Die Tank Girls durf Van Zylspas aan

Takel avontuur met ‘afleweringsmotorfietse’
Dit was amper té maklik. Ons het nie eens 'n pap wiel of 'n bloukol gekry nie, sê Skinny en Chikita oor hul Kaokoland-ervaring.
Tanja Bause
“Persoonlik dink ek oom Ben het Van Zylspas as ’n grap gebou. ’n Grap wat op talle mense se bucket list opgeëindig het. ’n Grap wat die twee Tank Girls onder hulle gordel het,” het Skinny van Schalkwyk gesê.

Sy en Chikita Mentz, ofte wel die Tank Girls, het op twee Hero Xpulse 200-motorfietse, Comet en Clark, Van Zylspas afgery.

“Ek was so agt jaar gelede saam met vriende daar en ek wou vir Chikita wys hoe mooi en moeilik die pas is. Toe ons die klein Hero’s gekry het, het ons net die avontuur gesoek. Baie mense het nie geglo dat die klein bikes dit sou maak nie, maar ons het altyd geglo, hoe kleiner hoe lekkerder,” het Skinny gesê.

Die roete vanaf Opuwo via Van Zylspas en terug na Opuwo het die duo ses dae geneem. Dit op die klein Hero’s of die “afleweringsmotorfietse” soos die twee hulle gedoop het.

“Clark en Comet het hulle soos wenponies gedra. Daar was nie ’n enkele probleem nie. Hulle het nie eens een keer ’n hoes gegee of ’n hoef verkeerd gesit nie. Hulle was lig oor die klippe, met genoeg oemf om teen die steiltes uit te klim.

“Die Marienfluss se dik sand was geen probleem vir hulle dun bande nie. En hulle brandstof (’n 13 liter-pens) het die pad met gemak gemaak. Ons sou dit nooit met ander motorfietse wou aandurf nie,” het sy gesê.

Talle is van mening dat die aanloop tot Van Zylspas die moeilikste deel is. Vir die Tank Girls was dié deel van hulle reis egter meer senutergend aangesien hulle nie geweet het wat om vorentoe te verwag nie.

“Die dag was baie warm en die paaie was nie vreeslik duidelik gemerk nie. Dan tref jy die eerste step down, en direk daarna die kort, steil, klipperige Helshoogte. Maar as jy eers besef dis regtig die ergste wat jy gaan kry, is alles baie maklik. Ons twee jaag ook nie en verkies om ons tyd te vat. Ons stop gereeld vir foto’s, versnaperings en tequila; omdat ons kan.”

“Dit was amper té maklik. Ons het nie eens ’n pap wiel of ’n bloukol gekry nie. Die mense was vreeslik vriendelik en behulpsaam, en selfs in die middel van nêrens hoor jy iemand in Afrikaans roep. As ons dan stop, het die mense vir ons verduidelik watter paaie om te vat en waar ons koeldrank kon kry (ek dink hulle het hulle bier geheim gehou).”

Beide is dit eens Namibië is asemrowend mooi, en die eensame kameelperd was die hoogtepunt.

“Hy het vir ’n ruk na die twee klein perdjies gestaan en loer voordat hy die pad met lang hale oor die rooi sand gevat het.”

“Van Zylspas self was nie regtig baie moeilik nie, dit was egter onvergeetlik om daardie wêreld te sien, die sand in jou boots uit te gooi, die brakwater te drink, om die pers son oor die woestyn se eindlyn te sien sak. Nie baie mense kan saampraat as jy daardie stories vertel nie.”

SKINNY

Skinny ry al amper 20 jaar motorfiets. Alles het begin toe sy verveeld by die huis was en na opwinding gesoek het.

“Toe kry ek die blink idee om motorfiets te ry. Ek het niks van motorfietse geweet of hoe hulle werk nie. Dit sou nou net die uitdaging wees wat ek nodig gehad het. Oor die laaste 20 jaar het ek na al die motorfiets-‘rallies’ gegaan, ek het begin jaag in die regional 600cc-klas, en ek het begin om avonture op stofpaaie te soek, en het selfs toertjies begin doen.”

Die uitdagendste toer vir Skinny sover was toe hulle na Pafuri via Jackspas gery het.

“Ons het in ’n militêre sone vasgeval waar olifante en leeus rondloop. Dit was seker die naaste wat ons nog aan die dood gekom het. Die opwindendste was die Le Petite Puzey-trip, waar ons twee Puzey 70cc Thumpa pit-motorfietse vanaf Kaapstad na Johannesburg gery het (1 852 km). Daardie twee Thumpas het oor die Swartberge gery, in ’n tronk geslaap en selfs op Phakisa-renbaan ’n rondte of twee gejaag.”

CHIKITA

“Ek het 28 jaar gemors voor ek begin ry het. Ek is nou so 15 jaar lank in die saal, en sover moontlik ry ek altyd langpad. Ek dink Jackspas was waarskynlik die uitdagendste omdat ons nie enigsins vir die hitte en droogte voorberei was nie, maar een van die opwindendste was dalk die keer toe ons af is na die Spoegriviergrotte. My fiets het bietjie probleme gee, maar ek dink ook dit dra by tot die onvergeetlikheid van die herinnering. Ook die natuurskoon, en mense wat ons oral ontmoet het.

“As ek eers begin terugdink aan al ons ritte, dan is dit eintlik moeilik om te kies. Elke keer wat ons op die fietse spring is vir ons ’n geleentheid om nóg vreugde by ons nimmereindigende versameling te voeg.”

TOEKOMS

Tans is die Tank Girls besig om reëlings te tref vir volgende jaar se AntiPants-AntiPoaching-rit.

“Hierdie jaar ondersteun ons die renosters en met meer as 200 fietse wat deelneem – al die ryers slegs in hulle onderbroeke – verg dit bietjie meer logistieke reëlings as ’n gewone saamtrek. Gaan loer gerus op ons webtuiste www.tankgirls.co.za vir enige ander staaltjies en inligting.

BLOKKIE

SKINNY SE MOTORFIETSE

My eerste boyfriend was Billy-Bob, die Yamaha R6. Ek het nie eens geweet hoe om ’n bike te start toe ek hom daardie dag by die winkel gaan haal het nie. Maar intussen het my stal uitgebrei.

Tans het ek:

Brom (Suzuki DR650) – my staatmakerperd

Galop (Suzuki DR650) – maar sy hart het ingegee en ons gebruik hom nou vir onderdele

Kapow (Suzuki DR650) – hy’s ’n wilde hings én moeilikheidmaker

Dapple (Suzuki BX120 SuperStar) – Die flat track-kampioen en algemene genotmasjien

Clark (Hero Xpulse200) – die klein brawe “delivery bike” wat berge aandurf, want almal dink hy sal dit nie maak nie

Billy-Bob (Yamaha R6) – my hart, my siel, my liefde

CHIKITA SE MOTORFIETSE

Ek het drie fietse in my lewe, want hulle kom en gaan maar soos wat hulle kan uithou met my rystyl. Ek het vir Nellie, die grys Suzuki DR650, wat die hoofsaak is. ’n Teerpad- en grondpadfiets, soos die natuur dit wil hê.

So paar jaar gelede het ek Bubblegum, ’n blou 1980 Kawasaki KH110 bygekry vir die prys van twee vonkproppe en ’n oliefilter. Goedkoop en onbetroubaar, maar die vetste pret wat ek al ooit gehad het.

Dan is daar die Xpulse 200 genaamd Comet, wat Hero Suid-Afrika aan ons geleen het, wat my opnuut weer laat voel asof ek alles vir die eerste keer ervaar, en dis die tipe opwinding wat mens van jou motorfiets wil hê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!