‘Dink soos Louis’

Strafregtelik vervolg weens sy rassistiese uitlatings
"Vennote" wat waag uit te vra of enige negatiewe kommentaar op die onderskeie groepe deel, word summier afgegooi en hul "wallets" geblok.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Man wat geld probeer bymekaar het vir kankerbehandeling, oumense wat staatmaak op hul pensioene.

Dit is van die etlike Namibiërs wat van honderde tot duisende Namibiese dollar by die omstrede diamantsmous Louis Liebenberg se “diamanthandelkonsep” as sogenaamde vennote in Tariomix en Forever Zircon ingekoop het en nog nie ’n duit van hul beloofde opbrengste van tot 100%-wins gesien het nie.

Liebenberg self het op die verskeie sosialemediaplatforms sy “vennote” gedreig geen uitbetalings word gemaak totdat meer mense nie inkoop nie.

In een van die boodskappe waartoe Republikein toegang het, gee Liebenberg opdrag aan sy personeel om almal wat negatiewe kommentaar lewer of vra oor wanneer hul “pakkies” uiteindelik gaan geld oplewer, summier van die groepe af te haal en te blok.

“Mense wat nie arende is nie, hoort nie hier nie, hulle is hoenders, haal hulle dadelik af! Ek wil hulle nooit weer op hierdie blad sien nie, blok hulle almal. Die wat oorbly, kan ek mee werk!”

Volgens ’n Namibiër het hy ’n gesamentlike ondernemingsooreenkoms met Forever Zircon vir N$200 aangegaan ten opsigte van “Diamanthandel van 5,32 karaat diamant/e op ’n termyn van plus minus 26 (ses-en-twintig) werksdae met ’n winsmarge van plus minus 110%.” Dié kontrak en registrasie as vennoot beteken toegang tot die WhatsApp-groep vir interne kommunikasie, sowel as die webtuiste en Facebook-blad.

Hy het dadelik gesien “die man gebruik vrees en speel dit op die mense af. Hy stuur ook sy dreigemente deur te sê as jy nie sy video’s kyk en ‘comment’ op dit nie, word jy afgehaal. Kan een man soveel vrees in mense in dryf?” sê die Namibiër.

Volgens hom was Liebenberg kwaad omdat minder mense in sy pakkies diamante begin inkoop het.

“Dis absolute bog dat Louis Liebenberg met sy eie mond sê moenie meer as 10% van jou inkomste insit nie, want dit is hoë risiko. Terselfdertyd dreig hy mense om in te koop anders ‘vou ons besigheid’.”

In nog ’n stemboodskap aan sy “vennote” vertel Liebenberg hy sit op ’n lughawe in Europa en wag op ’n vlug en spog dan oor ’n 9,1 karaat diamant wat by Buffelsbank uitgehaal is.

Hy belowe sy vennote sy kop is “in die regte baan” en erken “ons sukkel om ons pakkies te verkoop, want julle luister na enigiemand anders buiten die kaptein van die skip”.

Liebenberg sê ook uitbetalings gaan ’n tyd neem, want “dis maar hoe die mark is”.

Maar dreig weer “alles is in julle hande, wys vir my julle is ernstig oor die besigheid, dan wys ek julle ek is ernstig oor die uitbetalings.”

Hy spreek sy seën uit oor sy “luisteraars” en maan “hou op soos ’n ‘loser’ dink, dink soos Louis!”

Die Namibiër wat durf waag het om iets op die groepe te sê, is ook weens sy “negatiewe kommentaar” summier verwyder.

“Mense het my gebel en gesê hulle kan nie glo ek sê iets nie. Daar maak ek toe kontak met ’n vrou wat verskriklik baie geld belê het en nog niks ontvang het nie. En my hart gaan uit na mense wat geld ingesit het en niks terugkry nie. Mense moet gewaarsku word!”

Nog ’n Namibiër is ook van die groepe verwyder en navraag oor waar haar uitbetaling ná maande is, is betugtig dat sy as sy by die reëls gehou het “deur 10% van jou kapitaal te belê”, sou sy nie in ’n situasie beland het waar sy nou geld nodig het nie.

Die vrou is van mening Liebenberg het myne en masjinerie met die “vennote” se geld gekoop.

“Ek is nie skaam om te sê ek het ’n fout gemaak nie. Mense het letterlik miljarde by hom inbetaal en nou het hy ’n kontantvloei probleem,” sê sy.

Op die Facebook-blad Forever Diamonds and Gold word uitgestip dat dit ’n “hoërisiko-besigheid is” en dat vennote geen pakkienavrae mag doen nie. Dit maan ook “om deel van hierdie groep te wees verg wedersydse vertroue en enige negatiewe uitspraak oor die besigheid of oor individue op die platform, sal daartoe lei dat jy verwyder word vanaf al ons platforms sonder enige vergoeding van jou oorspronklike kapitaal”.

Liebenberg maan op die WhatsApp-groep hy moet R10 miljoen per dag kan inkoop” of hy kan nie voortgaan om in die naam van Zircon besigheid te doen nie. My versoek is eenvoudig: staan saam en koop in of ek staak alle pakkie aanbiedings aan Zircon. Groete. Louis.”

Hy verloor dan sy humeur en skryf “julle praat heeltemal te veel terwyl die donnerse pakkies staan. Blerrie hoenders. Kyk na wat aan julle uitbetaal word teenoor wat julle insit!”

Op Facebook is ook ’n blad Boereverneukers Liebenberg en Kleynhans met sowat 1 200 volgelinge waarop mense oor Liebenberg se “Ponzi-skema” gewaarsku word.

Een van die inskrywings lui “hoekom raak my 28 dae-pakkie nou al vyf maande? Daar is mense in Namibië wat nou al iets soos 500 000 by jou het en dit is nie van die gevriesde geld nie. Hulle wag nou al twee jaar.”

Daar is egter ook diegene wat Liebenberg ten volle ondersteun en die hoop uitspreek dat “my volk begin besef hoe die media hulle indoktrineer en hulle eie gesonde verstand en oordeel steel!!!”

“My gebede is dat ons nie sal luister en lees wat die media sê nie, maar dat ons sal lewe spreek oor Louis en ons besigheid. Kom ons lig net ons oë ’n bietjie hoër as die hoogste golf, sodat ons God kan sien. Ons tonge is magtig, kom ons staan saam en spreek lewe.”

“Maar ons onthou Steve (Hofmeyr) en al die ander wat ’n verskil wil maak, julle sny die kele van ons Afrikener volk!”, terwyl die media beskryf word as “magsbehepte vrymesselaar beheerde media van die wêreld”.

Uit Suid-Afrika berig Netwerk24 intussen die Menseregtekommissie (MRK) gaan Liebenberg strafregtelik vervolg weens sy rassistiese uitlatings. Volgens Rapport is die algemene reguleerder van banktransaksies in die buurland boonop besig met sy eie ondersoek na Liebenberg se skemas.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!