‘Die Here het Marlin vir ons gespaar’

“Ons was ses dae in die hospitaal. Marlin onthou nie die trauma nie. Ons het vir haar in die hospitaal verduidelik dat haar perd haar teen die kop geskop het. Toe ons uit die hospitaal kom, wou sy dadelik weer perdry.”

So vertel Elmarie Wilkinson, ’n Namibiër wat nou in Lusaka in Zambië woon, oor haar vierjarige dogtertjie wat ’n ernstige skedelbreuk oorleef het nadat ’n perd haar geskop het. Marlin is ook in Swakopmund gebore.

Die voorval het op Vadersdag gebeur toe klein Marlin saam met haar pa, Josh, die perde gaan voer het. Marlin het na haar eie perd, IPT (It’s Party Time), gestap terwyl Josh besig was om die eerste perd te voer.

Elmarie het verlede week haar getuienis in ’n onderhoud met met LIG-tydskrif gedeel en vertel dat Josh ’n benoude gil gehoor het waarna hy omgedraai en gesien het hoe IPT op Marlin afstorm, omdraai en haar skop.

“Josh het gedink sy is dood. Sy’t bly lê. Hy het met haar, pap en doodstil, in sy arms tot by die huis gehardloop.

“Haar kop was op twee plekke stukkend, die een gedeelte het soos ’n duik gelyk en toe die bloeding stop, kon ons mooi sien daar was stukkende been en ons kon stukkies van haar brein sien.

“Marlin se koppie het baie gebloei. Dit het ongelooflik seer gelyk!”

Elmarie vertel dat sy op haar knieë geval het en die Here gesmeek het om hulle dogtertjie se lewe te spaar. Sy het in die motor op pad hospitaal toe nie vir ’n enkele oomblik ophou bid nie.

“Ons het Marlin totaal aan ons Vader oorgegee en ook besef dat Marlin aan die Here behoort. Hy kan haar enige tyd kom haal. Marlin is sy eiendom en sy kind.”

Dit het sowat 35 minute geneem om haar by die hospitaal te kry waartydens sy van die pyn gekreun het.

“By die ongevalle-afdeling het hulle vir haar goed gegee vir die pyn. Sy’t kort-kort gehuil en gegil. Ek was in en uit met ons jongste baba Gina wat sewe maande oud is. Josh het nooit vir Marlin gelos nie. Hy het heeltyd by haar gebly, gebid en gehuil.”

Die rekenaartomografie (CT)-skandering het bevestig dat Marlin se skedel ’n fraktuur opgedoen het en ’n stukkie been in haar brein gesteek het. Hulle moes ook stukkies been wat versplinter het verwyder.

Marlin moes ’n groot breinoperasie ondergaan en Elmarie en Josh moes besluit of hulle Marlin met ’n mediese vliegtuig na Suid-Afrika gaan neem en of hulle haar in Lusaka gaan hou.

“Ons moes besluit en gou. Ek en Josh was op ons knieë. Ek besef toe, hier waar ons nou in hierdie hospitaal is, hier is die Heilige Gees teenwoordig.

“Of ons by die heel beste dokter in Suid-Afrika kom of hier in Zambië ... God self gaan aan Marlin werk,” vertel Elmarie.

Voordat Marlin die teater ingegaan het vir die operasie, het die dokters saam met Elmarie en Josh hande gevat en gebid.

“U hande is hulle hande, Here. Uself gaan aan Marlin werk. Ons dank U vir hierdie mense vir wie U die kennis gegee het om Marlin te kan help. In Jesus Naam. Amen.”

Marlin was sowat drie uur in die teater en ná die operasie het die dokter vir Elmarie en Josh gewaarsku dat daar probleme kan wees weens die skade aan Marlin se brein.

Sy sou dalk weer moes leer loop, die linkerkant van haar lyfie kon verlam wees, sy kon moontlik haar sig verloor en haar spraak was die dokters se grootste bekommernis.

“Die derde dag ná die operasie (omtrent tweeuur die oggend) sit Marlin regop. Ek was wakker met babasussie wat intussen siek geword het met hoë koors. Toe glimlag Marlin vir ons. Sy het beduie sy is dors en honger. Toe sê sy iets en net daar begin sy praat.

“Dit wat met Marlin gebeur het is 100% die Here se genade. Dit is sy genesende krag wat haar teruggebring het,” vertel Elmarie.

Mense het glo vir Elmarie en Josh gesê dat hulle die perd moet skiet wat vir Marlin geskop het.

“Ons voel ons kan nie die perd blameer nie. Dit voel meer dit is ons eie skuld, want ons weet die perde is onvoorspelbaar tydens etenstyd.

“Ons is net baie dankbaar dat die Here Marlin vir ons gespaar het.

“Ek hoop en bid dat die Here hierdie storie gebruik om mense nader aan Hom te bring. Ons het nie woorde om dankie te sê vir al die gebede en boodskappe uit Suid-Afrika, Namibië en Zambië nie, ons God is groot!”

Bron: Lig-tydskrif: LEES MEER

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!