Angela gereed vir ysige ultramarathon

Kristien Kruger
Die dapper Angela Alchin (35) sal vandag gereed staan om oor die volgende tien dae ’n ultramarathon van 250 km in die sneeubedekte Antarktika aan te durf.

Angela sal die eerste Namibiër wees om aan The Last Desert (Antarctica)-ultramarathon deel te neem – die enigste meerdaagse skofwedloop op die Antarktiese vasteland.

“Hierdie wedloop is my manier om te bewys dat jy dinge kan laat gebeur as jy dit genoeg wil hê,” het Angela voor haar vertrek gesê.

Dié ultramarathon is die vierde en finale skof van die 4 Deserts Ultramarathon Series en deelnemers moes minstens twee van die drie vorige ultramarathons voltooi het om daarvoor te kwalifiseer.

Angela het in Junie vanjaar aan haar eerste Racing the Planet-marathon deelgeneem en nadat sy die Gobi March-ultramarathon deur die woestyn in Mongolië klaargemaak het, het die marathon-gogga haar gebyt.

Sy het kort daarna ingeskryf vir haar volgende wedloop deur die uitgestrekte landskappe van Jordanië in die Midde-Ooste wat sy ook suksesvol voltooi het.

Angela se deelname aan hierdie twee wedlope en die feit dat sy hulle suksesvol kon voltooi, het haar toegelaat om nou aan The Last Desert-marathon deel te neem. Slegs 30% van die deelnemers is vroue.

Die ultramarathon sal vandag in Ushuaia – ’n dorp aan die heel suidpunt van Argentinië – afskop en sal tot 6 Desember duur.

Daar word voorspel dat temperature gedurende hierdie tyd tot so laag as -20 °C kan daal. Daarby sal deelnemers glo ook die geleentheid kry om in die ysige Antarktika-waters te swem.

Afgesien van die oorweldigende koue wat Angela tydens dié wedloop moet verduur, is die terrein ook grootliks onder sneeu bedek, wat in diepte wissel van net ’n paar sentimeter tot selfs meer as een meter.

Daar word ook van die deelnemers verwag om hul toerusting die heelpad in rugsakke te dra.

“My doel is om aan te hou beweeg en nie moed op te gee nie,” het Angela in ’n onderhoud met ’n plaaslike dagblad gesê.

Volgens Angela was sy aanvanklik nie van plan om aan die ultramarathon in Antarktika deel te neem nie, maar net vyf weke gelede het sy van plan verander en ingeskryf.

Sy moes dadelik begin om geld in te samel en met voorbereiding te begin en het die duine van Walvisbaai, waar sy woon en grootgeword het, aangepak om haarself gereed te kry vir die moeilike terrein wat die sneeu bring.

“Ek sien uit daarna om Antarktika se uitgestrekte landskap te sien en om met ander drawers van oraloor die wêreld te meng.”

Angela en die ander deelnemers se vordering tydens die wedloop kan regstreeks op Racing The Planet se webwerf gevolg word by https://www.racingtheplanet.com/thelastdesert/live.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!