Angy streef na groter hoogtes

‘Moenie ophou om in jouself te glo nie’
Omstandighede het Angelika (Angy) Jantze genoodsaak om Gelica's Cleaning Service in 2020 op die been te bring.
“Die absolute hoogtepunt in my lewe was toe ek mense in my besigheid kon aanstel; toe hulle self kos op hul tafels kon sit en hulle hul eie lewens kon verbeter,” het Angelika (Angy) Jantze (42), van Gelica’s Cleaning Service in Swakopmund gesê.

Sy is op Gobabis gebore en het haar skoolloopbaan op Doringveld in die Gobabis-distrik begin. Haar skoolloopbaan is egter in graad 6 kortgeknip weens ’n gebrek aan geld.

“Nadat ek die skool verlaat het, het ek op die plaas Louis Botha gaan bly. Ek het van boerdery geleer en ook hoe om hard te werk.

“Ná my 16de verjaardag het ek terug na Gobabis gegaan en babas opgepas totdat ek met my eerste werk as huishulp begin het. Ek het net N$300 per maand verdien aangesien ek nog minderjarig was.”

Angy het op 18 besluit om vir beter werksgeleenthede Windhoek toe te trek. Dit is hier wat haar loopbaan as ’n huishulp begin het.

“‘n Paar jaar later het ek werk by Mica as ’n skoonmaker gekry waar ek ses jaar lank gewerk het. Die besigheid het sy deure gesluit en ek het weer as huishulp begin werk.

“In die jare by Mica het hulle my geleer om met groot masjiene te werk, hoe om met die verskillende chemikalieë te werk en wat die gevare van die chemikalieë is.

“Ek het geleer wanneer ek handskoene en maskers moet dra. Ek het geleer hoe om groot geboue skoon te maak. Ek het al my ervaring daar opgedoen en alles geleer wat ek nou in my eie besigheid toepas. Hulle was my inspirasie om my eie skoonmaakonderneming te begin.”

SWAKOPMUND

In 2010 het sy Swakopmund toe getrek nadat haar man soontoe verplaas is.

“Die familie vir wie ek in Windhoek gewerk het, het ’n vakansiehuis in Swakopmund gehad en ek het die huis skoongehou en opgepas.”

Sy het twee dae per week as huishulp gewerk en N$1 000 per maand verdien. Haar werkgewer het egter besluit dat sy net een dag per week hoef te werk. Dit het beteken dat sy slegs N$500 verdien het.

“Ek was die alleen-broodwinner in daardie stadium. My man het sy werk verloor en was vir langer as drie jaar werkloos. Ek het met my salaris van N$500 vir my man en drie dogters gesorg. Ek het die hele huis gedra en dit was baie moeilik, maar die Here het ons daardeur gehelp.”

Dit was ook in die tyd toe Angy besluit het om haar eie besigheid te begin en Gelica’s Cleaning Service is in 2020 gebore.

“Met my agtergrond in skoonmaak, het ek in die moeilike Covid-tyd begin om skoonmaakdienste vanaf my huis te bied.

“Ek het ’n klein wasmasjien gehad en met ’n wassery begin. Ons het op WhatsApp die diens geadverteer en mense het ons gekontak. Ons het ’n kleinerige voertuig gehad en daarmee die klere by mense opgelaai en afgelewer.

“Ek het met ’n klein gewone wasmasjien begin en vandag het ek ’n groot industriële wasmasjien en tuimeldroër.”

Tans bied Angy werk aan ses vroue en twee mans.

“Die besigheid is stadig maar seker besig om te groei en ek skryf dit toe aan ons vriendelike en spoedige diens wat ons aan al ons kliënte lewer.”

Wanneer Angy aan die toekoms dink, sien sy haar eie perseel waarop haar besigheid geleë is.

“Ek sien in die volgende vyf jaar ’n besigheidsvoertuig en hoop dat ek meer as 50 mense in diens kan neem. Vyftig mense in wie se lewens ek ’n verkil kan maak deur ’n werk aan hulle te kan verskaf. Ek hoop ook om in meer dorpe en stede takke oop te maak en baie meer kontrakte vir groot geboue te kry. Ek wil my werknemers beter oplei om sodoende ’n beter diens aan my kliënte te kan lewer,” het Angy gesê.

RAAD

“Moenie ophou om in jouself te glo nie. Die Here het jou twee hande gegee en dit maak nie saak of jy skool voltooi het of nie. Jy sal groter hoogtes bereik wanneer jy die brein wat die Here vir jou gegee het, gebruik.

“Al wat ek kan sê is solank jy tien vingers het, kan jy iets vir die lewe beteken en beteken jou lewe iets, want dit is jou rykdom. Jy hoef nie hoogs geleerd te wees nie, gebruik jou hande en bereik iets. As jy ’n idee het, pak dit aan. Al is dit hoe klein sal jy iets bereik.”

DIENSTE

Gelica’s bied nie net skoonmaakdienste aan nie, maar het ook nog steeds die wassery.

Hulle laai die klere gratis op en lewer dit ook gratis af. Dit is egter vir nou net in Swakopmund.

“Ons maak kantore en huise skoon; niks is té klein of té groot nie. Ons maak selfs voertuie binne skoon. Ons was matrasse, meubels en matte. Dit is baie belangrik om jy matte elke paar maande professioneel te laat was. Wanneer jy jou matte stofsuig dan raak jy net ontslae van onder meer troeteldierhare, los vullis, sand en stof, maar wanneer jy die matte behoorlik was dan verhoed jy die groei van bakterie.

“Ons laai ook gratis jou los matte in Swakopmund op.”

Pensioenarisse ontvang 10%-afslag op al die dienste wat Gelica’s Cleaning Service bied.

Angy hoop ook om in die nabye toekoms ’n tak in Windhoek oop te maak.

“Tans bied ons ons dienste in Swakopmund, Walvisbaai, Hentiesbaai en Arandis aan. Loer in op Facebook (Gelica’s Cleaning Service) vir ons spesiale aanbiedinge.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!