Familie se hoop op ’n beter lewe

Tanja Bause
Me. Belinda Mukumelo sit voor haar splinternuwe sinkhuis in die informele nedersetting Babilon in Katutura en was haar skottelgoed.

“Ek kan nie met vuil skottelgoed in my nuwe huis intrek nie.”

In 2004 het die egpaar ’n huis gebou uit sinkplate en blikkies wat opgesny, platgekap en bymekaargelas is. Intussen het die sinkplate deurgeroes en die houtpale kromgetrek.

Me. Hilia Nambinga, die beampte vir gemeenskapsontwikkeling van die Hope Initiatives Southern Africa (HISA Namibia) het van die gesin gehoor en besluit om hulle te help.

“HISA werk hoofsaaklik met wees en kwesbare kinders in die informele nedersettings in die Tobias Hainyeko-kiesafdeling. Onder die FxB Village-program kon ons hulle help.”

Mnr. Anthony Phiri, FxB se programbestuurder, het verduidelik dat dit ’n holistiese program is wat met 100 gesinne in die informele nedersettings Kilimanjaro en Babilon werk.

“Ons gee vir die gesinne toegang tot opleiding en gesondheid. Ons help met basiese behuising en gee hulle ekonomiese bemagtiging. Ons hoofdoel is om die gesinne binne vier jaar uit armoede te lig. Hulle moet selfversorgend wees,” het Phiti gesê.

Die gesin wat ma, pa, vier kinders en ’n groot hond insluit, woon in die sinkhuis wat ook as hulle kombuis dien.

“Nou het ons ’n nuwe huis en as ons die ou een kan regmaak, kan ons kinders daarin woon,” het Mukumelo gesê.

Sy en haar man het nie vaste werk nie. Sy versamel ou kos, pap en groente uit vullisdromme en van die asgate en droog dit uit. Sy verkoop dit dan aan ’n varkboer.

“Die geld wat ek maak, gee ek vir my dogter om brood mee te koop. My man skep water vir die inwoners hier en kry ook bietjie geld vir die diens wat hy lewer.”

Hulle dogter is nege jaar oud en sy het nog nooit skoolgegaan nie omdat sy nie oor ’n identiteitsdokument beskik nie.

“Sy is nou in HISA se oorbruggingsskool en ons help haar en haar gesin om hul dokumente te kry. Sy sal dan skool toe kan gaan en hulle kan aansoek om voedselhulp doen,” het Nambinga gesê.

HISA sal hulle ook opleiding in tuinbou gee sodat hulle groente kan plant om self te verbruik en te verkoop.

“Ons wil hulle help sodat hulle ’n inkomste kan verdien. Dat hulle kinders skool toe kan gaan en hulle by die regering om hulp kan aansoek doen. Dan kan hulle hulle ou huis mettertyd herstel en ’n beter toekoms vir hulself bou,” het Nambinga gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!