Elke skildery het sy eie uitdaging

Barbie-poppe is haar modelle
In Februarie 2021 wou Aurelia Sieberhagen belangstelling vir die skilderkuns in die gemeenskap wek en is die Tiny Art Gallery gebore.
“Ek skilder vanaf foto’s of ek bou ’n stillewe van iets wat ek wil skilder. Ek het ’n klomp Barbie-poppe van Amerika bestel. Hulle kan lekker buig en ek gebruik hulle as my modelle. Ek maak klere vir hulle en plaas hulle soos ek my storie wil vertel. Maar meestal skilder ek van foto’s wat ek geneem het. Soms pas ek die werk aan en skilder ’n dier alhoewel daar geen dier in my foto is nie. Die foto is slegs vir inspirasie,” het die kunstenaar Aurelia Sieberhagen (53) van Oranjemund gesê.

Sy is in Parow in Suid-Afrika gebore en getoë. Ná skool het sy ’n sekretariële kursus by die Kaapse Technikon gedoen.

“Ek het nie regtig geweet wat ek wil doen nie. Daar was nie iets soos ’n gap-jaar nie.”

Sy het egter vinnig agtergekom dít is nie wat sy vir ’n lewe wil doen nie en na ’n paar jaar het sy argitekttegnologie gaan studeer.

“Ek het dit baie meer geniet. Ek moes dié bedryf verlaat aangesien my man vir ’n mynmaatskappy in Saldanha begin werk het. Die Weskus was heerlik en ek het gou ’n klomp kunstenaars ontmoet en ons het geskilder, pottebakkery gedoen, juwele ontwerp en uitgestal.”

In 2007 is die maatskappy waar haar man gewerk het, oorgeneem en hulle wou die egpaar Johannesburg toe verplaas. Hulle het egter nie kans vir Johannesburg gesien nie en Aurelia se man het ’n werk by Debmarine gekry en hulle het Windhoek toe getrek.

“Vir twee plattelanders was die stadslewe ’n reuse-aanpassing en toe hulle ná twee jaar besluit het om ons Oranjemund toe te stuur, was dit die beste nuus ooit. Ons het sommer dadelik begin pak en kon nie wag om te trek nie.”

Terwyl hulle in Windhoek gebly het, het ’n vriendin haar gevra of sy nie kunsklasse wil aanbied nie.

“Ek het nooit kuns studeer nie en het dus nie gedink ek kan dit doen nie. Ek het in Oranjemund oor haar voorstel begin dink en ingeskryf om kuns te studeer.”

KUNS

Aurelia het van kleins af geteken en geverf.

Kunsmuseums met al die kunswerke het haar bekoor.

“My ouma het geskilder en ek het tot vandag toe haar boksie met verf in. My ma is ook baie lief vir skilder, naaldwerk en borduur.”

Aurelia het vir twee jaar ’n aanlyn kursus in kunsgeskiedenis en skilderkuns deur die London Art College gedoen.

Daarna het sy vir vier jaar by die Virtual Art Academy onder Barry John Raybold, ’n Amerikaanse kunstenaar, gestudeer. Tony Bessinger van OMDis het haar genader om kunsklasse op die dorp aan te bied. Sy het die Oranjemund Art School begin en ’n driejaarkursus in skilderkuns begin aanbied.

“Skilderkuns is my eerste liefde, maar ek het in die argitektuurbedryf talle skaalmodelle gebou. Dit was heerlik om ’n 3D-model vir kliënte voor te lê want baie mense kan nie planne lees of visualiseer nie.”

Haar skildery van die verlate Garub-treinstasie is die kleinste skildery wat sy nog geskilder het. Dit is net 6 cm x 4 cm groot terwyl haar grootste ’n muurskildery van 7 m x 6 m is.

“My ingewikkeldste skildery was die “The Wise Virgins”. Ek het nie modelle gehad nie en het my Barbie-poppe gebruik. Ek het vir hulle wit rokke gemaak en toe moes ek miniatuur liggies maak wat as die olielampe gedien het. Ek het die lampies van klei gemaak en LED-liggies gebruik. Dit het fantasties gewerk totdat ek ’n regte model gekry het wat ’n kerslig vashou het. Toe het ek agterkom watter pragtige kleure ’n kerslig maak. Ek moes my skildery van vooraf skilder en het toe kersies vir ’n verjaardagkoek vir my popmodelle gebruik. Ek het seker nege maande aan die skildery gewerk, maar ek het soveel van kleur geleer.”

Sy het ook poppe vir haar skildery “The Messenger” gebruik.

“Ek het ’n kwaai engel geskilder nadat ek so ontsteld was oor die renosterstropery, dieremishandeling en plaasmoorde. Ek het ’n artikel gelees oor hoe renosters soos babatjies huil. Dit was so ontstellend. Die verwaarlosing en mishandeling van diere ruk my en die magtelose woede van die regerings wat anderkant toe kyk. Toe skilder ek “The Messenger” oor God se oordeel wat vir die mens wag. Ek het vlerke vir my engel gemaak van wit vlerke wat ek langs die Oranjerivier opgetel het. ’n Vriendin was die finale model wat moes staan vir ’n foto en daarna moes sy en haar man weer modelle vir die plaasmoorde wees.”

Volgens Aurelia het elke skildery sy eie uitdaging. Muurskilderye met die wind en weer het hul eie uitdagings.

“Met die muurskilderye help my vriendin, Annis Schlecter (’n voormalige student van my kunsskool), my verf. Sy is ook ’n goeie kunstenaar en het ’n goeie oog. Sy maak seker dat ek nie nonsens op die muur verf nie wat nogal baie gebeur.”

KLEINSTE KUNSGALLERY

In Februarie 2021 wou Aurelia belangstelling vir die skilderkuns in die gemeenskap wek en is die Tiny Art Gallery gebore. OMDis het haar geborg om ’n klein galery te bou en sy het gratis klein skilderdoeke beskikbaar gestel.

“Al wat mense moes doen, is om ’n prentjie te skilder en in die galery te sit. Talle mense het vir die eerste keer in hul lewe begin skilder en weekliks was daar nuwe skilderytjies. Dit was op ’n ‘take one, leave one’-basis. Ongelukkig het dit na so jaar doodgeloop en ek het toe besluit om dit te verander na ’n ‘te koop’-galery vir die paar kunstenaars op die dorp. Maar die klein ‘boks’-galery was te klein en ek het nog een gebou sodat ons meer werke kon uitstal. Dus is daar tans twee Tiny Art Galleries langs mekaar.”

RAAD

“As iemand jou ’n geleentheid bied, maar jy is nie seker of jy dit kan doen nie, sê ‘ja’ en leer hoe om dit te doen.

Dan leer jy vir ander hoe om dit te doen. My skildermentor, Barry John Raybold, het een keer vir my gesê: ‘If you want to become a better artist, teach others how to become better artists’. Jy leer geweldig baie by ander mense en die eindproduk is ook nie die doel nie, dis die reis daarheen.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!