‘Daar is net iets binne-in jou’

Iréne-Mari van der Walt
“Dis nie ’n sosiale loopbaan nie. Wanneer almal Kersfees vier, sal jy moet werk,” sê Chris Isaaks, ’n sjef wat danksy sy passie reeds verskeie suksesvolle restaurante en kostrokke geopen het.

Chris het sy kwalifikasie onder die bekende Suid-Afrikaanse sjef David Higgs voltooi. Daarna het hy na die Verenigde Koninkryk (VK) getrek waar hy vir vier jaar gewerk het by ’n restaurant wat in gourmet-hamburgers gespesialiseer het. Chris het toe teruggekeer na Namibië, sy grootwordland, en onder meer by die Avani Hotel gewerk.

“Dinge is baie stadig in Namibië as jy dit vergelyk met die VK,” sê Chris en voeg by dat hy weer vir sowat ’n dekade teruggekeer het na die VK. Met sy terugkeer na Namibië het hy by Droombos en Namibia Wildlife Resorts (NWR) gewerk voor hy sy eie pad gevolg het om sy eie besighede op die been te bring.

Chris sê voor sy sukses was sy ouers gekant teen sy loopbaandroom. “Ek wou nog altyd ’n sjef word, maar soos baie ouers wou myne nie gehad het ek moes ’n sjef word nie. Ek het egter later besluit ek gaan dit doen – daar is net iets binne jou,” sê hy.

Soos vir talle ander, is Chris se eerste en kosbaarste kookherinneringe dié wat hy met sy ma en ouma deel.

“Daar is dinge wat ek ná al my jare as ’n sjef nog steeds nie kan maak soos hulle dit maak nie,” sê hy.

“Om met vuur te kook is my passie,” verduidelik Chris. Sy eerste besigheid genaamd Dik Gerook het in gerookte vleise gespesialiseer. Daarna het Chris sy fokus verskuif na hamburgers met Burgermeester voor hy Cartel Streetfood by die 2021 Swakop Food Festival geopen het.

Deesdae speel Chris weer met vuur in die kombuis van Memphis Barbeque and Blues, sy restaurant in Swakopmund. Hy sê hy hoop om die restaurant, wat tans by die Cosdef-sentrum aan die buitewyke van die dorp geleë is, in ’n meer sentrale ligging te heropen.

Hy vertel sy passie vir rookvleis blom steeds by Memphis. “Ek is nog steeds opgewonde oor elke ding wat ek maak,” sê hy.

Dienslewering in dié bedryf in Namibië kan ook volgens Chris verbeter word.

“Op die beste ontvang jy gemiddelde diens. Ek dink dit gaan terug na jou toewyding om die beste te wees in dít wat jy doen. As jy ’n kelner of kelnerin is, moet jy besluit om jou beste te gee daarin. “Internasionaal is daar mense wat loopbane as kelners en kroegkelners volg. Hulle besluit dit is wat hulle wil doen en hulle sorg dat hulle baie goeie kelners en kroegkelners is – ek dink dit kom neer op ’n verandering in jou denkwyse,” sê hy.

Chris sê in die toekoms sal hy graag Amerikaanse “sielskos” wil voorsit en voeg by hy wil graag ’n groter verskeidenheid onder plaaslike restaurante sien.

“Dis asof almal dieselfde ding doen omdat hulle bang is om buite die boks te beweeg,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!