Gebottelde lekkernye is in haar bloed
Tuin haar gelukkige plek
Alles kan gebottel en verwerk word
Met familieresepte vir enigiets wat gebottel kan word en die kennis wat sy van kleins af in ouma se kombuis opgedoen het, is hoe Cornelia’s Kitchen op die been gebring is.
Die vrou agter dié bottels genot is Corné (Cornelia) Swanepoel, ’n boervrou van Hochfeld.
Sy is in die Kaap gebore in ’n era waar mense sommer maklik vanaf Karasburg na Kaapstad gereis het.
“My ouers was onderwysers en ek het in Karasburg grootgeword. Ons het later ook in Gobabis en Stampriet gewoon.”
Vakansietye het sy altyd op haar ouma en oupa se plaas in Koës deurgebring. Dis ook tydens dié tye dat sy van konfyt kook en groentetuine geleer het.
“Ek onthou die geure van my ouma Lizzie se kombuis – vars boerbrood, koejawelkonfyt en plaasbotter. Ek kan nie aan ’n tyd dink as ’n kind waar ek meer geborge gevoel het nie, as daar nie. Ouma het ons kinders altyd betrek by wat sy gedoen het.
“Terwyl die rooibostee op die stoof geprut het, het ons koeksisters op haar kombuistafel gevleg. Haar spens was ’n wonderwêreld van kleure en teksture met rakke wat swaar gedra het aan al die verskillende bottels met gehekelde doilies op.”
As skoolkind is Corné koshuis toe. “Ek was minder gereeld op die plaas, omdat sport en vriende toe eers belangriker was.”
Haar liefde vir tuinmaak kry sy van haar ouers At en Elza Vermeulen wat by elke huis waar hulle gewoon het ’n lieflike tuin gehad het.
“Toe my ouers permanent plaas toe getrek het, was daar altyd ’n oorvloed van vars vrugte en groente in ons huis. Skottels vol vye, lemoene, druiwe, turksvye en tamaties. Wanneer ’n mens klein is, weet jy nie van ryk en arm nie, maar ek onthou as jong mens hoe vol my hart gevoel het wanneer ek so gekyk het na al die skottels uit my ouers se tuin.
Nadat sy skool voltooi het, het sy ’n honneursgraad in biokinetika van die Universiteit van die Vrystaat gekry.
“Ek is ’n baie aktiewe mens en oefening speel tot vandag toe ’n baie groot rol in my lewe.”
Dis ook in Bloemfontein waar sy en haar man Jaco mekaar sedert skool weer raakgeloop het. Nadat sy haar internskap in Windhoek voltooi het, het sy en Jaco in die huwelik getree en het hulle na die plaas by Hochfeld getrek.
“Met meer as genoeg water en lieflike, vrugbare grond het ek vir die afgelope 15 jaar my liefde vir tuinmaak hier uitgeleef. Ons het van koejawels, granate, papajas tot peppadews, murgpampoentjies, tamaties en nog vele meer in ons tuin.
“Jaco spot altyd dat daar meer vrugte en groente in ons vrieskas is as vleis. Niks verskaf my groter vreugde as om gou in my tuin in te stap en alle bestanddele vir ’n vars slaai te kry nie. My geliefdes kry dikwels gebottelde produkte as geskenke en party sê my sommer wanneer hulle bottels leeg is.”
In 2021 en met die Covid-19-inperkings het Corné meer en meer tyd in haar tuin bestee en die tuin het so groot geword dat dit nie meer alles kon verwerk en uitdeel nie.
CORNELIA’S KITCHEN
“Jaco en my skoonma, Alta, het my aangemoedig om my produkte te begin verkoop en dis hoe Cornelia’s Kitchen begin het.”
Die heel eerste groete wat sy gebottel het, was haar ma se tamatiekonfyt. Volgens Corné is daar niks meer veelsydig as ’n tamatie nie.
“’n Tamatie kan in konfyt, puree, relish of chutney omskep word. My ouma aan moederskant, Betsie Snyders, se marmeladeresep is tot vandag toe onverbeterlik.
“Ek het my skoonma Alta se beetresep gekombineer met ouma Lizzie s’n om die produk te kry wat mense vandag geniet. Daar is geen geheime resepte waarmee ek my produkte maak nie. Al die vroue in my lewe het met vrymoedigheid resepte gedeel. Dis maar ’n geval van beproef tot jy dit regkry. My familie is die slagoffers wat alles moet proe, maar hulle is almal rond en gesond.”
Een van haar gunstelingprodukte is die Chilli & Tomato Chutney.
“Dis geurig, brand nie vreeslik nie en is uiters veelsydig. Ek en my man eet nie graag kos met ’n sterk brandsmaak nie, maar ek maak ’n lekker chillisous waarvan my swaers baie hou. Dan staan ek maar sterk en proe of dit genoeg brand. As dit erg brand, weet ek dis net reg vir die mense met gewone smaak.
“Ek maak ook talle soorte konfyt, koeldrankstrope en ’n soetmostert. Die suurlemoenstroop en peppadews is beslis die topverkopers.”
In Desember het sy ook slaai soos kerriebone, beet of koperpenniewortelslaai gebottel vir vakansiegangers wat vinnig ’n bykos wou hê.
PLANT IETS
Corné is ’n groot voorstander van ’n selfversorgende en organiese lewe en van Namibiese produkte.
“As jy ’n stukkie grond tot jou beskikking het, plant iets. Jy kan nie glo hoeveel jy van ’n klein lappie aarde kan oes nie. Plant, bewerk en deel uit. As ek te veel van iets het, kry my vriende, familie en ons plaaswerkers dit.
“Sade word gedroog en weer gebruik; op dié manier leer my kinders om te herwin en ’n liefde vir tuinmaak. Ons is vandag ouers van vier pragtige dogtertjies. Saam geniet ons die groentetuin. Hulle dra die mandjie, terwyl ek als wat ryp is afpluk en inpak.”
“Ek koop graag Namibiese produkte, of dit plastieksakke, joghurt of leerhandsakke is. Ek sal altyd die Namibiese produk koop, ongeag die prysverskil. Ons moet ons plaaslike besighede ondersteun.”
Omdat haar middelkind in graad 1 is, woon sy tans deur die week in Windhoek en is naweke op die plaas.
“Ek bottel steeds graag oor naweke. Ek bottel liewer minder, maar my produk is van ’n goeie gehalte. Moet nooit kwaliteit inboet vir kwantiteit nie. Daar sal altyd ’n droom wees van ’n groter besigheid met ’n eie proefkombuis, moontlik ’n klein fabriek en ’n deli. Vir nou vind ek vrede dat ek my liefde vir gebottelde produkte kan uitleef en help om my kinders se skoolgeld te betaal.”
RAAD
Sy moedig mense aan om met ander oë na hul groente en vrugte te kyk.
“Jy kan dalk nou ’n sekere prys vir jou produk kry, maar deur dit te verwerk, kan jy miskien heelwat meer kry. Beplan noukeurig voordat jy ’n rou produk vir goedkoper verkoop, bloot omdat dit esteties nie aan sekere vereistes voldoen nie. Dit kos meer werk om dit te verwerk, maar dis bitter bevredigend.”
Nadat ’n vriendin nêrens op die internet ’n sousresep kon vind nie en haar gekontak het, het sy opnuut besef dat die beste bron van inligting steeds mense is.
“Elke mens het waardevolle inligting om oor te dra; wees net bereid om te luister. So deel daardie resep, familieverhaal, of raad vir een of ander kwaal. Dis waardevol.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie