dit – ten spyte van slapelose nagte met hul pasgebore baba – goed met die gesin gaan.

“Toe sy in haar ma se arms geplaas is, was sy vry van buise en monitors en net daar het ’n nuwe hoofstuk begin.

“Haar groot boetie het met oë vol verwondering sy hand uitgesteek om uiteindelik aan haar te vat. Haar pa, ’n man van stille krag, het sy gesin naby gehou, sy hart vol dankbaarheid,” het die hospitaal in sy plasing verduidelik.

Volgens die hospitaal was Aminah nie net ’n merkwaardige vegter nie, maar ’n lewende bewys van veerkragtigheid, medisyne en wonderwerke.

“Mag haar dae geseënd wees, mag haar lewe gevul wees met vreugde, en mag sy altyd onthou dat sy ’n gebore vegter is.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer