Elke dis met liefde gemaak
Ravioli met natuurlike bestanddele
Trudie Frindt van Truda's Pasta staan elke oggend met 'n lied in haar hart op.
“My man het nie rys, vleis en aartappels geëet nie. Hy het ook nie regtig van braaivleis en biltong gehou nie. Pasta was sy ding. Hy was mal oor pasta en vroeg in ons huwelik het hy vir my ’n pastamasjien gegee. Ek het begin om pasta, veral ravioli, te maak,” het Trudie Frindt (71) van Truda’s Pasta gesê.
Trudie is op Keetmanshoop gebore en sy het na standerd 8 besluit om die skool te verlaat.
“Ons was agt kinders; waarvan vier meisies was. My oudste suster het nuwe skoolklere gekry en dan het my ander suster dit gedra. Ek was derde in die ry om die klere te dra. Wanneer ek dit gekry het, het die klere nie meer ’n kleur gehad nie. Mense kon sien dat dit derdehandse klere was. My jongste suster het weer nuwes gekry omdat hulle nie nog ’n keer gedra kon word nie. Ek was moeg vir dit. Ek wou my eie geld verdien sodat ek my eie nuwe klere kon koop.”
Sy het na die hospitaal gegaan en begin om te verpleeg.
Ná SKOOL
“Ek was skaars ’n paar maande by die hospitaal toe word daar ’n jong ingenieur opgeneem wat gehelp het om die Nautedam te bou. Hy moes ’n noodoperasie ondergaan om sy blindederm te verwyder. Daardie jare het jy nog ’n week in die hospitaal gebly en ek het vir almal gesê dit is my trouman. Hulle het gedink ek is mal, want ek was 17 en hy 27.”
Trudie was egter reg en ’n jaar later was sy en Matje, ook bekend as Matti, verloof. Matti is van Slowakye en hy het Trudie aan nuwe ervaringe blootgestel.
“Hy het my na my eerste opera gevat toe ek geen idee gehad het wat dit is nie.”
Matti is Windhoek toe verplaas om te help om die Friedenaudam te bou.
“Hy wou hê dat ek saamgaan en verpleegkunde los. Hy het by die dam in ’n karavaan gebly en ’n woonstel vir my in Windhoek gehuur. Ek het by die bank begin werk.”
Trudie en Matti het in die huwelik getree toe sy 19 was en kort daarna het hulle Johannesburg toe getrek sodat hy aan die Carlton-sentrum kon werk en sy het ’n verplasing gekry.
“Matti het my aangemoedig om my matriek te voltooi. Ná ses jaar en drie kinders het ek toe my matrieksertifikaat in my hand gehad. Dit was ’n lang pad so tussen die kinders, huishouding en werk deur, maar ek het dit gekry en ek was só trots.”
Die egpaar is terug Windhoek toe. Dit was in die tyd toe die onderwyskollege gebou is.
“Ons het as familie met ons honde daar gaan stap en my kinders het altyd gesê: ‘Daar is mamma se kollege’. In 1979 het die kampus oopgemaak en ek en nog twee getroude vroue het aansoek gedoen om te gaan studeer. Dus op 36 met ’n tweejarige kind op my heup, het ek preprimêre onderwys gaan studeer.”
Sy het vir sewe jaar by een preprimêre skool gewerk nadat sy haar studies van vier jaar voltooi het.
“Die studeergogga het my toe al gebyt en ek het ’n B.Ed-graad voltooi. Ek was toe nie meer lus om soos ’n kind te praat of om soos ’n hasie rond te hop nie. Ek het aansoek by die Universiteit van Namibië (Unam) as ’n junior dosent vir afstandsonderrig gedoen.”
’n Paar jaar later het sy haar meestersgraad verwerk en op 51 haar doktorsgraad.
“Weer eens was ek baie trots, maar ek moet sê ek het ’n man gehad wat in my geglo het. Wat my altyd ondersteun het, my aangespoor het en altyd daar was vir my.”
PASTA
Matti het ’n groot liefde vir kos gehad en hy was gek oor pasta en Tsjeggiese kos.
“Sy ma het vir my resepte gestuur wat gelyk het asof ek nie kan lees nie. Hulle het soos ’n prentjieboek gelyk. Die prentjies het gewys hoe ek die goed moet sny en hoe dit moet lyk en so, maar ek het die disse gemaak en Matti was trots op my dat ek hulle kon bemeester.
“Ek het begin om ravioli met die hand te maak. Dit was eers net met vleisvulsels en toe begin ek met my eie spinasie-en-feta- en kaas-vulsel.
TRUDA’S
“Ná 25 jaar by Unam moes ek op 65 aftree en in April is my geld uitbetaal. Skielik het ek baie geld gehad; ek was ryk.”
Die egpaar het nog nooit ’n eksotiese bestemming besoek nie. Hulle het van kamp en visvang gehou en Myl 4 was hul vakansieplek.
“Ek het besluit ons gaan Mauritius toe. Ons het ravioli op die vliegtuig gekry. Matti het ’n hap gevat en gevra wat dit is. Hy het te kere gegaan en gekla dat hulle nie sulke slegte ravioli vir mense kan bedien nie.”
Trudie het voor hul vertrek die Here gevra om haar oor haar toekomsplanne ná aftrede te lei.
“Ek is ’n energieke persoon en ek kon myself nie op die stoep sien sit en slaapsokkies brei nie. So terwyl Matti so aangegaan het, het ek besluit om navorsing oor ravioli te doen. Daardie tyd het niemand in Namibië dit gemaak nie. Ek het begin google en met my seun in Duitsland gesels wat gedink het dit is ’n goeie idee.”
Sy het vir haar seun gaan kuier en twee masjiene gekoop wat haar sou help om ravioli en pasta te maak.
In Desember 2016 het al drie haar kinders kom kuier en saam het hulle die pastamasjien uitgehaal, in die kombuis opgestel en getoets.
“Ons eerste ravioli wat ons gemaak het, was fantasties en in 2017 het ek die vulsels verander en monsters vir sjef David Thomas gegee. Hy het my gehelp om die vulsel perfek te kry.”
Trudie en haar suster, Corry van der Westhuizen, het begin om Truda’s Pasta by die Boeremark in Windhoek te verkoop. Nou kan mense die produk in verskeie winkels in die hoofstad koop.
Haar produkreeks het ook uitgebrei en sy maak ook nou lasagne en soppe.
“Ek maak elke dis self. Ek gebruik kruie uit my tuin en my eie spinasie om die pasta te kleur. Alles wat in die disse gaan, is natuurlike vars produkte. Elke dis is ook met baie liefde gemaak.”
“Ek is mal daaroor om pasta te maak en ek staan elke oggend met ’n lied in my hart op. Ek wens net dat ek my pasta na elke winkel op elke rak in die land kon kry, maar ongelukkig is ek ’n kleinsakevrou wat nie ’n vragmotor met vriesgeriewe het om die produk te vervoer nie. Ek glo egter dat elke huishouding ’n bak vol Truda’s Pasta met baie liefde verdien. Wie weet dalk in die toekoms kan dit waar word, want die Here het altyd ’n plan.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie