Die toekoms is groen

Verskaf ’n wye reeks organiese produkte
Farm Krumhuk wil 'n gesonder toekoms vir Namibië en haar mense verseker.
Jemimah Ndebele
Farm Krumhuk, wat sowat 25 kilometer buite Windhoek geleë is, is nie net bekend vir die heerlikste soetgebak Sondae onder die reusebome van die plaashuis nie, maar ook vir hul wye reeks organiese produkte wat by verskeie markte in Windhoek opgeraap word.

Krumhuk is ook sinoniem met organiese landboupraktyke en volhoubare boerdery met lewende hawe.

Een van die eienaars van die plaas, Clemens Voights, is passievol oor die voordele van volhoubare boerdery deur gebruik te maak van verskeie organiese metodes.

Een van die metodes is om rotasiestelsels vir weiding noukeurig te beplan wat ontwerp is om die gesondheid van die weiding en grond te handhaaf. Aan die ander kant sorg dit dat die vee se gesondheid en produktiwiteit van topgehalte is.

“Dié beplande rotasiestelsels stel ons in staat om ons weiding meer doeltreffend te bestuur,” verduidelik Clemens.

“Deur die weivelde te roteer, gee ons elke deel van die grond tyd om te herstel. Dit voorkom weer oorbeweiding en bevorder biodiversiteit.”

Die plaas dien as ’n gemeenskapspilpunt en ondersteun sowat 80 inwoners en het 34 mense in diens. Afgesien van landbou, huisves dit ’n miniwinkel, bakkery, slaghuis, gastehuise, kindertuin en ‘n skooltjie.

Clemens sê Krumhuk fokus daarop om met Nguni-beeste te boer vir beide vleis en melk en gebruik die mobiele krale om die weiding te roteer.

Die plaas het ook ’n robuuste sakemodel en produseer ’n verskeidenheid kosprodukte wat by hul winkel op die perseel en ook by plaaslike markte soos die Green Market in die hoofstad verkoop word. Van die produkte sluit ’n wye reeks groente, vrugte, speserye, olies en selfs

ratatouille in.

Krumhuk is ook een van die sleutelverskaffers vir die organiese afdeling van die SuperSpar by die Maerua-inkoopsentrum.

Die spesiale afspraak elke tweede Sondag met koek en koffie is ’n groot trekpleister vir beide oud en jonk wat uit die stad wil wegbreek en die stilte en mooi van die natuur en die prentjiemooi Auas-berge wil ervaar.

Vera Corry, ’n raadslid van die Namibiese Organiese Vereniging (NOA), sê die plaaslike voorsiening van organiese produkte aan die plaaslike mark is te min om in die aanvraag te voorsien. Vera sê Namibië het net vier gesertifiseerde organiese plase en een wat internasionaal erken word.

“Pogings om konvensionele boere aan te moedig om organiese metodes te gebruik en aansoek vir sertifisering te doen, loop hulle in finansiële en opvoedkundige struikelblokke vas. Om aansoek by die Namibiese Organiese Vereniging te doen, wissel die jaarlikse sertifiseringskoste van N$3 000 vir plaaslike sertifisering tot tussen N$40 000 en N$50 000 vir internasionale sertifisering.

Volgens Vera is nog ’n kritieke kwessie in die plaaslike bedryf die afwesigheid van regsbeskerming vir die term “organies” wat verbruikers kwesbaar maak vir misleidende inligting.

“Dit is noodsaaklik vir verbruikers om te kyk vir die kenteken van die NOA-sertifisering wanneer hulle produkte koop wat werklik organies is,” maan sy.

Clemens onthou die geweldige uitdagings wat die droogte in 2019 vir Krumhuk gebring het en wat hul beeste van 600 tot 90 verminder het.

“Die droogte van 2019 was vir ons die ergste, selfs erger as die een in die 80’s. Dit het ons egter so baie geleer oor die belangrikheid van grondbestuur en die voorbereiding van grond om die impak van die droogte van toe en ook die een wat ons tans ervaar, te bestuur.

“Gelukkig is die bietjie reën wat ons gehad het genoeg om die kudde te onderhou aangesien die grond so goed voorberei is. Deur voor die tyd die grond voor te berei, kan ons die weerstandigheid en vermoë om vog te behou, verhoog wat noodsaaklik tydens droë tydperke is,” sê Clemens.

Volgens hom is Plaas Krumhuk ook teen die onthoring van beeste, ’n praktyk wat dikwels gebruik word om aan die ekonomiese aanvraag te voldoen omdat meer beeste sodoende vervoer kan word.

“Die onthoring van beeste is ’n wrede praktyk wat eenvoudig gedoen word om in die ekonomiese behoeftes van die boer te voorsien,” sê Clemens.

“Ons sien organiese boerdery nie bloot as ’n verbygaande tendens nie, maar ’n fundamentele skuif na volhoubare landbou,” beklemtoon Vera.

“Dit gaan daaroor om ’n gesonder toekoms vir beide ons land en ons gemeenskappe te verseker.

Organiese landbou, onderskei deur die afhanklikheid van natuurlike stowwe en prosesse, het ten doel om die ekologiese balans te verbeter, terwyl dit terselftertyd biodiversiteit en die vrugbaarheid van die grond bewaar.

Biodinamiese boerdery, ’n onderafdeling van organiese landbou, beklemtoon weer holistiese boerderypraktyke en integreer ’n spirituele en organiese benadering. Beide stelsels maak nie gebruik van sintetiese chemikalieë en geneties-veranderde organismes nie en gee voorkeur aan die rotasie van oeste en kompos.

Op Krumhuk is hierdie beginsels diep verweef in die plaas se noukeurige boerderymetodes.

Die besoek aan plaas Krumhuk is die breinkind van die NOA in vennootskap met die Namibiese Natuurstigting en die Spilpunt vir Kennis oor Organiese Landbou en Landbou-ekologie in Suidelike Afrika (KHSA), met die doel om die noodsaaklike rol uit te lig van organiese landboupraktyke en volhoubare boerdery met lewende hawe.

Die KHSA, een van vyf spilpunte onder die vaandel van die Sentrum vir Kennis vir Organiese Landbou (KCOA), is in 2020 gestig en fokus op die skep en deel van inligting wat pasgemaak is vir verskeie gemeenskappe en rolspelers.

Die sentrum se doel sluit in die bou van ’n netwerk van erkende inligting oor organiese praktyke om volhoubare landbou te bevorder.

Verlede jaar het die KCOA ’n webtuiste van stapel gestuur om toegang tot ’n reeks inligtingsprodukte te verleen en wat onder meer publikasies, plakkate en handleidings tot potgooie insluit. Die doel is grootliks om inligting met betrekking tot organiese landbou en klimaatsverandering te deel. Omdat veral klimaatsverandering voortgaan om ernstige uitdagings aan onder meer boere te rig, is dit juis inisiatiewe soos diè by Plaas Krumhuk wat die veerkragtigheid en belofte van organiese landbou in die bou van ’n volhoubare toekoms uitlig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!