Amy bekoor met operaklanke in Damara

Tanja Bause
“In graad sewe het een van my vriende gesê ons moet by die skoolkoor aansluit en ek was opgewonde. Ons het as ’n groep ’n lied gesing en die onderwyseres het omgedraai, die musiek gestop en vir my gesê: ‘Jy sing vals. Jy moet nooit weer jou mond oopmaak om te sing nie’,” het die jong operasangeres Amy Afrikaner (29) gesê.

“Dit het my gebreek en ek het tot aan die begin van graad 10 nooit weer gesing nie, nie in die kerk nie en nie voor familie nie.”

Amy het in graad 10 ’n vriendin gehad saam met wie sy na CD’s geluister het.

“Ons het altyd die een of ander liedjie geoefen en wanneer ons bymekaar gekom het, het ons saam gesing. Dit was egter net ’n ding tussen ons twee. Sy sien toe ’n plakkaat waar lede vir die skoolkoor gesoek word en sy wou aansluit. Ek wou natuurlik nie.”

Die vriendin het in pousetyd vir die dirigent gesê Amy kan mooier as hy sing en hy het die uitdaging aanvaar en hulle na die klaskamer genooi om te kom sing.

“Sy het my in die klaskamer ingestoot en gesê: ‘Sing daardie lied, die een wat ons laas geoefen het.’

“Ek het dit gedoen en nadat ek klaar was het die man gesê: ‘Oukei, jy is deel die koor.’ Ek weet tot vandag toe nie hoekom sy self nooit aangesluit het nie. Sy het my in die kamer ingestoot en verdwyn.”

Amy het in graad 10 ook haar eerste solo-optrede gehad.

“Toe ek ’n kind was, het ek ook nie baie gesing nie omdat my nefies vir my gesê het ek klink soos ’n bok. In graad 10 is Magdalena Stoffels vermoor en die skoolkoor het ’n optrede ter herinnering aan haar gedoen. Hulle het besluit ek moet die solo doen. Ek was baie op my senuwees, maar mense het daarvan gehou.”

Na skool het Amy by die Namibiese Kollege van die Kunste (Cota) se jeugkoor aangesluit. Na vyf jaar by die koor het sy by Hermien Coetzee begin klasse neem.

“’n Vriend het my na ’n Barokkonsert genooi en ek het die lewendige, ongelooflike vrou op die verhoog gesien wat hulle voorgestel het. Ek het nooit gedink dat ek klassieke musiek sal doen nie, alhoewel ek daarmee grootgeword het. Na Cota het ek na haar toe gegaan vir klasse en sy het begin om met my te werk. Ek was eers soos ’n muis en sy het die selfversekerde leeu uitgebring. In 2021 het ek my eerste opera by ’n Barokkonsert gesing en ek het verlief geraak. Die gogga het my gebyt en hy het goed gebyt. Hy is soos ‘n bosluis, hy wil nie laat gaan nie. Ek het nooit geweet dat ek so lief vir iets kan wees nie.”

DAMARA

Amy het onlangs die operastuk The Love of God wat deur Osmond Owoseb in Damara gekomponeer is, opgevoer.

“Ek ken Osmond van die skoolkoor af waar hy die tweede dirigent was. Hy is altyd besig om te komponeer en skep. Hy het na my toe gekom met die stuk en ons het daaraan begin werk. Dit was uitdagend weens die klieke (van die Damara-taal). Wanneer die klieke op ’n hoë noot was, moes ek die klinker hou, anders kan die woord iets heel anders beteken. Dit was uitdagend, maar ek dink ek het dit bemeester.”

Osmond het nog talle ander stukke gekomponeer en Amy sal ook saam aan hulle werk.

“Die hoop is wanneer ek my eie konsert hou, sal ek van die stukke in Damara kan sing. Om operastukke in ons eie Namibiese tale vir die mense te kan sing sal net wonderlik wees.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer