Drie dekades van pendel
“My oorlede mamma het elke oggend R5 vir my gegee as ek Windhoek toe gekom het – R2 vir die pad Windhoek toe en R2 vir die pad terug Rehoboth toe. Met die R1 wat oorgebly het, kon ek nog middagete koop. Die goeie ou dae tog,” het Mara Amalia Beukes (52) gesê.
Mara is een van duisende pendelaars wat elke oggend en aand tussen Rehoboth en Windhoek pendel.
“Ek doen dit nou al vir 33 jaar en daar lê nog ’n hele paar jaar voor voordat ek gaan stop. Ek het op die ouderdom van 19 begin pendel om my brood en botter as ’n tikster by die Katutura-hospitaal te verdien.”
Mara sê daar was in die verlede nie so baie keuses soos vandag nie. Daar was ’n dubbeldekkerbus wat aan FP du Toit behoort het. Die bestuurder van die bus was SonnyBoy Bailey wat latere jare ’n groot rol in die vervoerbedryf gespeel het.
“Vervoer in die vroeëre jare het absolute orde gehad en wat ek daarmee bedoel is dat die vertrektyd die vertrektyd was. As jy laat was dan het jy jou vervoer gemis en klaar. Ek onthou die bus het net een keer lank getoet en die eerste vertrekpunt was by Die Boom.”
In Windhoek het die bus by dr. Momberg se spreekkamer in die dorp gestop voordat hy verder na Khomasdal gery het. Mara het daar afgeklim en dan hospitaal toe gestap.
“Ek onthou die trip Vrydagaande vanaf Windhoek huis toe was soms effens rof, want die ambagsouens het hulle salarisse ontvang en hulle was gedrink en plesierig. Soms was dit ook soos ’n plesierboot, veral as jy 30 kilometer voor Rehoboth ons dorp se pragtige liggies gesien het.”
Een van Mara se hoogtepunte van pendel is al die mense wat sy in die proses leer ken het. Sy sê hulle het later soos familie begin voel omdat hulle vyf of ses dae per week oor en oor dieselfde ding saam gedoen het.
“Iets wat ek tot vandag toe kan onthou is dat ek effens in my stoel kon insluimer, maar ek het selfs met toe oë presies geweet waar ons op die pad was. By Aris en Peralin skud die voertuig op ’n sekere manier as gevolg van die pad en as ek my oë oopmaak, het ek nooit gewonder waar ons is nie, want ek het die pad goed geken. Ek het elke boom, hoogte en laagte geken en presies geweet waar is hoërisiko-areas en waar jy byvoorbeeld nooit ’n kans sal waag om verby te steek nie.”
Sy het ook haar oorlede man deur die pendelproses ontmoet. Mara was in haar laat 20’s en hulle het getrou en hulle eie pendelbesigheid, Beukes Express, begin totdat hy siek geraak het.
Mara was self nog nooit in ’n ongeluk betrokke terwyl sy gependel het nie.
“Die B1 was goed vir my; ek het egter keer op keer grusame ongelukke gesien waar bekendes hulle lewens verloor het. Ek pendel nog steeds en is nog steeds nie daaraan gewoond nie, maar dit is al tweede natuur en totaal en al normaal vir my.
“Maar die eintlike rede is dat die erf- en huispryse baie goedkoop in Rehoboth was en ek het van die geleentheid gebruik gemaak en op die ouderdom van 19 was ek ’n huiseienaar.
“Ek heg soveel sentimentele waarde aan die huisie dat ek dit vir geen eiendom in Windhoek sal verruil nie. Natuurlik verkies ek ook die lewe van ’n dorp in plaas van ’n stad, want in Rehoboth voel ek veilig. My wasgoed hang vandag nog oornag op die wasgoedlyn en kom niks oor nie.
Volgens Mara wat dit in die ou dae ‘n goedkoop manier om by die bestemmings uit te kom.
“Vandag kos dieselfde kilometers per maand vir jou tot N$2 000 of N$60 of N$70 vir ‘n enkel trip. Die B1 was veiliger want die voertuie was minder. Dit was natuurlik ‘n plus punt, maar vandag kan enige ou wat ‘n voertuig het opstaan en passasiers bymekaar krap en gou vir die dag ‘n paar rand en sent verdien en dit maak die pad oorvol.”
“Iets wat vir my oor al die jare se pendel uitstaan en waarvan ek vandag vir my kinders en kleinkinders kan vertel, is ’n sekere boom langs die pad naby Omeya. Toe ek begin pendel het, was die boom net ’n struik, so hoog soos ’n liniaal, vandag is dit ’n groot skaduboom. Dit is hoe lank ek al op die pad is.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie