Die gawe van skaak

Augetto Graig
“Dit [skaak] het deure vir my oopgemaak om my land te kan verteenwoordig. Dit het ’n groot en positiewe impak op my opvoeding gehad, en goeie resultate is ’n weerspieëling hiervan.”

So vertel die Vroue- meesterskandidaat (WCM) van die internasionale Skaakvereniging, Lishen Mentile.

Sy sê skaak het haar onder andere ook dissipline, geduld, kreatiwiteit, strategiese denke en besluitneming geleer.

Lishen het Namibië al verskeie kere by die Wêreldkampioenskap verteenwoordig.

Sy is ook die ambassadeur van die welsynsorganisasie Gift of Chess in Namibië en deel tans 1 000 nuwe skaakstelle onder meer by skole, gevangenisse, kinderhuise en jeugsentrums uit.

“Gift of Chess verander lewens deur die universele taal van skaak. Hulle versprei skaakstelle wêreldwyd om skaak as ’n lae koste, groot impak katalisator vir geleenthede te benut,” brei Lishen uit.

Sy is totaal toegewyd tot die verspreiding van die skaakstelle landswyd nadat die globale hoof van die organisasie, Susan Namangale van Malawi, haar genader het.

Om die koste van die veldtog te dek, het Lishen ’n GoFundMe-rekening geopen by https://gofund.me/0112a263 vir enige belangstellendes om ’n bydrae te lewer.

“Om die WCM-titel te verower was een van die kernoomblikke in my skaakloopbaan,” sê sy.

“Ek het uiteindelik my WCM-titel in 2018 by die Wêreldskaak-olimpiade in Georgia, Batumi, gekry. Ek het ’n puntetotaal van 4,5/9 behaal wat my hierdie titel besorg het. Van hier af is dit selfs moeiliker. Om hoër vlakke van skaakbemeestering te bereik, werk ek aan my skaak deur tyd te belê om nuwe skaakbeginsels te leer en te bevorder, video’s te kyk, oor skaak te lees, en betrokke te raak by baie skaakverwante aanlyn geleenthede saam met Grootmeesters,” voeg sy by.

Intussen bedryf sy en ’n mede-vroueskaakentoesias vanaf 2017 die Fianchetto Skaakakademie.

Die naam verwys na die ontwikkeling van ’n biskop, in ’n openingsbeweging, deur een of twee pionne te bevorder om beweging langs die biskop se diagonaal moontlik te maak.

“Die naam praat direk met ons omdat dit ons as ’n handelsmerk weerspieël. Vandag is die akademie baie meer gevestig as wat dit ’n paar jaar gelede was. Ons werk by skole, bied private lesse en groepsessies aan, en verskaf skaaktoerusting,” brei sy uit.

Sy is ook betrokke by Business Meets Chess & Kids van die Verenigde State van Amerika. Dit is ’n niewinsgewende organisasie wat ten doel het om deur middel van skaak die lewens van minderbevoorregte kinders te transformeer.

“As die sosialemediabestuurder, streekkoördineerder en administrateur van die organisasie, leer ek baie oor verskillende kulture, raak betrokke by mense van alle vlakke van die lewe, en sien die lewensveranderende stories van die kinders,” sê sy.

“Die invloed wat skaak op my lewe gehad het, is eerlikwaar die beste geskenk en een van die beste dinge wat met my kon gebeur het. Dit het my soveel waardevolle lewenslesse geleer wat ek in my daaglikse lewe toepas,” sê sy, en dat sy vasbeslote is om dié geskenk wyd te versprei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer