Dankbare Wanda deel met ander

Jacobi-gesin ‘terug in pragtige Namibië’
Jacobi sê sy sal die geld wat oor is ná haar behandeling skenk sodat ander gesinne ook gehelp kan word.
Elvira Hattingh
Wanda Jacobi, die 35-jarige ma wat vroeër vanjaar behandeling teen ’n seldsame kanker in Duitsland moes ontvang, is nou saam met haar gesin terug by hul huis in “die pragtige Namibië”.

Dit volg nadat sy haar behandeling suksesvol kon voltooi en “nou weer met vreugde en hoop na die toekoms kan uitsien, asook met die sekerheid dat ek die kanker oorwin het en ek my kind kan sien grootword,” het sy aan Republikein gesê.

Jacobi sê sy gaan nou die geld wat oor is van haar behandeling aan die Okanti-stigting skenk sodat ander gesinne ook gehelp kan word. Jacobi se behandeling is deur ’n geldinsameling befonds, met skenkings van vriende, familie en ander weldoeners in Namibië, tot so ver as Duitsland.

“Ons sal nooit vergeet wat julle vir my en my gesin gedoen het nie. Baie dankie,” het Jacobi gesê aan almal wat haar ondersteun het.

“Dankie aan almal wat ons die afgelope drie maande in hul gedagtes en gebede op ons pad gedra het.

“Om een persoon te help, verander dalk nie die hele wêreld nie, maar dit kan die wêreld vir daardie een persoon verander. Met julle hulp lyk my wêreld weer helderder.

“Ek is vas oortuig dat dit net danksy jul gebede was dat die behandeling so goed verloop het en ek amper geen newe-effekte gehad het nie,” het sy gesê.

AGTERGROND

Jacobi is vroeg in 2019 met chondrosarcoma gediagnoseer. Dis ’n seldsame beenkanker wat aan die basis van haar skedel gevorm het en na haar paranasale sinusse versprei het.

“Ná ’n tweede operasie in Julie 2022 in Kaapstad, het die gewas ongelukkig teruggegroei en die spesialiste het aanbeveel dat ek bestraling kry, want die keer het die gewas tussen die oogsenuwee en die slagaar gevorm en verdere operasies was nie net moeilik nie, maar ook lewensgevaarlik, terwyl die gewas net weer kan teruggroei,” het Jacobi verduidelik.

Sy sê die onkoloë in Suid-Afrika het proton-bestraling aanbeveel, peperduur behandeling wat sy slegs in Essen, Duitsland, sou kon kry. Jacobi verduidelik gewone bestraling sou haar haar sig gekos het en baie gesonde weefsel rondom die gewas beskadig.

Jacobi sê teen die tyd het hulle as gesin jare reeds ’n fisieke en sielkundige stryd teen kanker gevoer.

“Vrees vir die toekoms was gedurig my metgesel. Ons het dus besluit om wel die behandeling in Essen te kry,” het sy gesê.

Haar mediese fonds kon egter nie die behandeling dek nie, terwyl dit noodsaaklik was dat sy so gou as moontlik met bestraling moes begin. Dis toe dat familie en vriende ’n private geldinsameling begin het.

Die pleidooi vir Wanda het soos ’n veldbrand versprei in beide plaaslike, asook in internasionale sosiale media en wye reaksie ontlok.

“Binne tien dae is meer as 70 000 euro ingesamel, wat net ongelooflik is. Ek is steeds sprakeloos oor soveel liefde en al die ondersteuning!” het Jacobi gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!