‘Ek is dankbaar vir die engele in my lewe’
Jong operasangeres vind sukses oorsee
Die sangeres Janice van Rooy maak steeds opslae in buitelandse operakringe.
Die operasangeres Janice van Rooy sê haar langtermyndoelwit is om aan ontluikende jong Namibiese talente in klassieke musiek te gee waarna sy as jong musikant gesmag het.
“Ek soek alles wat ek nog nooit gehad het nie – nie net vir myself nie, maar vir die land. Ek het nie maklik toegang tot baie dinge gehad nie. Ek kon nie die instrumente kry wat ek wou leer nie en ek moes ver reis om mense te kry wat my kon leer hoe om die instrumente te bespeel.
“Daar is ook baie klein gehore. ’n Mens wil nie altyd sing vir ’n gehoor van drie of vyf mense nie. Ek het altyd gedroom van stampvol gehore, maar het dit weinig gekry,” sê sy.
Sy hoop dat sy in die toekoms ook daadwerklik in die Namibiese kunste kan terugploeg.
“Ons het soveel talent, ons moet net daarna omsien. Ek hoop om eendag Namibië se eerste operahuis op te rig. Ons kort behoorlike teaters, konsertsale en die gehore. Dit alles kos geld en tyd,” sê sy.
Selfs toe Janice by haar skool se matriekseremonie gesing het, het sy in haar hart geweet sy wil ’n loopbaan in musiek volg, maar sy het beoog om regte ná skool te studeer.
“Ek het net gedink ‘wie gaan my ondersteun?’ Selfs die musiekskool wat ons het, is nie op ’n hoë standaard nie. Ek het net gedink ek moet ’n manier vind en dit self finansier, so dit was die plan,” verduidelik Janice.
Weke later, toe sy pas haar finale matriekeksamen voltooi het, het Janice ’n oproep van een van haar onderwysers, Marianina van Deventer, gekry wat vir haar die weg in haar musiekloopbaan gebaan het.
“Sy het ’n video opgeneem van my voorbereidings om by die matriekseremonie te sing en dit vir ’n paar vriende gestuur. Dit alles sonder dat ek eens daarvan geweet het. Een van die mense vir wie sy die video gestuur het, het my Windhoek toe genooi om vir ’n groep gaste te sing,” onthou sy.
Hier het sy haar borg, Mark Dawe, ontmoet en met sy finansiële ondersteuning het sy vir ’n jaar in Windhoek gebly om voor te berei om opera te gaan studeer. Hy het haar ook daarna ondersteun toe sy met haar operastudies aan die Universiteit van Kaapstad begin het en later toe sy Duitsland toe geëmigreer het om daar verder te studeer.
“Die tydsberekening was so perfek. Dit het alles soos in ’n sprokiesverhaal gebeur,” sê Janice.
Janice het, terwyl sy in Windhoek gebly het, haar operastudies onder Gretel Coetzee voortgesit om vir universiteitstoelating te kwalifiseer.
“Ons het later uitgevind dit was eintlik nie nodig nie en ek kon eenvoudig net aansoek gedoen het soos ek was, maar dit het my beslis ’n voorsprong gegee, so ek is glad nie spyt daaroor nie,” sê sy.
Met die hulp van Chrisna Greeff het sy blyplek vir die jaar by Rieth van Schalkwyk gekry. Greeff se dogter Christine Hugo, sê Janice het haar gedurende hierdie tyd gemotiveer.
“Ek is net so dankbaar vir die engele in my lewe,” sê Janice.
VAN KLEINS AF MUSIKAAL
Janice onthou sy was van jongs af lief vir musiek, maar opera het haar glo heel toevallig gevind.
“Ek dink ek was nog altyd onwetend aangetrokke tot musiek. As kind het my familie my altyd vir almal op Kersfees laat sing. My oom het my altyd klein Celine Dion genoem en al het ek nie van haar geweet nie, onthou ek dit het my altyd gelukkig gemaak.
“Ek was altyd opgewonde om vir familie en vriende te sing en ek was mal daaroor. Ek het nog altyd baie van die kollig gehou," sê sy.
Toe Janice ouer word, het sy blokfluit by die Mondesa Youth Opportunities begin speel en die Namibiese komponis Engelhardt #Unaeb daar ontmoet.
Haar belangstelling in musiek het haar na die Mascato-jeugkoor gelei waar sy vir jare ’n lid was onder leiding van Theo Cookson, en haar eerste ervaring van regstreekse operamusiek sou hê.
“Ek het baie van klassieke musiek gehou en het net drie klassieke komponiste geken: Beethoven, Mozart en Haydn. Ek het altyd na die komponiste se musiek gesoek en dit op my selfoon afgelaai sonder om te weet wat ek aflaai.
“Eendag toe ek huis toe stap ná skool het een stuk musiek begin speel en ek het oorspronklik gedink dis ’n concerto. Dit was eintlik Beethoven se enigste aria en toe die sangers begin sing, kon ek dit nie glo nie. Ek het my vioolkas neergesit en net daar gestop en geluister – ek kon nie glo so iets bestaan nie,” sê sy.
Later het sy saam met die Mascato-koor twee buitelandse operasangers in ’n optrede vir liefdadigheid ondersteun en hiér sê sy was sy finaal oortuig.
“Ek dink om operamusiek regstreeks te sien, het my finaal gevang. Daar is net iets anders daaraan om opera regstreeks te sien. Dit was die eerste keer dat ek regte operasangeresse ontmoet het en ek het besef hierdie mense doen dit vir ’n lewe en daar kan vir my ook ’n loopbaan in musiek wees,” sê sy.
VEREER
Benewens verskeie musiekpryse en -beurse, is Janice onlangs op ’n unieke manier vereer – sy is as ’n gevallestudie by die Namibiese kurrikulum vir Geïntegreerde Uitvoerende Kunste gevoeg.
As deel van hierdie vak moet studende verskeie historiese figure in die kunste, onder meer Miriam Makeba en Ras Sheehama, bestudeer.
“Dis ’n geweldige eer. Ek onthou ek moes van hierdie mense leer en om te dink dat my naam nou onder hulle is, is malligheid. Ek dink wat dit nog ’n groter eer maak, is dat die meerderheid van die kunstenaars wat leerlinge moet bestudeer, nou al ’n geruime tyd weg is en ek is nog so jonk. Dit is regtig ’n eer dat my naam onder reuse in die kunste is,” sê sy.
Janice is het onlangs die Royal Opera House Covent Garden-prys by die Internasionale Hans Gabor Belvedere-sangkompetisie gewen en is voor dit met die Eva Kleinitz-beurs vereer.
“Ek dink Belvedere het my selfvertroue ’n hupstoot gegee – veral omdat ek ’n prys gewen het en nog meer omdat een van die beoordelaars agterna na my toe gekom het en gesê het: ‘You, my dear, are very special’,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie