Egte leerprodukte vir elke smaak

Belangstelling al van kinderjare gekweek
Jy kan jou eie vellies uit Namibiese leer maak en vroue kan na hartelus uit 17 verskillende kleure kies.
Tanja Bause
“Leerwerk het eintlik uit die nood ontstaan. Ek het as leerling-dieselwerktuigkundige N$45 verdien, wat nie baie geld was nie. Ek het begin om leerprodukte soos gordels en hoedens te maak en te verkoop om ’n ekstra inkomste te genereer sodat ek kop bo water kon hou,” het Gerhard Baufeld, eienaar van Leather Connections in Windhoek, gesê.

Hy is op Otjiwarongo gebore en het ook daar grootgeword en skoolgegaan. Sy matriekjaar het hy op Tsumeb voltooi waarna hy weermag toe is.

“Ek het daarna vir twee jaar by die Neudamm-landboukollege studeer omdat ek graag wou boer. Die droom het egter mettertyd ’n stille dood gesterf. Ek het vir ’n dieselwerktuigkundige begin leer, my vrou leer ken en getrou. Ons het drie kinders wat al hul eie kinders het en die hele wêreld vol versprei is.”

LEER

Dit is in die tyd as vakleerling waar sy belangstelling in leer en leerprodukte weer vlamgevat het.

“Die belangstelling in leer kom van my ma en my vroeë kinderjare af. Sy het altyd ’n houer gehad waarin stukkies leer en die toerusting vir leerwerk was. As kind het ons altyd met leer gewerk; al was dit net om ’n kettie te maak. Ons het met leer grootgeword en ek het verder daarop gebou en uitgebrei. Ek het my kennis opgebou om uit boeke wat ek gekoop het, te leer. In daardie jare was daar nog nie so iets soos Google of YouTube nie; jy het gelees en geleer.”

In 2001 het Gerhard en sy vrou, Henriette, besluit om Leather Connections oop te maak.

“Ons het aan die begin mokassins uit leer vir die Amerikaanse mark gemaak. Ongelukkig het die agent wat die skoene Amerika toe geneem het nooit weer teruggekom nie en dit het platgeval. Dit was ’n baie groot uitgawe en verlies wat ons gely het.”

Gerhard het besluit om toerusting en leer vir mense wat skoene regmaak aan te hou.

“Ons het die opleidingsentrum van Leather and Associated Industries Namibia (LAIN) oorgeneem. Ons het in dié werkswinkel begin om herstelwerk te doen. Ons het leerprodukte herstel veral handsakke, sakke en perdrytoerusting. Ons het ook ’n paar veldskoene en sandale gemaak, maar dit het nie lank gehou nie.”

Gerhard het by die Swakopmund Tannery by Ewald Schier ’n tyd lank gewerk en hy is Suid-Afrika toe gestuur om deel te neem aan ’n kursus om skoene te ontwerp.

“Ek het as deel van die kursus by die Jordan-skoenfabriek in Kaapstad gewerk sodat ek die masjiene kon leer ken. Ek het geleer watter masjien wat doen. Die grondslag is daarmee gelê vir die skoene wat ons nou by Leather Connection maak.”

SKOENE

Gerhard het in 2019 begin om skoene te ontwerp en die masjiene bekom om aan die begin van 2020 met produksie te begin.

Toe ry die Covid-19-pandemie sy planne egter in die wiele.

“Besighede het toegemaak en mense is vir vyf weke huis toe gestuur. Ek het skelm in die fabriek ingesluip en die prototipes van die skoene gemaak sodat ons volstoom kon begin vervaardig wanneer ons weer toegelaat was om te werk en dit is presies wat ons gedoen het.”

Oorspronklik was die idee om die vellies vir die toeristemark te maak, maar met die grense wat weens die pandemie toegemaak het, het die toeriste weggebly.

“Namibiërs het ons gedurende dié tyd geweldig ondersteun en ons deur die pandemie gedra.”

Leather Connection maak nie net tradisionele vellies nie. Vir die mans is daar ook ’n Bushboot wat ’n enkelstewel is met ’n baie dik sool.

“Aangesien die stewel ’n dik sool het, kan jy vir kilometers met hom loop sonder dat jou voete seer word. Die skoen is baie gewild onder veiligheidswagte en lede van teenstropingseenhede. Ons maak ook vir die mans ’n gewone skoen wat op die tradisionele veldskoen gebaseer is.”

Die manskoene word hoofsaaklik in die tradisionele kleure ligte bruin, bruin en swart gemaak, maar ook olyfgroen, ligblou of ’n denimblou is moontlik.

Vir die vroue word bo en behalwe die skoene en vellies ook sandale gemaak.

“Ons maak ook wat ons noem die Anja-skoen. My skoonsuster het die skoen gesien en ’n foto gestuur en gevra of ons dit kan maak en ons kan. Ons maak ook skoolskoene vir meisies, asook skoene vir kinders vanaf driejarige ouderdom. Dit is veral onder ma’s en dogters gewild om dieselfde skoene in dieselfde kleur te dra.”

Al die vroueskoene kan in 17 verskillende kleure gemaak word. Die skoene word van rob-, bees- of wildsleer soos eland, koedoe, wildebees of hartebees gemaak.

Leather Connection maak tans tot 50 paar skoene per dag.

MAAK JOU EIE VELLIES

Wat Leather Connection nog besonders maak, is dat jy hulle kan kontak en jou eie paar vellies kan maak.

“Jy kom in en pas ’n paar aan sodat ons die regte grootte kan kry. Dan gaan jy saam met ons gekwalifiseerde werkers in die fabriek in en hulle sal die proses stap vir stap aan jou verduidelik en jou begelei en bystaan terwyl jy jou eie vellies maak.

“Hulle hou toesig by elke masjien en is aan jou sy deur die hele proses. Wanneer jy klaar is, het jy ’n paar vellies en ’n sertifikaat as bewys dat jy wel die skoene self gemaak het. Besighede kan ook van die geleentheid gebruik maak vir spanbou-oefeninge. Ons kan tot ses mense op ’n slag in die fabriek akkommodeer,” het hy gesê.

Daar word ook professionele foto’s en video’s geneem wat tot die kliënt se beskikking is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!