Gestremde kinders is ’n seën van bo

‘Wie sal na ons kinders kyk as ons werk?’
Enkelma's se stryd om vir hul gestremde kinders te kan sorg.
Tanja Bause
Elke oggend trek Johanna* haar seun uit, dan plaas sy hom op koerantpapier in ֹ’n kartonboks en stoot die boks onder haar bed.

Sy sluit haar sinkhuis en gaan werk toe.

Haar seun is erg gestremd en kan nie beweeg of praat nie. Johanna, ֹ’n enkelma, moet werk om vir haarself en haar seun te kan sorg.

“Ek moet sy klere uittrek wat as hy die hele dag met nat klere lê, sal hy ’n uitslag kry. Die koerantpapier help daarmee. Ek moet hom onder die bed wegsteek sodat as iemand inbreek hulle hom nie sien nie. As hulle hom vind, is die kanse goed dat hulle hom sal verkrag.

“Dit breek my hart, maar ek moet my kind beskerm en ek moet werk. Wanneer ek by die huis kom dan bad ek hom, smeer sy lyfie met room en sit hom op die bed. Dan maak ek kos en ons eet, speel en gesels totdat hy aan die slaap raak.”

Johanna is slegs een van talle enkelma’s met gestremde kinders. Mee. Helena Nuule en Claudia Nkandi is ook enkelma’s wat nie werk nie omdat hulle hul kinders versorg.

Nkandi maak haar vyfjarige dogter, Selma, alleen groot nadat Selma se pa dood is.

“Ná Selma se geboorte is sy huis toe gestuur en drie dae later het sy opgehou huil. Ek het haar terug hospitaal toe gevat en hulle het gesê sy is geel (geelsug) en hulle moet 60 ml bloed trek en dan sal hulle vir haar 60 ml bloed van iemand anders gee. Ná ’n maand het hulle haar ontslaan en gesê jy het ’n CP-kind (serebraal gestremde kind).”

Nkandi sê sy het aan die begin glad nie agtergekom dat Selma anders is nie.

“Op drie maande het ek agtergekom sy trek nie haar kombers nie. Wanneer ek haar neersit om te slaap, bly sy in daardie posisie; sy kan nie self draai nie. Ek het weer terug hospitaal toe gegaan en hulle het X-strale geneem en gesê die regterkant van haar brein is beskadig en my weer huis toe gestuur.”

Nuule versorg haar sewejarige dogter, Amalia, op haar eie. Amalia se pa ondersteun die familie finansieel, maar het niks verder met die familie te doen nie.

Sy het toe sy sewe maande swanger was vir ’n sonar by die Onandjokwe-hospitaal gegaan waar daar vasgestel is dat Amalia water op die brein (hidrokefalie) het.

“Daar was niks wat ek kon doen nie, ek het huis toe gegaan en gewag dat sy gebore word. Ná haar geboorte het hulle gesê dat sy ’n operasie moet kry. Ek het dit net so aanvaar omdat sy my kind is. Sy is my eerste kind, my seën, my Engel.”

Ná ’n paar maande by die huis het Amalia aanhoudend begin huil en hulle is terug na die hospitaal waar hulle na die staatshospitaal in Oshakati verwys is.

“Hulle kon ons nie help nie, omdat die lys van kinders met hidrokefalie wat operasies nodig het so lank was en ons is Windhoek toe waar sy geopereer is.”

MEDIKASIE

Selma benodig medikasie en Side-By-Side Early Intervention Center help nou daarmee.

“Ek het na die apteek by die hospitaal gegaan om die medikasie te kry en hulle het gesê daar is nie pille nie en vir my pille vir groot mense gegee.

“Gelukkig kan ek lees en het dit agtergekom. Ek deel die tablette in vier om vir Selma te gee. Sy moet hulle kry anders is sy stokstyf. Wat van al die ma’s met gestremde kinders wat nie hulp kry nie en wat nie kan lees of Engels verstaan nie en die grootmense se pille vir hulle klein kinders gee?’’

LIEFDE

Nkandi sê mense praat soms van haar en Selma agter haar rug.

“Hulle vra hoekom ek met ’n gestremde kind op en af in die straat loop? Hoekom ek haar nie wegsteek nie? Ek weet nie hoekom ek my kind moet wegsteek nie. Ek kan nie eens daaraan dink om haar in die huis toe te sluit nie. Waar ek gaan, gaan Selma. Ek is nie skaam vir my kind nie. Sy is my engelkind.”

Nuule noem Amalia ook haar engel en seën van bo.

“Amalia kan nie praat nie maar sy bly ’n seën. Sy bly ’n persoon met gevoelens en sy verdien jou respek. So wanneer jy by my huis instap, groet jy vir haar nes jy enige ander kind sou groet en jy respekteer haar.”

REGERING

Die vroue kry namens hul kinders ’n staatstoelaag van N$250 vir gestremde mense, maar hulle voel dat die regering meer moet en kan doen.

Beide is van mening as daar ’n sentrum was met opgeleide, toegewyde, professionele mense wat na die kinders kan kyk terwyl hulle gaan werk, sou hulle baie minder probleme gehad het.

“Ek is baie bevoorreg dat Amalia se pa vir ons sorg, maar wat as hy ophou. Ek het gewerk tot haar geboorte en nou kan ek nie werk nie omdat ek haar nie by enigiemand kan los nie. Ek het in sewe jaar nie ’n vakansie gehad nie. Ek wil baie graag werk as ek weet my kind word ordentlik versorg,” het Nuule gesê.

Nkandi beaam dit en voeg by as die regering nie die sentrum kan oprig nie hulle ten minste die versorgers of ma’s wat hul kinders versorg ook ’n toelae kan gee.

“Ná my man se dood kry ek net die N$250 van die regering en bietjie geld wat ek maak deur tweedehandse klere te verkoop. Met Selma wat doekies dra, is dit nie baie geld nie. Gelukkig gee Side-by-Side vir my doekies en melk, maar wat as hulle nie meer kan nie? Ek het nog my lewe lank gewerk en ek sal môre werk gaan soek as ek weet Selma kan by ’n sentrum met betroubare mense versorg word.”

* Nie haar regte naam nie

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!