• Tuisblad
  • Mense
  • Die passie en liefde agter Shema Coffee Roasters

Die passie en liefde agter Shema Coffee Roasters

Linique en André is ‘lus vir nog ’n uitdaging’
'n Paartjie van Windhoek poog om met hul koffiewinkel 'n ruimte te skep waar mense gemaklik en gesellig hulle koffie en lekkernye kan geniet.
Kristien Kruger
’n Jong man met ’n passie vir koffie en ’n vrou met ’n liefde vir bak – dis beslis ’n wenresep en boonop is dié bedrewe duo ook verlief en verloof.

André van der Berg en Linique Theron het sowat twee jaar gelede ’n dapper sprong geneem en kop eerste in die koffiebedryf ingespring en hul eerste kafee in Klein Windhoek met die naam Shema Coffee Roasters oopgemaak.

Hulle het onlangs hul tweede tak in die sentrale sakekern oopgemaak en het ook talle ander verwikkelinge in hul persoonlike lewens verwelkom.

Toe André en Linique hierdie avontuur begin het, was hulle in ’n verhouding en albei op die regte plek om iets nuuts aan te pak.

“Nie een van ons het in daardie stadium ’n werk gehad nie. Ek het net teruggetrek van Suid-Afrika af en André het sy werk bedank. Ons het ’n geleentheid gesien en ons het ’n kans gevat en die Here het al die nodige deure vir ons oopgemaak,” vertel Linique.

André het nog altyd ’n passie vir goeie koffie gehad en daarom het hy besluit om sy eie versnit (blend) saam te stel en self te rooster.

Kort nadat Shema sy deure vir die eerste keer oopgemaak het, het André ’n rooster vir koffiebone bestel en dit net daar in die winkel neergesit en aan die werk gespring. Shema het dus ’n unieke koffiegeur en die koffiebone word ook verpak sodat elke koffieliefhebber dit ook by sy eie huis kan maak en geniet.

Dit is egter die atmosfeer by Shema wat dit besonders maak en jou bietjie langer aan jou koffie laat teug.

Linique, André en hulle span se vriendelikheid maak elke besoek die moeite werd.

Afgesien van die heerlike en unieke koffie, is Linique ’n bobaasbakster met ’n passie om alles wat lekker lyk, self te probeer maak.

“Ek het by my ma geleer en dit altyd geniet om saam met haar te bak,” vertel Linique.

Die naam Shema het natuurlik ’n dieper betekenis wat beide André en Linique na aan die hart lê. Dit is ’n Hebreeuse woord en beteken om te luister en gehoorsaam te wees.

“Ons het dit gekies omdat dit [gehoorsaamheid] iets is wat ons in ons lewens wil toepas.”

TWEEDE WINKEL

Volgens Linique het hulle al ’n ver pad gekom van waar hulle twee jaar gelede begin het, maar die groei het stelselmatig gebeur.

“Ons het ’n baie lojale kliëntebasis opgebou en met die tyd regtig vriende gemaak en ongelooflike mense leer ken. Ons probeer dit een stap op ’n slag te vat en om voortdurend te verbeter.”

Die nuwe tak is in Onafhanklikheidsrylaan geleë, reg voor die Old Mutual-toring in die middestad. Linique vertel dat hulle eendag gesien het die ruimte is oop en nadat hulle gebel en die huurbedrag uitgevind het, het hulle besluit om die geleentheid te benut.

“Groei is opwindend en ons was lus vir nog ’n uitdaging.”

Die tweede winkel het ’n soortgelyke gevoel en atmosfeer as hul eerste winkel en volgens Linique streef hulle daarna om ’n gemaklike area te skep waar mense mekaar kan ontmoet vir ’n gesellige afspraak.

“Ons wil ’n ruimte skep waar mens veilig voel om te kan deel en ook waar ons hulle kan leer ken en anders om. So het ons al ’n lekker gemeenskap by ons eerste winkel opgebou.”

Linique en André vertel ook dat hulle heelwat lesse geleer het sedert hulle in Julie 2022 begin het en dit sluit in beplanning, begroting en hoe om met mense te werk.

“Almal is nie altyd maklik nie,” skerts Linique.

“Mens leer ook mense se patrone ken en hoe ons almal eintlik maar ‘creatures of habit’ is. Ons het ook besef hoe baie mense daar is wat ons genuinely wil help en wil bydra tot ons besigheid en ons waardeer dit opreg.”

VERLIEF EN VERLOOF

Linique en André het ook onlangs verloof geraak en André, wat ook ’n talentvolle rugbyspeler is, is tans in Frankryk waar hy professioneel rugby speel.

“Ons is onlangs verloof en dit is natuurlik ’n lekker tyd in ’n mens se verhouding. André het ’n kontrak gekry om in Frankryk te speel en ons is baie opgewonde oor nog ’n droom wat waar word.

“Ons slagspreuk is ‘my cup runs over’ en ons is regtig besig om overflow in oormaat te beleef.”

Dit laat Linique natuurlik met ’n groot uitdaging om albei die winkels te bestuur, maar dit skrik haar nie af nie, veral omdat sy ’n ongelooflike span het wat haar bystaan.

“Die bestuur van al twee winkels sal hoofsaaklik op my neerkom, maar dit is gelukkig nie net ek nie. Ons het ’n nuwe sakevennoot aan boord wat julle by die nuwe winkel sal leer ken. Sy naam is Luke en hy is ’n groot aanwins vir ons en die besigheid. Ek is seker julle gaan hom net so baie geniet soos wat ons doen.”

Luke is nie al helpende hand nie. André se suster, Chrismarie, het ook waardevolle ervaring in die bestuur van ’n koffiewinkel en help ook gereeld uit.

“Sy is meer as bereid om sy [André] se plek vol te staan en te help met alles waaraan ’n mens moontlik kan dink. Ons is baie dankbaar vir haar en julle gaan haar beslis ook nog beter leer ken.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!