Gerhard het ’n hart vir mense
Fokus op bewusmaking, voorkoming
Nadat hy in 2006 'n hartaanval gehad het en daarna vier hartomleidings moes ondergaan, is Gerhard de Koe se doelwit om hartsiektes in Namibië te verminder.
“Ek het die hart om iets vir mense te beteken en iets vir hulle te verander.”
So sê Gerhard de Koe wat in 2019 die Namibiese Hartstigting (NHF) op die been gebring het.
“Ek het een dag in die kerk gesit en die dominee het gepreek oor brandende harte en daar het die liggie vir my aangegaan. Ek het daar besef dit vind baie aanklank by my en wat in my lewe gebeur het.
“Ek het in 2006 ’n hartaanval gehad en ’n paar stents daarna; einde 2007 het ek weer ongemak in my bors gevoel. Ek is Kaap toe vir ’n ondersoek en hulle het gevoel dit is nodig vir ’n omleidingsoperasie,” sê hy.
Gerhard het daarna ’n viervoudige hartomleiding in Januarie 2008 ondergaan.
“Dit is waar ek besef het dat ek eerstens dankie moet sê daarvoor. Tweedens moet ek ’n organisasie begin wat mense meer bewus maak van hartsiektes, om hulle ’n kans om oorlewing te gee en om mense oor hartsiektes en die voorkoming daarvan in te lig, want dit is wat hulle baie trauma gaan spaar,” verduidelik Gerhard.
Hy het so gou as moontlik daarna sy permanente werk bedank, nog voor hy die kans gehad het om sy vrou van sy planne te vertel, en het sy volle aandag aan die NHF gegee.
“Sy was nie gelukkig nie, want hier gee ek nou my vaste salaris op, maar ek het vir haar gesê ek vertrou in die Here se plan vir my; ek moet dit doen.”
Gerhard sê trauma is een van die hooffaktore wat families raak wanneer ’n geliefde ’n hartaanval of ’n beroerte kry.
“As jy in so situasie is, is dit eerstens baie traumaties. Nie net vir jou wat die hartaanval of die beroerte gehad het nie, maar ook vir jou onmiddellike familie – my kinders was nog klein. Gelukkig is hulle waarskynlik darem dit gespaar, maar tog dink ek dit het my vrou geraak,” sê hy.
Hy sê sy familie se geskiedenis met hartkwale het hom vasbeslote gemaak om die projek aan te pak.
“Ek het my pa op ’n jong ouderdom aan ’n hartaanval verloor; ek was drie jaar oud. My oudste broer wat my pa se plek ingeneem het in my lewe, is ook aan ’n hartaanval dood. My suster het ’n beroerte gehad en is aan die een kant van haar liggaam verlam. Sy het later weer ’n beroerte gehad en is daaraan dood,” sê hy.
Nadat die NHF in sy beginjare die Covid-19-pandemie moes trotseer, sê Gerhard dit is nóú tyd om bewusmaking oor hartgesondheid in Namibië te skep.
Hy glo talle Namibiërs se ongesonde leefstyl is die grootste sondebok.
“Die lewe het so gemaklik geraak. Ons is so gewoond daaraan om sommer net gou iewers te stop en iets te kry om te eet sonder om aan ons gesondheid te dink,” sê Gerhard.
Ná sy hartaanval moes hy self veranderinge in sy lewe aanbring.
“Ná my operasies en alles moes ek noodgedwonge na my leefstyl kyk – in terme van wat ek eet. Jy probeer om gesond te lewe – om ’n bietjie te oefen en ’n bietjie gesonder te eet. Nadat ek daardie aanpassings in my lewe gemaak het, gaan dit heelwat beter,” sê hy.
“Dit verskil van persoon tot persoon – so die aanpassings wat vir my gewerk het gaan nie noodwendig vir ’n ander persoon werk nie, maar aanpassings moet gemaak word,” sê hy.
Tot tyd en wyl die NHF behoorlik op die been kan kom en finansiële ondersteuning aan hartpasiënte kan bied, fokus Gerhard daarop om Namibiërs met die nodige kennis toe te rus om beter besluite oor hul hartgesondheid te neem.
“Ek dink nie mens kan ooit genoeg doen nie. Ek dink daar is werklik ’n groot behoefte aan bewusmaking en voorkoming. Talle mense sê hulle is nog jonk, dit sal nie met hulle gebeur nie, maar moet nie ’n fout maak nie.
“Die lewe vandag is stresvol en dit is maklik om net gou iets te gaan koop om te eet. Dit is asof mense wag dat dit eers gebeur, dán skrik hulle eers wakker,” sê hy.
“Bewusmaking moet intensief gedoen word, want mense is so traak-my-nieagtig as dit nog nie met hulle gebeur het nie. Hoekom wil jy wag vir dit om te gebeur? Jy kan mos môre begin en dit is hoekom baie van die veldtogte wat die hartstigting nou aanpak op jonger mense gemik is. Dit is baie belangrik om hulle te leer om van jongs af na hulle harte te kyk en keuses te maak wat voordelig vir hul harte is,” sê hy.
Rook is volgens Gerhard ook een van die groot sondebokke as dit by hartgesondheid kom.
“Dit verskil van mens tot mens, maar daar is basiese dinge wat vir almal geld. Die groot sondaar is rook én ‘vape’ ook. Die ander groot sondaar is die okapyp. Ek weet nie of jongmense dit weet nie, maar dit veroorsaak waterblasies op jou longe, verswak jou longe en dan sukkel jy om asem te haal. Jy kry nie genoeg suurstof nie en as jy nie genoeg suurstof kry nie, kry jou hart swaar en ons weet wat die gevolge daarvan is.”
Hy meen Namibiërs hoef nie berge vir hul gesondheid te verskuif nie, maar kan net klein veranderinge maak.
“Ek sal nie sê ons moet almal drastiese veranderinge aanbring nie. Ons weet almal kos is duur en dit is moeilik vir almal om deesdae werklik ’n dieet te volg, maar sover dit moontlik is eet rou groente en baie vrugte – dit help reeds baie. Om net ’n gesonde dieet te volg, maak jy die lewe vir jouself baie makliker. My persoonlike gunsteling is om te oefen. Ek is mal oor oefening, ek geniet dit verskriklik baie,” sê hy.
Selfs ten opsigte van gewig, sê Gerhard dat Namibiërs slegs hul gewoontes kan aanpas.
“Ek sê altyd vir mense, kry net vir jou ’n gewone trapfiets. As jy televisie kyk, trap dan op die fiets.”
“Baie mense kan dit nie glo nie, maar slaap is ook baie goed vir jou hart. Jy moet genoeg rus inkry. Maak seker om nie na jou selfoon te kyk voor jy gaan slaap nie, want dit hou jou brein besig, dus kan jou liggaam dan nie behoorlik afskakel nie.”
Gerhard hoop om in die toekoms nie nét finansiële ondersteuning te bied nie, maar wil graag ’n veilige hawe vir hartpasiënte oprig met hart- en gesondheidskenners, ’n gimnasium en selfs ’n tandarts.
Hy sê selfs ’n pasiënt se tandgesondheid kan hul hartgesondheid aantas.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie